Denel skuld krediteure R1,2 miljard
Denel skuld krediteure R1,2 miljard

Denel skuld krediteure R1,2 miljard

Erika Gibson – Produksie aan Denel se nommereen-projek – om nuwe gevegsvoertuie vir die weermag se ontwikkel – is weens geldtekorte tydelik opgeskort. Terselfdertyd is die kontrakteurs vir Projek Hoefyster in ’n sekondêre krisis gedompel omdat Denel hulle nie vir hul werk aan die voertuie betaal nie.

Volgens Denel skuld hy sy krediteure R1,2 miljard en dít vir betalings ouer as 120 dae. Briewe is aan kontrakteurs gestuur om vir minstens drie maande alle werk te staak.

Die krediteure vir Hoefyster, die projek vir die bou van 242 Badger-voertuie, vorm 60% van Denel Land Systems (DLS) se totale kredietboek en 30% van die groter Denel-groep s’n. Die Hoefyster-kontrak se totale waarde beloop nagenoeg R10 miljard.

“Denel skuld my R35 miljoen. Drie maande gelede het selfs gedeeltelike betalings opgedroog,” sê Johan Pienaar van SME Infratech, een van die hoofkontrakteurs.

“Ons is nie kwaad vir Denel nie, maar ons het skuld aangegaan vir materiaal volgens die stipulasies van die kontrak. Denel het ons deurlopend geïnspekteer en ons het elke aspek van die kontrak nagekom.

“Begin verlede jaar was die beplanning om teen einde vanjaar sowat 80 stelsels klaar te hê. Ons het bestellings geplaas en ons werktempo daarvolgens bepaal om minstens agt voertuie per maand te bou. En toe ontplof die bewerings oor VR Laser en sy Gupta-bande laat verlede jaar met al die bewerings van staatskaping. Ons het aangehou lewer, maar die betalings het opgedroog.”

Volgens Pam Malinda, Denel se woordvoerder, onderhandel Denel nou met Krygkor om die verskaffers vir Hoefyster direk te betaal. Denel se nuwe direksie onderhandel met die banke om vertroue in die wapenbedryf te probeer herstel en die juk van staatskaping af te skud. “ ’n Regrukplan is opgestel om ons balansstaat te herstruktureer. Deel van die plan is om staatswaarborge ook te verleng.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer