Desert Jewels slyp vir RSA-toernooi

Die nasionale groep se eerste amptelike oefenkamp begin komende naweek.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Netbal Namibië het 30 uitsoekspelers genooi om komende naweek in die hoofstad aan 'n oefenkamp deel te neem in die opbou na die Spar-uitdaagtoernooi volgende maand in Kaapstad.

Die beheerliggaam het 'n uitnodiging ontvang om vanaf 24 tot 31 Maart die buurland se nasionale span, die Proteas, die gedugte Uganda, 'n SA Presidentspan en die SA o.21-span die stryd aan te sê.

Hoewel Netbal Namibië nog 'n finale besluit oor sy deelname moet aankondig, het die afrigter van Namibië se Desert Jewels, me. Julene Meyer, gesê die spelers se voorbereiding begin komende naweek.

By dié eerste oefenkamp sal op die evaluering van spelers se fiksheid, posisionele spesialisvaardighede en baanwerkvaardighede gefokus word.

“Ons beplanning is om uit die aanvanklike 30-tal die groep tot 18 te snoei. Die finale toerspan sal twaalf spelers wees, aangevul deur drie nie-reisende plaasvervangers wat in noodgevalle betrek sal word, en nog drie oefenspelers.”

Meyer sê hoewel alle plaaslike kompeterende netbal vroeg verlede jaar ná die aankoms van Covid-19 in Namibië geskrap is, het die topspelers nietemin deurentyd geoefen.

“Sedert die inperking is die oefeninge stelselmatig uitgebrei van een-teen-een, tot klein groepies en later oefensessies sonder kontak.

“Die virus sal seker nog lank 'n aanwesige bedreiging bly, maar ons werk binne die bepaalde veiligheidsreëls en spelers se veiligheid bly die eerste prioriteit.”

Die afrigter sê die kerngroep spelers wat onder haar leiding die 2019 M1-toernooi in Singapoer gewen het, is na die naweek se oefenkamp genooi. Agt van die topspelers wat verlede jaar geïdentifiseer is, asook sewe belowende spelers uit verlede jaar se gekanselleerde o.21 Afrika-toernooi (wat ter kwalifisering vir die Wêreldbeker sou dien) sal ook die naweek aan die kamp deelneem.

Twee Namibiërs wat op provinsiale vlak in Suid-Afrika se Telkom-reeks meeding, het ook uitnodigings na die oefenkamp aanvaar. Hulle is Susan van Zyl van die Wes-Kaapse Tornadoes, asook Juzelri Garbers van die Gauteng Golden Fireballs.

Een 2019-spanlid buite rekening is Diana Tjejamba, wat tans in Engeland ingeperk is.

Namibië sal bitter graag 'n goeie vertoning by die Spar Uitdaagreeks wil lewer, om sy posisie op die wêreldranglys verder te verbeter.

“Die naweek se genooide groep kon nie groter as 30 wees nie, om aan die huidige Covid-beperking te voldoen en steeds die afrigters, keurders, skeidsregters en toetspersoneel ook by te reken,” sê Meyer.

“Sodra die pandemie-toestande dit toelaat, sal ons graag meer uitgebreide en oop proewe wil aanbied. Ons hoop is dat proewe in April sal kan geskied, in die opbou na die volgende internasionale Pent-toernooi in Namibië.”

Van môrenamiddag vieruur tot Sondagoggend sal die bane van Wanderers vir die oefenkamp gebruik word, terwyl fiksheidstoetse Saterdagoggend by die Onafhanklikheidstadion geskeduleer is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!