Deysel toer nie saam na Europa

Ná drie onttrekkings is daar nou ses toerlede wat dalk vir hul toetsdebuut oorweeg kan word.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Nog drie nuwelinge sonder toetsondervinding is as plaasvervangers nader geroep vir die Namibiese rugbytoer na Europa volgende maand.

Die senter Johan Deysel, die huidige nasionale kaptein wat vanjaar die span se suksesvolle kwalifisering vir die 2019 Wêreldbeker gelei het, is een van die onttrekkings vandat die toerspan aangekondig is.

Deysel se aansluiting by die Franse klub Colomiers, vanaf die Natalse Haaie, is in September aangekondig.

Hy het egter tans net ’n eenjaarkontrak omdat hy as bystand vir ’n beseerde speler betrek is, met die hoop dat dit tot ’n langer kontrak sal lei. Die 27-jarige veteraan van 22 toetse word dus die kans gegun om hom behoorlik by sy nuwe werkgewers in te grawe, soos ook die geval is met verskeie ander Namibiese staatmakers wat professionele kontrakte by buitelandse klubs het.

Met die verwagting van heelwat toetsrugby in 2019 as Wêreldbekerjaar, is Namibië ywerig om ’n goeie werkverhouding met die klubs en unies te behou waar sy beroepspelers gebaseer is.

Teen gister was geen nuwe toerkaptein nog aangewys nie. Beide Deysel se vorige twee voorgangers as nasionale kaptein, die flank Rohan Kitshoff en agtsteman Renaldo Bothma, is beide in afrigter Phil Davies se toergroep, hoewel die Wallieser sover nog sy kaarte naby die bors hou.

In Deysel se plek is die jong losskakel van die Nelson Mandela Universiteit, Henrique Olivier, vir die eerste keer nader geroep om by die senior nasionale groep aan te sluit.

Olivier was in 2015 nog vars uit die skoolbanke van Windhoek Gimnasium, toe hy hom as die eerste keuse in die 10-trui vir die destydse FNB Welwitschias se aanslag op die Vodacombekerreeks bevind het. Die Namibiërs is van begin tot einde oordonder en Olivier het ewe swaar gelewe, maar hy het nie tou opgegooi nie.

As 22-jarige het Olivier hom intussen in die Namibiese o.20-span laat geld en het ook as lid van FNB Unam se kampioenspan sy selfvertroue ten volle herwin. Hy het vanjaar ook ’n paar maal sy kans in die beginspan van die Madibaz (NMMU) in die Varsitybekerreeks aangegryp.

Olivier, wat reeds sedert sy skooldae die bynaam “Fluffy” het, is vanaf die kortlys nader geroep in die plek van Deysel, wat sedert sy WHS-dae “Buffy” genoem word.

Met Cliven Loubser (Tuks), PW Steenkamp (Universiteit Johannesburg) en TC Kisting (Luctonians, Engeland) as die ander opsies in die losskakel-posisie wat reeds toetsrugby geproe het, sal dit insiggewend wees hoedat Olivier op die toer aangewend word.

VOORLANGS

Onder die voorspelers moes Adriaan Booysen (agtsteman van FNB Wanderers) en Unam se slot Mahepisa Tjeriko hulle ook uit die toerspan onttrek.

Booysen skryf eksamens, terwyl Tjeriko las van ’n kniebesering het. Die twee belowende spelers sal dus nie vanjaar voortbou op hul drie en elf toetse sover onderskeidelik nie.

Booysen en Tjeriko se plekke word onderskeidelik ingeneem deur Prince !Gaoseb en Adriaan Ludick, wat vanjaar beide in hul tweede jaar as o.20-spelers was.

!Gaoseb was verlede jaar die nasionale junior span se kaptein na die Wêreldrugby Onder 20 trofee-toernooi in Uruguay. Sy eerste oproep na die senior nasionale groep was juis in November laas jaar toe Uruguay vir twee toetse hier kom toer het, hoewel die oudspeler van WHS vanaf die reserwebank nie opgestuur is nie.

!Gaoseb is vanjaar nie deur die Blou Bulle se junior afrigters vrygestel toe die Namibiese o.20’s na Roemenië getoer het nie, maar is nietemin bekend as ’n tipiese hardwerkende Namibiese flank wat vir geen fisieke uitdaging terugdeins nie.

Adriaan Ludick was tot vroeër vanjaar ook aan die Blou Bulle verbonde, maar het intussen na Windhoek teruggekeer en saam met die nasionale groep geoefen. Sy ouer broer Ruan (Skroef) en Tjiuee Uanivi is die ander twee slotte wat vir die November-toer gekies is.

Olivier, !Gaoseb en Ludick bring die getal toerlede sonder toetsondervinding op ses te staan. Die ander is die vleuel van Wanderers, Janry du Toit; die o.21-skrumskakel van die Luiperds, Wihan von Wielligh, en Chad Plato, o.20-heelagter van Namibië en die Blou Bulle.

Namibië open sy toer op 10 November teen Rusland in Sochi. Die Russe word afgerig deur Lyn Jones, die Wallieser wat tot vroeg vanjaar aan die stuur van die Windhoek Draught Welwitschias was en intussen die aanbod aanvaar het om hulle na die 2019 Wêreldbeker te lei.

Op 17 November lê ’n toets teen Spanje in Madrid voor en ’n week later word die seisoen teen Portugal in Lissabon afgesluit.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer