Deur vullis oorweldig

Township deur vuilheid en onhigiëniese toestande gekenmerk
Gerine Hoff
Kakunawe Shinana – Tydens ’n onlangse besoek aan die township, het gemeenskapslede gesê hulle is moeg daarvoor om te stem om mense te bemagtig wat hulle as inwoners se belange nie op die hart dra nie. Daarom dreig hulle om in November die verkiesings vir streeks- en plaaslike owerhede te boikot.
Tussen die woede en frustrasie heers ’n gevoel van hopeloosheid onder die inwoners wat geen vooruitsigte het nie, met baie wat ’n toevlug in alkohol gevind het. Vir hulle is ’n besoek aan die naaste sjebeen ’n daaglikse hoogtepunt.
Inwoners beweer munisipale raadslede wat te danke aan hul stemme deur die regering getaak is om na inwoners se behoeftes om te sien, nie eens die township besoek of vergaderings met die gemeenskap hou om kwessies te bespreek wat hulle raak nie.
“Ons het nog glad nie die burgemeester gesien ná hy verkies is nie. Voor dit het ons hom gereeld gesien. Die raadslede kom ook nie hierheen nie. Hoekom moet hulle? Hulle weet die plek is vieslik vuil en hulle kan dit nie verdra nie. Die mense by die munisipaliteit doen nie hul werk nie. Wat presies is ’n raadslid se werk? Soweto is die enigste erkende township op Tsumeb, maar niks word gedoen om ons omstandighede te verbeter nie,” het 'n inwoner, me. Penehupifo Petrus, gesê.
Vir baie jare was Tsumeb as die mooiste dorp in die land beskryf. Wanneer jy inry is die strate skoon, die grasperke netjies gesny met bome en kleurvolle blomme wat die lanings versier.
Maar Soweto, met ’n beraamde bevolking van sowat 4 000 mense, is gekenmerk deur vuilheid en onhigiëniese toestande, met die paaie wat deur riool oorstroom word wat uit die vyf kommunale toilette gespoel het en wat ook as waterpunte dien wat deur die duisende mense gedeel word wat daar woon.
As jy Soweto binnery, is dit ’n oorweldigende stank wat jou eerste tegemoetkom, maar dit blyk asof die inwoners al daaraan gewoond geraak het.
Die toilette is in ’n vervalle toestand en spoel glad nie meer nie, en mense gebruik nou die vloere om te ontlas. Ten spyte van die gemors, gebruik kinders hierdie selfde vloer om op te bad en die jongers kinders speel op die vullishoop wat buite die toiletgebou ophoop – skynbaar onbewus van hoe benard hul lewensomstandighede is.
Mense het plakkershuise opgeslaan waar daar ’n plekkie is; sommige selfs regs langs die toilette. Daar is glad nie ’n rioolstelsel nie. Na 25 jaar is die verval in die township heeltemal onverstaanbaar.
Me. Kapena Mathias woon al die afgelope drie jaar in Soweto. Omdat sy nie ’n ander plekkie gekry het om haar huisie op te slaan nie, het sy haarself langs die toilette gevestig waar sy en haar kinders nou woon. Haar opslaanhuisie deel ’n muur met die toilet. Dit is ook hier waar sy kapana kook wat sy aan die plaaslike gemeenskap verkoop.
“Ek het nêrens anders gehad nie, so ek het maar hierheen gekom. Ek het nie werk nie, so ek verkoop kapana om te oorleef. Mense hier is gewoond aan die reuk en hulle koop graag by my. Dit is net moeilik om mense van buite te kry om my kapana te koop, omdat hulle gewalg is deur wat rondom my is. Enige mens sal so voel. Geen mens behoort in toestande soos hierdie te leef nie,” het Mathias gesê.
Nog ’n inwoner, mnr. Mathias Paulus, verkoop vleis uit sy snoepwinkel wat ook langs die toilette is. Die vleis wat hy verkoop, hang aan ’n draad en dit oortrek van brommers wat behalwe vir die reuk van vleis, ook deur die toilette se stank gelok word.
“Daar is baie ellende hier in Soweto. As jy rondom jou kyk en sien van waar ons handeldryf, sien die munisipaliteit nie om na sy mense nie. Watter nuwe ontwikkelings het die munisipaliteit in hierdie township gedoen sedert onafhanklikwording? Ons wil hê die regering moet hier kom kyk. Die mense by die munisipaliteit faal baie duidelik,” het Paulus gesê.
Volgens Tsumeb se burgemeester, mnr. Linekeela Sheetekala, staar die dorp baie uitdagings in die gesig weens die invloei van mense wat op die myndorp kom werk soek. Sowat 500 mense per jaar kom vestig hulle op die dorp. In die 2011-bevolkingsopname het daar sowat 19 000 mense op Tsumeb gewoon.
“Soweto was Tsumeb se eerste nedersetting en die raad maak werk daarvan om die huidige situasie te verbeter. Mense in Soweto kla, maar hulle betaal nie vir dienste nie. Die rioolstelsel is heeltemal ontoereikend en weens ekonomiese redes kon ons tot op hede nie aan die situasie aandag skenk nie. Ons werk egter daaraan om diensvoorsiening te verbeter. Daar is ook planne om van die mense elders te hervestig en ons is in die proses om grond te diens.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer