Desert Lion Energy gaan litium na China uitvoer
Desert Lion Energy gaan litium na China uitvoer

Desert Lion Energy gaan litium na China uitvoer

Ontginning het op ‘n regeringsplaas begin alhoewel geen toekenning nog gemaak is nie.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - NamPort sal in die middel van April die uitvoer van 30 000 ton litiumkonsentraat na China fasiliteer en verwag dat dieselfde hoeveelheid elke ses weke daarna uitgevoer sal word.

Die eerste besending was veronderstel om Namibië gedurende Maart te verlaat, maar NamPort sê Desert Lion Energy, die maatskappy wat die litiumkonsentraat uitvoer, is nog besig om die eerste 30 000 ton voorraad op te bou.

Litiumkonsentraat word gewoonlik in die produksie van batterye, glas, smeermiddels en die behandeling van lug gebruik.

Desert Lion Energy, in vennootskap met die Namibiese maatskappy !Huni-/Urib Investments wat aan mnre. Thomas Mushimba en Mark Welthagen behoort, word op ‘n gedeelte van die plaas Okongava in die Erongostreek gemyn.

Die Kanadese president en uitvoerende hoof van Desert Lion Energy, mnr. Tim Johnston, het verlede week gesê die maatskappy, wat sy eksklusiewe prospekteerlisensies (EPL’e) in Februarie verlede jaar ontvang het, is nog besig met die herwinning van opgehoopte materiaal van die ou Rubicon- en Helikon-litiummyn.

Die Kanadees-gebaseerde mnr. Silasha Ilyas van Desert Lion is deur NamPort aangehaal dat hy gesê het die litiumkonsentraat sal vir batterye gebruik word. Groei van tussen 65% en 70% word vir dié mark voorspel.

“Die oorhoofse mark (vir litiumkonsentraat) is tans 200 000 ton en daar is konsensus dat die aanvraag tot 800 000 ton teen 2025 sal styg,” het Ilyas gesê.

Terwyl Desert Lion Energy besig is met voorbereiding van sy eerste besending litiumkonsentraat wat op die plaas Okongava gemyn word, bly die wettige besetting van die plaas omstrede.

ONAFGEHANDELDE SAKE

Omstredenheid duur voort oor die besetting van die plaas van meer as 15 000 hektaar en waar Desert Lion Engery sy EPL'e het.

“Die plaas Okongava was vir ons ‘n kopseer sedert dit aangeskaf is,” het ‘n woordvoerder van die ministerie van grondhervorming, mnr. Chrispin Matongela, verlede maand gesê.

Desert Lion Energy sê op sy webtuiste hy het ooreengekom om C$180 000 (meer as N$1,5 miljoen teen die huidige wisselkoers) vir elk van die EPL'e te betaal.

Matongela sê die ministerie het die plaas nog aan niemand toegeken nie en dat lede van die Tsoaxudaman Tradisionele Owerheid “doodeenvoudig gedeeltes van die plaas beset het”.

Terwyl Mushimba vroeër gesê het Desert Lion Energy is slegs op ‘n klein gedeelte van die plaas, het Johnston verlede week gesê hulle beset 50% daarvan.

TSOAXUDAMAN MAAK AANSPRAAK

Die Tsoaxudaman maak op hul beurt aanspraak op die plaas vanweë ‘n ooreenkoms wat met die voormalige minister van grondhervorming, mnr. Alpheus !Naruseb, gesluit is om dit in die Otjimbingwe kommunale gebied te inkorporeer.

Matongela sê die versoek van die tradisionele owerheid dat die plaas in die Otjimbingwe-gebied ingesluit word, is “nooit geformaliseer nie”. Hy sê die Tsoaxudaman het intussen voortgegaan en die plaas in kleiner eenhede afgebaken, en administreer dit as deel van die kommunale gebied “selfs in die afwesigheid van enige amptelike korrespondensie wat die plaas as deel van Otjimbingwe erken”.

“Die families is steeds op die plaas en het nie verskuif nie, alhoewel hulle ‘n uitsettingsbevel ontvang het,” het Matongela gesê.

Volgens Matongela het Desert Lion Energy ook onafgehandelde sake met die ministerie.

Matongela sê die ministerie het “intussen vasgestel dat mynbou-operasies op die plaas aan die gang is,” wat hy erken ‘n “groot gedeelte” van die plaas beset en wat deur Desert Lion Energy omhein is.

Hy sê die maatskappy doen ontbossing vir paaie en boor sinkgate sonder die toestemming van die ministerie.

“Die ministerie het vrugteloos probeer om dokumentasie of lisensies van die maatskappy te kry,” het Matongela gesê.

Mushimba het geweier om kommentaar te lewer en het alle navrae na Johnston verwys wat Matongela se aansprake verwerp het.

Johnston sê Desert Lion Energy het inderdaad verlede jaar briewe van die permanente sektretaris, mnr. Peter Amutenya, gekry wat toestemming aan hulle verleen.

Matongela was Vrydag nog in die duister en het gesê Mushimba het onderneem om hom binnekort van die nodige dokumentasie te voorsien.

Op Desert Lion Energy se webtuiste word Johnston aangehaal wat sê die maatskappy sal van die eerste produksie van litium hervorm word van ‘n litium-ontginner en ontwikkelaar tot ‘n produsent. Hy beskryf dit as Namibië se eerste grootskaalse litiummynbou-operasie.

Volgens die webtuiste sal produksie van litium uit erts in die tweede helfte van 2019 begin. Die maatskappy sê die produksieskedule is gegrond op die voorlopige ekonomiese ontleding, wat die maatskappy beplan om in die tweede kwartaal van 2018 te publiseer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!