Diu00e9 benadering van Trump is die regte ene
Diu00e9 benadering van Trump is die regte ene

Dié benadering van Trump is die regte ene

Aanvanklik het Trump toegelaat dat sy impulsiwiteit en aggressie met hom weghardloop.
Leopold Scholtz

Hoe benader ’n verantwoordelike staatsman ’n skurkstaat?

Dié vraag is opnuut aktueel ná die nuus dat Noord-Korea selfs vóór die mislukte spitsberaad verlede week tussen pres. Donald Trump en Kim Jong-oen begin het met die herbou van ’n missieltoetsterrein. Dit is dieselfde terrein wat hy weens Amerikaanse druk vantevore met ’n groot gedruis begin afbreek het.

Die antwoord is dus: Dit hang daarvan af hoeveel skade die skurkstaat kan aanrig. Is dit Venezuela, wie se vermoë om chaos te saai enigsins beperk is? Dan is jou beweegruimte relatief groot.

Is dit Noord-Korea, wat in staat is om sy onmiddellike omgewing en selfs belangrike dele van Amerika met sy kernwapens in puin te lê? Dan is die antwoord: Baie, baie versigtig.

Aanvanklik het Trump toegelaat dat sy impulsiwiteit en aggressie met hom weghardloop. Hy het Kim “Little Rocket Man” genoem, wat geantwoord het met “dotard” (seniele ou gek), en hulle het mekaar met totale uitwissing gedreig.

Presies hoe die ommekeer gekom het, sal historici eers later kan bepaal wanneer die argiewe van die Withuis en die departemente van buitelandse sake en verdediging beskikbaar word.

STRATEGIE

Een teorie is dat Trump se harde taal deel was van ’n fyn uitgewerkte strategie om Kim na die onderhandelingstafel te intimideer.

’n Ander is dat hy ingesien het dat sy openbare geskel die Noord-Koreane net aggressiewer maak en dat hy toe self sy benadering verander het.

Wat ook al die geval is, dis goed dat Trump en Kim mekaar nou al twee keer in die oë kon kyk. Praat is altyd beter as skel, want skel kan te maklik lei tot skiet – en skiet moet in dié geval byna noodwendig tot die dood van honderdduisende, dalk miljoene, mense lei.

Die probleem is dat die twee berade op die oog af nie tot verskriklik veel gelei het nie. Geen ooreenkoms is bereik nie. Noord-Korea het nie afgesien van sy kernwapen-arsenaal nie. Soos pas geblyk het, word die ontwikkeling van toetsterreine hervat.

VERANTWOORDELIK OPTREE

Trump se reaksie was dat hy “baie teleurgesteld” sou wees as die nuus korrek is – ’n baie terughoudende en flou reaksie. Waarmee hy essensieel dieselfde doen as Barack Obama en ander moondhede rakende Iran se kernwapenprogram, iets wat Trump voortdurend as swak afgeskilder het.

Dit was nie swak nie. En Trump se huidige terughoudendheid is die regte reaksie, want ’n skurkstaat soos Noord-Korea (en Iran) pak jy baie, baie versigtig aan. Dit wil sê as jy verantwoordelik wil optree.

Hoe nou verder? Die een groot voordeel uit die twee spitsberade is dat hulle nou ten minste praat en mekaar nie uitskel nie. Maar moenie illusies hê nie. Voordat Kim van sy kernwapens afstand doen, sal baie water nog in die see moet vloei. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!