Demokrate dreig IRS met hof oor Trump se opgawes
Demokrate dreig IRS met hof oor Trump se opgawes

Demokrate dreig IRS met hof oor Trump se opgawes

Demokrate in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het ’n nuwe ultimatum aan die land se belastingowerheid gestel: Oorhandig pres. Donald Trump se belastingopgawes vóór 23 April, of hulle gaan hof toe.

’n Vorige versoek deur die Demokrate dat die Internal Revenue Service (IRS) Trump se belastingopgawes voor 10 April moes oorhandig, het op dowe ore geval.

In ’n brief aan die IRS waarsku Richard Neal, voorsitter van die komitee wat by die saak betrokke is, dat die weiering om die dokumente te oorhandig kan neerkom op ’n verhindering van toegang waarop die huis geregtig is.

Die volgende stap sal wees om die saak na die federale hof te neem, sê Neal.

Die Demokrate se versoek berus op die huis van verteenwoordigers se wetlike reg om die belastingopgawes van ’n dienende Amerikaanse president aan te vra.

Steven Mnuchin, sekretaris van die tesourie, het egter Saterdag teruggekap en gesê Neal gryp na strooihalms.

Volgens Mnuchin is dit “belangrik” dat die komitee nie net lukraak ’n datum kies waarop die belastingopgawes oorhandig moet word nie, maar dat die “regte” besluite geneem word ten einde te verseker dat die IRS nie in ’n politieke wapen omskep word nie.

“Ek is van plan om die wet te gehoorsaam, maar ek dink dit opper ’n baie, baie ingewikkelde regskwessie. Dit is nie ’n eenvoudige saak nie. Daar is konstitusionele kwessies hieraan verbonde,” het Mnuchin Saterdag aan joernaliste gesê.

Hy kon nie bevestig of die tesourie, wat in beheer van die IRS is, teen 23 April aan Neal se versoek sal voldoen nie.

Mnuchin het wel vroeër die week gesê hy is bekommerd dat Neal se versoek neerkom op magsmisbruik gegewe Amerikaanse belastingbetalers se reg op privaatheid.

Elke Amerikaanse presidensiële kandidaat sedert 1976 het sy of haar belastingopgawes geopenbaar. Net Trump het dit tot dusver nie gedoen nie.

Hoewel die kandidaat nie wetlik verplig word om dit te doen nie, kan die huis van verteenwoordigers wel belastingdokumente aanvra.

Die Demokrate voer aan dié versoek is wetlik en noodsaaklik.

Een van Trump se prokureurs het gesê die versoek kom neer op “teistering”.

Die Amerikaanse president het vroeër gesê hy kan nie sy belastingopgawes uitreik nie omdat hy deur die IRS geoudit word. Die IRS het egter aangedui Trump kán sy opgawes bekend maak, al word hy geoudit. – Netwerk24/Reuters, BBC

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!