Desember bogemiddeld nat

Die plaas Okahua in die Khomasstreek het 97,5 mm in 24 uur ontvang.
Tanja Bause
Reënneerslae vir Desember verlede jaar was grootliks bogemiddeld oor die grootste dele van die land.

Dit was net in die Suide waar ondergemiddelde reën gemeet is, lui ’n verklaring van die Namibië Meteorologiese Diens (NMS).

Die plaas Okahua in die Khomasstreek het die meeste en sterkste reën in 24 uur ontvang, naamlik 97,5 mm.

Dit word gevolg deur Ruuga in die Kavango-Wesstreek met 80 mm.

Endola in die Ohangwenastreek en Ondangwa in die Oshanastreek het beide 65,2 mm ontvang.

Die oostelike dele van die Zambezistreek het minder reën as normaalweg in Desember ontvang ná die streek bogemiddelde neerslae in November gehad het.

By Berseba in die Suide is 35 mm vir Desember gemeet, terwyl die gemiddeld 6,4 mm is. Sowat 450% meer reën is dus gemeet. Ook op Aroab is 245 % meer reën as normaalweg gemeet – 23 mm teenoor die gemiddeld van 6,7 mm.

Op Katima Mulilo in die Zambezistreek is 54,6 mm reën gemeet teenoor die gemiddeld van 154,9 mm.

Dit behels dus 65% minder reën.

By die Okashana-landboukollege in die Oshikotostreek is ook 65 % minder reën gemeet.

By slegs twee stasies was die verskil gering.

By Sibinda in die Zambezistreek is 150 mm vir die seisoen gemeet, terwyl die langtermyngemiddeld 160,5 mm is – ’n geringe afname van 7%.

By Ncamagoro in Kavango-Wes is 79,6 mm gemeet, terwyl die gemiddeld 74 mm is.

Dit is ’n effense toename van 8%.

Die hoogste reënval vir Desember is in die Khomasstreek op die plaas Okahua gemeet, naamlik 205,5 mm.

Die laagste reënval – ’n skrale 6 mm – is op Ariamsvlei in die Suide gemeet.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer