Dié silwer pure goud vir Blitsbokke
Rugby
Marnus Kok – Nadat die Covid-19-pandemie die afgelope maande ook sewesrugby in die maag geslaan het, was daar darem vir die Blitsbokke iets om oor te glimlag toe hulle hul silwermedalje as naaswenner van Wêreldrugby se sewesreeks ontvang het.
Nieu-Seeland is vroeër as wenner aangewys, nadat vier van die toernooie die seisoen weens die koronavirus afgelas is. Vir die nasionale sewesspan is die silwermedalje nie te versmaai nie, aangesien die Blitsbokke die vorige seisoen die reeks in die vierde plek afgesluit het.
Met onsekerheid wat heers oor wanneer die nuwe seisoen kan hervat nadat die eerste vier toernooie van die nuwe seisoen ook afgelas is, besef die Blitsbokke se afrigter, Neil Powell, die waarde van daardie medaljes wat die spelers Maandag in Stellenbosch ontvang het.
“Ek dink dit was ’n belangrike sielkundige oefening, vir al die spelers, maar veral vir die jongeres – wat nog nie ’n medalje in die Wêreldreeks gekry het nie.
“Dit is amper bietjie van ’n geelwortel wat voor hulle gehang word, om te sê kom ons werk hard en hopelik kan ons volgende jaar die goue medalje wen. Dit wys ook dat daar bietjie terugbetaling was vir die harde werk wat ons hierdie jaar gedoen het,” sê Powell.
Wanneer die seisoen, wat vroeg in Maart geëindig het, ontleed word, kan dit as ’n sukses beskou word omdat die goue medalje binne bereik was.
Die Blitsbokke het twee van die ses toernooie gewen (Dubai en Los Angeles), met die Kiwi’s wat drie gewen het. Nieu-Seeland het die seisoen op 115 punte afgesluit en Suid-Afrika op 104.
Straks was die enigste werklike kleitrappery deur Suid-Afrika by die Hamilton-toernooi in Januarie in die land van die Silwer Varing.
Daar was geen kwarteindronde by dié toernooi nie, met slegs die voorste span van elke groep wat tot die halfeind deurgedring het.
Die Blitsbokke het derde in hul groep geëindig, nadat hulle teen Engeland en Kenia in die groepwedstryde verloor het.
Dit het beteken dat hulle net sewe punte ná dié toernooi in die sakkie gehad het, terwyl die Kiwi’s 22 ingesamel het deur voor hul tuisskare koning te kraai.
Dit was ’n terugslag vir Powell-hulle se hoop om die reeks te wen. Maar die Blitsbokke verdien wel lof dat hulle ’n week later naaswenner in die toernooi in Sydney, Australië was – wat jou iets van die spelers se veggees vertel.
Wanneer die individuele vertoning van die spelers ontleed word, duik name soos veral Selvyn Davids en JC Pretorius op.
Davids, ’n spelskepper, was met 109 punte die Blitsbokke se voorste puntemaker die afgelope seisoen in Wêreldrugby se sewesreeks. Dit plaas hom negende op die lys van al die deelnemende spanne, met die Fidjiaan Napolioni Bolaca eerste met 159.
JC Pretorius, wat beïndruk sedert hy in 2019 sy debuut vir die nasionale sewesspan gemaak het, het 53 lopies ingekry – die meeste van die Suid-Afrikaners. Terry Kennedy van Ierland is eerste op dié lys met 91.
Wat verdediging betref, was Chris Dry en Stedman Gans die Blitsbokke se beste verdedigers, met elkeen wat 44 duikslae uitgevoer het.
Tog was dit ’n Fransman, Paulin Riva, wat met 64 duikslae die voorste verdediger was.
Powell erken dat dit moeiliker kan word om sy spelers gemotiveerd te hou met die onsekerheid wat heers oor wanneer die sewesreeks gaan hervat.
“Ons gaan mooi moet beplan om die ouens gemotiveerd te hou en kyk of ons dalk ’n paar plaaslike spanne kan kry om teen te speel om te verseker dat die ouens gemotiveerd bly.” – Netwerk24
FOTO’S
Die kaptein van die Blitsbokke, Siviwe Soyizwapi (voor), Dinsdag saam met sy spanmaats in Stellenbosch met ’n silwermedalje om elkeen se nek. Foto Gallo Images
Die Blitsbok Selvyn Davids probeer ’n speler van Japan systap tydens die Kaapstad-sewestoernooi in 2019. Foto Jaco Marais

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie