Deure na eie krag bietjie wyer oop
Deure na eie krag bietjie wyer oop

Deure na eie krag bietjie wyer oop

Projekte van 1 MW en groter moet deur verskeie rompslomp ploeg om 'n kragopwekkings­lisensie te kry.
Francois Williams - Jeff Radebe, minister van energie, is die afgelope week lof toegeswaai vir sy brief aan die nasionale energiereguleerder (Nersa) wat die deur vir mense 'n bietjie wyer oopmaak om hul eie krag op te wek.

Radebe het Nersa gevra om op te skud met die goedkeuring van klein­skaalse kragopwekkingsprojekte waarvoor talle ondernemings, insluitende boere, aansoek gedoen het.

Dié aansoeke haak by Nersa vas weens verouderde regulasies wat vereis dat die aansoeker ook eers toestemming by die minister moet kry. Radebe het nou verklaar dat hy afwykings van dié regulasies sal toelaat.

Engineering News berig daar is volgens die Suid-Afrikaanse Vereniging van Onafhanklike Kragprodusente tussen 2 500 MW en 3 500 MW se kleinskaalse kragprojekte wat wag vir goedkeuring. Kleinskaalse kragprojekte is aanlegte wat gebou word vir eie gebruik. Die krag word nie aan Eskom verkoop nie.

Projekte van minder as 1 MW hoef nie 'n lisensie by Nersa te kry nie maar moet steeds registreer.

Projekte van 1 MW en groter moet egter deur verskeie rompslomp ploeg om 'n kragopwekkingslisensie en ander goedkeurings te kry.

Die landbou-organisasie Agri SA het al voor die verkiesing verlede week gekla oor 17 projekte van boere wat hul eie krag wil opwek wat steeds in Nersa se administratiewe doolhof vassit. Nersa het ná 10 dae steeds nie navrae hieroor beantwoord nie.

Die Suid-Afrikaanse Windenergievereniging (Sawea) het Radebe se versoek aan Nersa verwelkom.

Sawea se eie studies toon vir elke 50 MW se kleinskaalse windkragprojekte kan 207 konstruksiewerks­geleenthede per jaar en 127 permanente poste geskep word.

As die windkragbedryf oor 'n tienjaartydperk 50 MW per jaar van sulke klein projekte kan bou, kan dit 4 840 nuwe poste skep.

Sawea sê as Nersa die vertraagde projekte lisensieer sal dit die Suid-Afrikaanse elektrisiteitsbedryf verder desentraliseer en demokratiseer.

Ntombifuthi Ntuli, raadslid van Sawea en navorsingsleier by die WNNR se energiesentrum, sê die mark vir kleinskaalse groenkrag kan tot industrialisering bydra.

Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se sentrum vir ekonomiese en handels­uitnemendheid, het vroeër gesê dit is onaanvaarbaar dat boere wat hul deel wil doen om die druk op die kragnetwerk te verlig, nie toe­gelaat kan word om dit te doen nie.

'n Konsep-weergawe van die geïntegreerde hulpbronplan wat die bloudruk is vir die land se kragverskaffing tot 2050, maak voorsiening vir 500 MW se kleinskaalse ­kragprojekte per jaar.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!