Demokrasie steier in die VSA

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg – Woensdag 6 Januarie 2021 word beskryf as een van die hartseerste dae in die Amerikaanse politieke geskiedenis en ’n dwarsklap vir sy aansien as demokrasie.

Die land se oudpresident Barack Obama het getwiet: “Die geskiedenis sal tereg die geweld van vandag by die kongresgebou onthou – aangehits deur ’n sittende president wat lieg oor die uitslag van ’n wettige verkiesing – as ’n oomblik van groot oneer en skande vir ons land.”

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, beskryf die gewelddadige betogings Woensdagaand by die Amerikaanse kongresgebou in Washington D.C. as onaanvaarbaar.

By navraag aan die Amerikaanse ambassade in Namibië, het die woordvoerder, Walter Pence, Republikein na Pompeo se mediaverklaring verwys.

“Die bestorming van die kongresgebou is onaanvaarbaar. Wetteloosheid en oproer – hier en oraloor in die wêreld – is altyd onaanvaarbaar,” het Pompeo in die verklaring gesê.

Hy sê hy ondersteun altyd die reg van elke mens om vreedsaam vir hul oortuigings en kwessies te betoog.

“Maar geweld, wat die veiligheid van andere in gevaar stel, insluitende diegene wat die taak het om ons almal te beveilig, is binne en buite die land onaanvaarbaar.

“Laat ons spoedig geregtigheid laat seëvier en en die misdadigers wat aan hierdie oproer deelgeneem het, aan die pen laat ry,” het Pompeo gemaan.

Die kongres het laat Woensdagaand die proses voortgesit om die uitslag van die presidentsverkiesing te bekragtig nadat ondersteuners van pres. Donald Trump die kongresgebou bestorm het.

Vier mense is in die onluste dood en 52 beseer. ’n Vrou is in die chaos doodgeskiet, het die polisie in Washington bevestig.

Fox News het die vrou as Ashli Babbitt van Kalifornië geïdentifiseer en sê sy was vir 14 jaar in die Amerikaanse lugmag, en volgens haar man ’n Trump-ondersteuner.

Die federale speurdiens, die FBI, sê twee verdagtes met ploftoestelle is aangekeer, berig Reuters.

Trump-ondersteuners het deur vier stelle versperrings gebreek, die deure en vensters by die ingang gebreek en in die senaatsaal moles gemaak.

Die gebou is gesluit toe die ondersteuners en die kongresgebou se polisie slaags geraak het.

Trump het vroeër die dag duisende ondersteuners aangepor om na die kongresgebou op te ruk om druk op die wetgewers uit te oefen om die aangewese president Joe Biden se oorwinning om te keer.

Verskeie bedankings het ná afloop van die chaos gevolg. Matthew Pottinger, Trump se adjunk- nasionale veiligheidsraadgewer, het bedank, en Pottinger se baas, Robert O’Brien, het dit ook oorweeg. Stephanie Grisham, stafhoof van Trump se vrou Melania, het ook bedank.

25STE AMENDEMENT

Luidens berigte in die Amerikaanse media word in Trump-geledere gepraat oor die inwerkingstelling van die 25ste Amendement van die grondwet om Trump af te sit.

Dié amendement bepaal dat die visepresident en ’n meerderheid van die kabinet kan besluit om die president uit sy amp te verwyder indien hulle van mening is dat hy nie meer in staat is om sy amp uit te oefen nie.

Trump is gister op verskeie sosialemediaplatforms soos Twitter, Facebook en Instagram geblokkeer om inskrywings op te laai.

Hy het gister uiteindelik onderneem om sy kantoor op 20 Januarie te ontruim. Hy sê hy sal die oorhandiging aan Biden op ’n ordelike wyse doen.

“Hoewel ek nie heeltemal saamstem met die uitslag van die verkiesing nie, en die feite staaf wat ek gesê het, sal daar ’n ordelike oorgang op 20 Januarie wees,” sê hy in ’n verklaring.

“Dit verteenwoordig die einde van die beste eerste termyn van enige president in die geskiedenis. Dit is slegs die begin van ons stryd om Amerika weer goed te maak.”

Biden sal op 20 Januarie as die president en Kamala Harris as sy visepresident ingehuldig word.

– Bykomende bronne: Netwerk24/Reuters/Twitter

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!