Deurry-toetsfasiliteit nou oop

Tanja Bause
Tanja Bause – Namib Laboratories het ’n deurry-toetsfasiliteit vir Covid-19 by die Wanderers-sportklub in Pionierspark, Windhoek opgestel.

Die fasiliteit is Maandae tot Donderdae vanaf 07:00 tot 19:00 oop, asook op Vrydae vanaf 07:00 tot 13:00. Twee soorte toetse kan gedoen word, waarvan die een N$980 kos en die uitslag is ná sowat 24 uur beskikbaar. Die alternatief is ’n kitstoets wat N$3 500 kos, maar wat slegs in die voormiddae uitgevoer word ten einde die uitslag dieselfde dag beskikbaar te hê.

Volgens me. Charmaine Coetzee wat die administratiewe werk by die deurry-fasiliteit hanteer, kan mense die vorms van die internet aflaai, invul en saambring.

“Die belangrikste om in te vul, is e-posadresse, kontaknommer en watter toets ons moet doen. Mense kom aangery en ons maak seker die vorm is reg ingevul, of ons vul een in. Die kliënt doen die betaling en ry vorentoe waar die susters die toets voltooi en hulle ry deur en verlaat die sportterrein. Die kliënt hoef nooit die voertuig te verlaat nie,” het sy gesê.

Namib Laboratories is ’n entiteit van Feedmaster, wat in 2018 gestig is en tans alle mikrobiologiese, serologiese en PCR-verwante diagnostiese toetse vir die Namib Mills-groep doen.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer