Denel se dood is Dubai se brood
Denel se dood is Dubai se brood

Denel se dood is Dubai se brood

LMT se ontwerpers het saam met ’n vervaardiger ’n splinternuwe voertuig vir die VAE se leër ontwikkel.
Erika Gibson – Die voormalige ontwerpspan van Denel se Land Mobility Technologies (LMT) wat uitgeskouer is deur die Guptas, het in minder as twee jaar ’n reusesukses behaal met hul tegnologie wat nie “goed genoeg” was vir Denel nie.

LMT se ontwerpers het saam met Calidus, ’n vervaardiger in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), ’n splinternuwe voertuig vir dié land se leër ontwikkel.

Rapport het vroeër berig LMT was Denel se vennoot vir die Hoefysterprojek om plaaslik Badger-voertuie vir die Suid-Afrikaanse weermag te ontwikkel.

Denel het LMT vervang met VR Laser toe dit aan die Guptas verkoop is. Later het Denel-base beweer dit is omdat LMT net nie die regte vermoëns gehad het nie – dít ten spyte daarvan dat Denel 51% van LMT besit het.

Die waarnemende direkteur-generaal van die departement van openbare ondernemings, Thuto Shomang, het ’n week gelede in die parlement gesê Denel se flirtasie met VR Laser en sy beoogde Denel Asia-afdeling het dié staatsvervaardiger nagenoeg R3 miljard gekos.

Projek Hoefyster het vasgeval en VR Laser het in die hek geduik, maar LMT se ingenieurs het in die afgelope twee jaar ’n splinternuwe voertuig ontwikkel wat die afgelope week by die Idex-wapenskou in Abu Dhabi bekend gestel is.

Abu Dhabi se kroonprins, sjeik Mohammed bin Zayed, was die eerste wat by die bekendstelling die monster van ’n 8x8-voertuig, genaamd Wahash, bekyk het.

Die Wahash (“Wilde Valk”) is boonop van ’n nuwer generasie as die Badger.

Dr. Stefan Nell, voormalige aandeelhouer en uitvoerende hoof van LMT, het aanbeweeg, ADG Mobility (ADGM) op die been gebring en LMT se hele ontwerpspan saamgeneem.

“Ons was klaar weg by LMT met geen vooruitsigte van kontrakte nie toe ’n gewese werknemer van LMT wat in die VAE vir Calidus gewerk het, my kontak.

“Dit was die ideale geleentheid op die regte tyd en plek dat ons die kontrak vir die Wahash gekry het.

“Kliënte plaas nie bestellings by maatskappye nie, maar by mense ongeag vir wie hulle werk.”

ADGM het in Maart 2017 die kontrak met Calidus geteken.

Volgens Nell doen sy bestuurspan, die meerderheid van die ingenieurs en die prototipe-werkswinkeltegnici almal presies wat hulle destyds by LMT gedoen het.

“Ons het dag en nag gewerk om die produk te ontwerp,” het Nell die afgelope week gesê.

Die eerste voertuig wat by die skou uitgestal is, is in die VAE gebou. Die tweede is in Suid-Afrika vervaardig, maar in die VAE aanmekaar gesit.

Die res van die onbekende getal voertuie bestem vir die VAE-leër sal in die VAE gebou word.

Al die landmyn- en ballistiese sertifiseringstoetse vir die eerste voertuig is klaar afgehandel.

Die tweede een ondergaan tans dié toetse voordat gebruikerstoetse in die VAE ’n aanvang sal neem.

Ironies genoeg is die voertuig nou ’n mededinger vir die Finse Patria-platform vir die beoogde Suid-Afrikaanse Badger.

Projek Hoefyster is weens die weermag en Denel se benarde finansiële posisie so vertraag dat die eerste 88 van 238 voertuie op die vroegste in 2022 gelewer sal kan word. Die projek beloop sowat R9,4 miljard en die ontwikkelingswerk vir die voertuie is reeds in 2010 afgehandel.

Volgens Nell dra hy geen wrok teen Denel nie.

“Ons het twee jaar gelede geen ander keuse gehad as om aan te gaan nie – niemand kry immers ons Suid-Afrikaners onder nie.

“Die sukses van die Wahash is ’n sprekende voorbeeld daarvan.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer