Derde halfmarathon roep drawwers na Karibib
Derde halfmarathon roep drawwers na Karibib

Derde halfmarathon roep drawwers na Karibib

Padwedlope
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die derde jaarliks QKR Namibië Navachab Goudmyn halfmarathon is bekendgestel wat op Saterdag 17 September by Karibib aangebied sal word.
Mnr. Bethold Karumendu, ministeriële sportbeampte van Omaruru-streek, het vandeesweek gesê in 2014 is die borg­skap van die Navachab goudmyn bekom. Om die byeenkoms moontlik te maak, is dié borg vanjaar weer die hoofborg met ’n tjek vir N$45 000.
Karumendu is ’n dryfveer agter sportbyeenkomste in sy streek en een van Namibië se pioniers wat nuwe lewe in padwedlope probeer blaas. Die gewildheid van die halfmarathon oor 21.1 km is ’n pluimpie in die hoed van Karumendu en meer as 300 inskrywings word vanjaar verwag.
Die ander ondersteunende borge is FNB Namibia se tak op Karibib met N$5 000 en die Karibib dorpsraad met N$6 400, terwyl Coca-Cola die drawwers se droë kele langs die pad sal help lawe om die huppel in hul treë terug te sit.
Mnr. Lion Kamishe, gemeenskapskakelbeampte van Navachab-goudmyn, het gesê die borg is trots om opnuut met die geleentheid verbind te word.
“Dit is die derde jaar dat ons by die byeenkoms betrokke is en hoop om deur middel van ons borgskap mense in Karibib en die omgewing asook die hele Namibië aan te moedig om aan sport deel te neem. ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees en ons as maatskappy wat sterk bande met die gemeen­skap het, het ’n maatskaplike plig.
“Dié byeenkoms is besig om uiters gewild te word en meer as 300 atlete word verwag om vir altesame N$45 000 in prysgeld te kom draf,” het Kamishe gesê.
Me. Vicky Muranda, groepbestuurder van kommunikasie van FNB Namibia, het gesê FNB is die mense se bank en span graag met ander rolspelers saam om mense aan te moedig om aan sport deel te neem.
“Ons is trots om as borg by die padwedloop betrokke te wees en doen ’n beroep op die gemeen­skap om aan die byeenkoms deel te neem,” het Muranda gesê.
Me. Meryl Groenewald, borgskapbestuurder van Coca-Cola, se boodskap was kort en kragtig dat hulle trots is om deel te wees. Sy het beklemtoon dat mense moet kom om die dag in heerlike son­skynweer te geniet.
Karibib is reeds besig om as gasheerdorp sy vere reg te skud om die land se langasems op Saterdag 17 September te verwelkom. Die finale kategorieë waarin mense kan deelneem, sal later in die media bekend gemaak word, asook die prysgeld wat in die onderskeie seksies gewen kan word. Inskrywingsvorms en uitnodigings sal volgende week aan klubs uitgestuur word.
Simon Shipingana van die Namibiese weermag het verlede jaar die wed­loop vir senior mans in 1 uur 8 minute 2 sekondes ingepalm toe hy Jeremia Shaliyaxwe en Mathews Kadhingula (beide Nampol) geklop het.
Alina Armas, wat tans in Rio de Janeiro is om Sondag haar land by die Olimpiese Spele in die marathon te verteenwoordig, was verlede jaar asook in 2014 die vrouekampioen en behoort terug te wees om haar titel te verdedig.
Meer inligting kan by [email protected] bekom word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!