'Desentraliseer gesondheidsdienste'

Drie dekades ná onafhanklik­wording het Namibië nie 'n dialisesentrum onder die vaandel van die staat nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



'n Gesonde samelewing vereis gepaste mediese infrastruktuur, mediese toerusting en materiaal, met ordentlik opgeleide en goed gemotiveerde mediese perso­neel op primêre, sekondêre en tersiêre gesondheidsvlakke.

Volgens die president van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Mike Kavekotora, is geen van bogenoemde in Namibië op gelyke voet met internasionale standaarde nie.

“Ons dokter-tot-pasiënt-koers is onder standaard en is nog slegter op plaaslike vlakke waar een dokter meer as 5 000 pasiënte per jaar behandel,” het hy by navraag gesê.

Kavekotora het die “kommerwekkende skaarste” aan sowel mediese voorrade en geriewe as mediese personeel op plaaslike vlakke uitgewys.

“Alle sektore van die mediese voorradeketting moet geherstruktureer word,” het hy gemaan.

Intussen sê me. Winnie Moongo, die Popular Democratic Movement (PDM) se skaduminister van gesondheid, meer moet op streekvlak gedoen word. Volgens Moongo is daar 30 jaar ná onafhanklikwording steeds net een verwysingshospitaal wat gespesialiseerde dienste lewer en wat in Windhoek gesetel is.

“Daar is 'n behoefte om gespesialiseerde dienste oral in die land te desentraliseer. Daar is 'n behoefte om dié dienste nader aan die mense te bring en sodoende die toestroming van pasiënte te voorkom en die werkslading van die Windhoek Sentrale Hospitaal te verlig wat reeds onderbeman en die enigste nasionale verwysingshospitaal in die land sedert onafhank­likwording is,” het Moongo gesê.

Volgens haar noodsaak die bevolkingsgroei ook die ontwikkeling en desentralisering van gesondheidsdienste.

Die party en Moongo stel voor die “verouderde” personeelkorps van die ministerie van gesondheid en maat­skaplike dienste moet hersien word om die las van die huidige koers van verpleegsters tot pasiënte, sowel as die van dokters en pasiënte, te verlig.

“Meer programme word daagliks bekend gestel, maar die personeelkorps bly dieselfde. Dié wat weens die Covid-19-pandemie gewerf is, is bykomende poste,” het sy gesê.

Moongo het ook verwys na die kommerwekkende styging in pasiënte in die land met nierversaking. Tog het die regering geen staatsbeheerde dialisesentrum nie en gaan geld “in die naam van openbare-private-vennootskap” vir die private dialisesentrum om in die behoefte van staatspasiënte te voorsien “omdat ons niks van ons eie het nie”.

“Dit is kommerwekkend, dit is verkeerd en lankal nodig en behoort 30 jaar ná onafhanklikwording nie die geval te wees nie,” het sy gesê.

Sy beklemtoon die PDM se manifes is baie duidelik oor hervorming en dienslewering in die gesondheid­sektor.

“Ons sal onverpoos baklei om te verseker elke enkele kiesafdeling het ten minste een kliniek.”

Volgens Moongo sal die party se streekraadslede die sentrale regering betrek om skeepsvraghouers aan te koop wat in klein klinieke omskep en wat op hul beurt in kiesafdelings gebruik kan word.

“Ons sal werklose gesondheidswerkers ondersteun om werksgeleenthede, kennis en vaardighede in noodsaaklike velde te bekom waarin die ministerie tans 'n tekort ondervind.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!