Desert Jewels stel strategiese doelwit
Desert Jewels stel strategiese doelwit

Desert Jewels stel strategiese doelwit

Netbal
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Debmarine Namibia het gister gewys hoe vierkantig hy agter Netbal Namibië staan, met die oorhandiging van N$500 000 vir die nasionale netbalspan se komende toer na Singapoer.

Die borgoorhandiging deur die waarnemende uitvoerende hoof, mnr. Willy Mertens, dek onder meer die span se vliegkaartjies, uitrusting, maaltye en spelersvergoeding.

Die Namibiese Desert Jewels, onder die kapteinskap van Jatjinda (Toetsie) Kambatuka, begin speel komende Sondag in die weeklange Singapoer Nasiesbekertoernooi.

“Vanweë die Wêreldbeker en die Wêreldnetbalkongres het Netbal Namibië gesukkel om waardige opposisie vir die jaarlikse Debmarine Pent-toernooi in Windhoek te vind. Hulle het ons dus met die alternatiewe voorstel genader om hul deelname in Singapoer te borg, as 'n kans vir die span om sy posisie in wêreldnetbal te verbeter,” het Mertens gesê.

“Niks verskaf ons meer genot as geleenthede soos hierdie nie – om vroue en meisies te ondersteun, is nie net die regte ding om te doen nie, maar ook goeie sakebeleid vir ons. Ek hoop en glo dat ons borgskap oor die laaste drie jaar die geleentheid aan die vasberade, vaardige en passievolle vroue van ons land gebied het om hul streek en hul land te verteenwoordig.”

Die Namibiese Sportkommissie se hoofadministrateur, mnr. Freddy Mwiya, het gesê Netbal Namibië se verduideliking is aanvaar hoekom hy dié toernooi verkies het in sy strewe om punte op die wêreldranglys in te samel, eerder as om aan die Afrika-kampioenskap deel te neem wat vandag in Pretoria begin.

“Dit is moeilike ekonomiese tye vir almal, maar Debmarine gaan uit sy pad as 'n ondersteuner van Namibiese netbal. Netbal is een van die land se voorkeursporte en is waardig om met hulpbronne ondersteun te word.

Netbal Namibië se visepresident, me. Rebekka Goagoses, sê die Singapoer-toernooi is nie net vir die nasionale span se opgang 'n strategiese geleentheid nie, maar individuele uitblinkers het ook 'n kans om raakgesien te word deur beroepspanne waar hulle verder aan hul spel kan slyp, tot voordeel van die sport in Namibië.

Die Namibiese toerspan is: Jatjinda (Toetsie) Kambatuka (kaptein), Zauana (Bytjie) Jaumbuaije, Anna Kaspar, Vehonga Ndjitaviua, Imbileni Frans, Leandri van der Walt, Loide Hanyanya, Venyekerera Maharero, Anna Shipanga, Cathline Tjihero, Emmy Kutako, Diana Tjejamba.

Die hoofafrigter is Julene Meyer, met Antoinette Wentworth en Chrisna Alberts as hulpafrigters en Ella du Plessis as spanbestuurder.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer