Dié projekte moet Namibië se dors les
Sentrale gebiede, die sentrale kus asook sentrale noordelike dele is as groeipunte geïdentifiseer wat dringend water moet kry.
Elvira Hattingh
Die ontwikkeling van 'n rioolsuiweringswateraanleg op Walvisbaai, asook die grootskaalse gebruik van die Ohangwena II-akwifer is enkele van die watervoorsieningsprojekte wat ondersoek word om meer water aan die land se sterkste groeipunte te verskaf.
NamWater se uitvoerende hoof, mnr. Abraham Nehemia, het verlede Donderdag tydens 'n rondetafelbespreking uiteengesit watter waterprojekte ondersoek en beplan word en waar private beleggers moontlik betrokke kan raak.
Die tema van die geleentheid, wat deur Open Africa Business, 'n Dubaise onderneming, gereël is, was die finansiering van watervoorsieningsprojekte in Namibië.
“Die land ervaar waterstres en water is nie geredelik beskikbaar by ons grootste ekonomiese groeisentrums soos Windhoek, Walvisbaai, Oshakati, Ongwediva en Rundu nie. Openbare-private vennootskappe kan die antwoord bied,” het Nehemia gesê.
Hy sê die sektor word nie na behore gefinansier nie en dít is een van sy grootste uitdagings – veral omdat dit tot 'n gebrek aan menslike hulpbronne lei, onder meer ook by NamWater.
“Hierdie land is groot. Dit beteken beleggings in die watersektor vir net sowat 2,5 miljoen mense in die land kan dieselfde wees as in 'n land soos byvoorbeeld Kenia, wat miljoene mense méér het,” het Nehemia gesê.
“Die rede daarvoor is dat die infrastruktuur geneem moet word na waar die mense woon. Ons bevolking is klein, maar verspreid. Dit maak belegging in die land se watersektor baie duur,” het Nehemia gesê en bygevoeg die land se watergebrek is nog 'n faktor wat private beleggings in die watersektor voorkom.
SENTRALE DELE
Nehemia sê vir sentrale gebiede, wat Windhoek insluit, word oorweeg om byvoorbeeld die noorde se Abenab-akwifer te ontwikkel. Sentrale dele ontvang reeds water van onder meer die Kombat- en Berg Aukas-gebiede, asook van verskeie boorgate in die gebiede.
“Tans is 'n studie onderweg oor die infrastruktuur wat vir die Abenab-akwifer benodig sal word om nog water na sentrale dele van die land te neem,” het hy gesê.
Volgens Nehemia word ander medium- tot langtermynoplossings terselfdertyd ondersoek. Dit sluit in dat haalbaarheidstudies gedoen word oor die vervoer van ontsoute water van die kus na Sentraal-Namibië.
“Tegniese studies om water van die Kavangorivier af tot by sentrale dele te bring, is ook voltooi en voorts word die omgewingsimpakstudie asook studies oor die volhoubaarheid hiervan gedoen,” het Nehemia gesê.
“Die Kavangorivier loop oor internasionale gebied en Namibië sal dus met ander betrokke lande om waterregte moet onderhandel,” het Nehemia gesê. Hy meen van reusebelang vir die gebied is doeltreffende waterbestuur.
In Sentraal-Namibië is die revolusionêre stap reeds gedoen om van dooiebergingswater in damme gebruik te begin maak.
“Windhoek was enkele jare gelede veronderstel om 'droog te loop'. Ons het toe geleer om van dié bron gebruik te maak en ons het oorleef,” het Nehemia gesê. “Ons kyk ook na die uitbreiding van die rioolwatersuiweringsaanleg in Windhoek,” het hy bygevoeg.
“Die Neckartaldam is nou voltooi en ons ondersoek hoe nasionale damme verbind kan word sodat wateroorplasings tussen damme kan plaasvind,” het hy gesê.
SENTRALE KUS
Nehemia sê sentrale kusgedeeltes ontvang tans water van die Omdel-akwifer, wat afhanklik van die Omarururivier is om dit weer aan te vul wanneer dit reën.
“Moontlike nuwe bronne vir die kus is die uitbreiding van die Kuiseb. Ons vat reeds 'n bietjie water van dié akwifer, maar geohidrologiese studies dui aan ons kan meer water van dié bron tap.
“Ons kyk ook na die moontlikheid van 'n suiweringsaanleg vir rioolwater op Walvisbaai, want die dorp se rioolwatervolume is genoeg en die kanse is sterk dat die dorp een sal kan kry,” het Nehemia gesê.
Hy meen waterontsouting is 'n belangrike opsie vir die kus, maar vind nog nie op 'n skaal plaas waarop dit voldoende water kan verskaf nie. Hy sê hierdie gebied is 'n belangrike ekonomiese groeipunt – veral vanweë die myne wat daar geleë is.
SENTRALE NOORDE
“Vir die sentrale noordelike gebiede bestudeer ons bykomende oplossings soos kleinskaal- ontsoutingsaanlegte omdat daar 'n enorme akwifer tot die gebied se beskikking is, maar die water is brak.
“Ons is besig om te bestudeer hoe ons water van die Ohangwena II-akwifer op groot skaal kan onttrek,” het Nehemia gesê.
Hy sê beter aanwending van Namibië se water-kwota vir die Kunenerivier word ook ondersoek.
“Tans gebruik ons tussen 1,5 m³ en 2 m³ per sekonde, terwyl met ander belangegroepe ooreengekom is Namibië mag 6 m³ gebruik,” het hy gesê.
Volgens hom word die stigting van 'n organisasie oorweeg wat dié water sal bestuur. Ander moontlike bronne sluit in om van die water van die Kavango- of Zambezirivier te tap.
“As dit by infrastruktuurontwikkeling in die gebied kom, kyk ons na die kanaal tussen Kongola en Oshakati, wat erg verouderd is. Ons oorweeg om dit dalk met 'n pyplyn te vervang, wat beter is as dit by waterverdamping kom. Ander projekte sluit in moontlike stoorfasiliteite vir water asook waterbehandelingsaanlegte,” het hy gesê.
Nehemia sê dié gebied se bestaande waterbronne sluit in water van die Caluequedam in suidelike Angola, die Ohangwena I-akwifer en die Kavangorivier.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie