Denel-firma wil vakbonde systap
Rheinmetall Denel Munition (RDM), waarin Denel ’n 49%-aandeelhouer is, het die vakbonde met verteenwoordiging in die maatskappy in kennis gestel hul kollektiewe onderhandelingsooreenkomste word beëindig.
Dit beteken in werklikheid dat Denel, wat ’n staatsonderneming is, moontlik strydig optree teen sy werknemers se grondwetlike én arbeidsregtelike regte van assosiasie en arbeidsverteenwoordiging, het kenners dié week gesê.
Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing bepaal dat ’n vakbond met verteenwoordiging onder ’n bepaalde groep werknemers die reg het om namens hulle oor werksvoordele en -omstandighede te onderhandel.
Solidariteit, met meer as 200 lede die grootste vakbond in RDM, wag nou op ’n beslissing van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).
Volgens Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, is die vakbonde in Desember ingelig dat RDM sy ooreenkoms met hulle wil wysig. Sedertdien is vergeefs samesprekings gevoer om ’n alternatief te probeer vind.
RDM wil hê in die toekoms moet slegs werknemers wat minder as R300 000 per jaar verdien as “weerloos” beskou word. Almal wat meer verdien, mag dus nie verder deel wees van enige substantiewe onderhandelings oor werksvoordele en afleggings nie.
“RDM se redenasie is dat hy in pas met internasionale neigings behoorlike werkskontrakte sluit met diegene wat meer as R300 000 verdien. Dié kontrakte is dus waaraan hulle gemeet sal word. Die besluit is eensydig en nie hoe arbeidsgeskille in Suid-Afrika beslis word nie.
“Die reg om te staak en te beding – sou werknemers voel hulle word onregverdiglik benadeel – geld vir alle werknemers en nie net vir dié wat as ‘weerloos’ geklassifiseer word nie. In die Suid-Afrikaanse konteks is alle vlakke van werknemers weerloos en kwesbaar.
“Daar is ’n onderskeid tussen merietebeoordeling, wat binne die organisasie of maatskappy behartig word, en bedinging vir basiese voordele. By RDM word dié proses nou oënskynlik saamgevoeg en ons sê dit is nie ’n behoorlike arbeidspraktyk nie,” sê Reyneke.
Denel het navrae na RDM verwys. Norbert Schulze, uitvoerende hoof van RDM, het Rapport se versoek om kommentaar van die hand gewys, en geen redes verskaf nie.
Rheinmetall Waffe Munition van Duitsland het die beherende aandeel van 51% in RDM, wat werknemers in Somerset-Wes, Wellington, Boksburg en Potchefstroom het. Dit vervaardig hoofsaaklik ammunisie en bestempel homself as ’n “wêreldleier op die gebied van artillerie, mortiere en ander infanteriestelsels”. Sy kliëntebasis strek van Asië, die Midde-Ooste en Suid-Amerika tot in Afrika.
Volgens Solidariteit beteken RDM se skuif diegene wat minder as R300 000 verdien, kan wel nog kollektief beding, maar omdat sy ledetal vir kollektiewe bedinging met dié stap prakties met twee derdes verminder, verswak dit sy bedingingsmag, selfs vir die weerloosstes.
“Ons vrees vir wat met werknemers sonder bedingingsregte gaan gebeur as daar afleggings sou kom, want sonder enige vakbondverteenwoordiging is werknemers aan die werkgewer se genade oorgelaat.”
Volgens Nerine Kahn, voormalige uitvoerende hoof van die KVBA en tans ’n vennoot in Employment Relations Exchange, is die bedrag van R300 000 as basislyn verwarrend, omdat die minimum basiese inkomste R230 000 is.
“Die Duitse vakbondstelsel funksioneer uitstekend, maar dit is vir my vreemd dat hierdie te make het met neigings in Duitsland. Die regte van werknemers kan ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing eenvoudig nie eensydig ontneem word nie. Hierdie klink amper soos ’n aanslag op die vakbonde.
“Dit is ’n verontrustende situasie en ’n voorbeeld waar die mees basiese regte van werkers, waarvoor daar in die nuwe Suid-Afrikaanse bestel beding is, nou misken word. Dat dit boonop deur ’n staatsonderneming-vennootskap gedoen word, is bisar.”
Solidariteit wil die saak nou na die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) verwys om dit te hersien. Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie