Dié 240 km is nét die oefenlopie voor Dash

Omkring solank die eerste naweek van November 2018 en maak seker jy mis nie die volgende een nie.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Die sesde G2R Burn-bergfiets­marathon oor 240 km is onlangs by Gochas aangebied waar die organiseerders Karmen en Phil van Wyk 'n gastehuis bedryf.

Die Van Wyks is deur die bank fietsryers en vertel tong in die kies dat van hulle beter as die ander is.

“Ons het ses jaar gelede vir die eerste keer ernstig aan die Nedbank Desert Dash deelgeneem en daarna 'n plan beraam om 'n byeenkoms op die been te bring waar ryers vooraf kilometers in die bene kan kry en hul fiksheid terselfdertyd kan meet.

“Met die Dash wat skaars 'n maand later plaasvind, is dié kompetisie met sy uitdagende terrein geskik om jouself te toets.

“Hoewel die afstand van Windhoek na Gochas redelik ver is en dit 'n invloed op die getal inskrywings het, is dit tog die moeite werd om van die uitstappie 'n heerlike gesinsnaweek saam met familie in die Kalahari te maak. Die rustigheid en skoon lug onder die sterre in 'n plaasatmosfeer is net die regte ding om jou pap batterye te laai terwyl families in 'n veilige omgewing ontspan.

“Ons het oor die jare die reëlings verbeter en fantasiese steun van wonderlike borge soos Charney Spar, OK Grocer, Wesbank en Zinmag Sport gekry vir wie ons natuurlik hartlik bedank. Hoewel die byeenkoms nou verby is, kan mense op ons Facebook-blad G2R Burn gaan kyk hoe lekker daar gekuier is. Ons het vanjaar 60 inskrywings gehad met 'n totaal van 140 mense wat die naweek en byeenkoms saam geniet het.

“Ons gebruik 'n deel van die inskrywingsgeld vir 'n projek oor servikale kanker wat die afgelope drie jaar aan die gang is. Hier in die suide is die mediese dienste plek-plek maar skraps en deur die inskrywingsgeld kon ons meer as 70 mense met medewerking van die Kankervereniging laat toets.

“'n Hele paar gevalle in lewensgevaar is behandel en dit is genoeg om ons aan te spoor om nóg te groei.

“Vir ons as organiseerders is dit 'n wonderlike geleentheid om mense vir 'n lekker kuier bymekaar te bring waar vriendskappe met watertand kos gesmee word. Dit is lekker om fantastiese mense bymekaar te kry in 'n gesamentlike doel om iets aan die gemeenskap terug te gee en om geestelike en liggaamlike vermoëns tot die uiterste te beproef.

“Ons moet erken dat die byeenkoms die afgelope paar jaar al meer soos 'n groeiende familiereünie begin voel!” vertel die Van Wyks entoesiasties.

Die eerste groep wat om 04:00 weggespring het, was die soloryers wat die uitdagende 240 km gepak het, terwyl soloryers, spanne en aflosspanne die 60 en 30 km roetes aandurf. Een waterpunt is by die bekende Carmen Boltman (Carmen's Pies op Gochas) wat die afgelope ses jaar ryers by 'n stalletjie voor die ingangshek van hul plaas Bremen bederf. Die Kamelrühe Gastehuis en sy swembad was natuurlik ook 'n sentrale punt.



Die uitslae:

240 km solo mans: 1 Morné Nell 8 ure 10 minute. 2 Ermin van Wyk 8:35. 3 Herbert Peters 8:40. Vroue: 1 Wilmien Chamberlain 8:51. 2 Risa Dreyer 10:24. 3 Serenzia van der Merwe 10:35.

Spanne van twee, mans: 1 Titus Koen/Dieter Koen 08:08. 2 Schalk Steyn/Ben Cronje 8:54. Vroue: 1 Jana von Backstrom/Tertia Brisley 10:34. 2 Lourene Radford/Anri Olivier 10:40.

Spanne van twee, gemeng: 1 Theo en Patricia Hoeksema 8:35. 2 Hans Hashagen/Rina Lambert 10:02. 3 André en Janine Snyman 10:04.

Spanne van vier, mans: 1 Conrad Brits/ Schalk Burger/Willem Burger 10:24 (die manne moes die afstand sonder 'n vierde spanmaat aandurf).

60 km solo mans: 1 Justin Vosloo 2:27. 2 Jacques Burger 2:46. 3 Hennie Brisley 3:26. Vroue: 1. Marietjie van Wyk 4:09. 2 Rita Maree 4:11. 3 Coreen Crous 5:45.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!