Desert Dash bevestig
Desert Dash bevestig

Desert Dash bevestig

Honderde deelnemers uit die buiteland is bestem om by die wegspringstreep aan te tree.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



“Laat die boodskap oor die wêreld heen weerklink: die 2020 Nedbank Desert Dash is amptelik aan en sal op Vrydag 11 Desember soos gebruiklik in Windhoek wegspring en 24 uur later op Swakopmund eindig,” is die gevleuelde woorde van mnr. Gernot de Klerk van Nedbank Namibia.

Medeborge, die media en eregaste soos minister Agnes Tjongarero van sport, jeug en nasionale diens was gister by die amptelike bekendstelling van die ikoniese eendaagse bergfietsresies oor 373 kilometer deur die woestyn, wat jaarliks ook stewige getalle ryers van buite die landsgrense lok.

Gister het Tjongarero as deel van haar voorbereide toespraak gesê uit die nagenoeg duisend ryers sal sowat 35 persent besprekings deur buitelanders wees.

“Omtrent 290 fietsryers het Suid-Afrikaanse burgerskap, terwyl Duitsland en die Verenigde Koninkryk onderskeidelik 18 en 12 verteenwoordigers het.”

Ander Afrika-lande van waar ryers die reis na Namibië sal onderneem, is Botswana, Malawi, Angola, Zimbabwe en Kongo, terwyl die Desert Dash ook aftrek uit Oostenryk, Kanada, Spanje en Portugal gekry het.

Die verdedigende solo-manskampioen, Konny Looser van Switserland, sal opnuut sy versameling titels wil kom vermeerder.

Uit die Namibiese oogpunt is ver­skeie gedugte tweemanspanne saamgestel, insluitend Dan Craven (driemalige Olimpiese padfietsryer wat ook vir volgende jaar se Tokio Spele gekwalifiseer het) saam met Tristan de Lange (2019 Afrika Spele-bergfietskampioen).

Alex Miller, die nasionale bergfietskampioen en uitverkorene om sy Olimpiese debuut in Tokio te maak, sal in 'n tweemanspan met Braam Vermeulen saamwerk.

“Voordat die eerste Desert Dash gehou is, was dit ondenkbaar dat enigiemand vanaf Windhoek tot in Swakopmund sou fietsry. Dit het egter gegroei tot hierdie geleentheid van nasionale belang.

“Elke ryer wat inskryf, is reeds 'n kampioen,” het Tjongarero gesê.



VASGEKNOOP

“Daar was 'n paar weke (tydens die Covid-19 noodtoestand) waarin ons nie met absolute sekerheid sou kon sê of ons 'n 2020-weergawe van die Nedbank Desert Dash sou kon aanbied nie, maar vandag kan ons die nuutste inligting met almal deel,” sê Nedbank Namibia se besturende direkteur, me. Martha Murorua.

Die solo-resies sal 212 ryers bevat, van wie 18 vroue is. Dit is afgesien van die spanne van twee (126) en spanne van vier (134) wat hul in­skrywings verseker het.

Murorua het haar waardering uitgespreek teenoor die medeborge Indongo Toyota, SuperSpar en Bokomo vir hul onmisbare bydrae tot die jaarlikse sukses, asook teenoor die munisipale owerhede van Windhoek en Swakopmund, spesifiek die verkeerspolisie wat ryers se veiligheid help reguleer.



INDIVIDUELE PRESTASIE

As voormalige deelnemer en later ook drywer van 'n ondersteuningsvoertuig weet hy presies waaroor die Desert Dash gaan, het mnr. Willie Verdoes, van die medeborg Indongo Toyota, gesê.

“Elke deelnemer is bevoorreg. Dié is nie 'n taak wat jy sonder voorbereiding kan aanpak nie. Jy kan elke uitdaging in bergfietsry verwag – klippe, stof, wildlewe, middaghitte en koue tydens die nagtelike ure.

“Om die eindstreep te haal, is 'n prestasie wat niemand kan wegneem of namens jou kan doen nie. As jy dié oorleef, is dit 'n goeie teken vir vele ander aspekte van jou lewe.”

Mnr. Greg Chase van SuperSpar het gesê hoewel Wecke & Voigts met sy eerste winkels in 1982 'n langer geskiedenis as die Dash het, is hul waardes in ooreenstemming.

Chase sal self ook die volle afstand as solo-ryer aandurf. “Elke Dash begin met vriendskap en kameraderie, voordat die ernstige besef van die fisieke en verstandelike uitdaging inskop. Die gevoel van prestasie by die eindstreep is ongeëwenaard.”

Mnr. Gielie van Zyl van Bokomo Namibië sê die maatskappy is trots om vir die eerste keer as medeborg toe te tree.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer