Dié twee vir uitsoekspan ná groepfase gekies

Namibië is sy groot geleentheid teen Kanada ontneem, maar dié twee individue het hul kanse met beide hande aangegryp.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die losskakel Helarius Kisting en haker Torsten van Jaarsveld is die twee Namibiërs wat die denkbeeldige “Vaarwel-vyftiental” se reserwebank ná afloop van die groepfase van die 2019 Wêreldbeker-rugbytoernooi gehaal het.

Die aangewese toernooimedia in Japan het koppe bymekaar gesit en die statistiese data verwerk om die beste vyftiental, plus plaasvervangersbank, saam te stel uit die topspelers van die twaalf nasies wie se spanne uitgeskakel is.

Die “keurkomitee” het vir hulself die reël gestel dat nie meer as twee spelers van enige land gekies kon word nie en dat elke span minstens een speler vir die “droomspan” moes lewer.

Hierdie bepaling het straks klaargespeel met die aanslag van Namibië se slot Tjiuee Uanivi, wat opnuut in sy drie volle wedstryde van 80 minute elk sy uitsonderlike waarde as lynstaanman en hardwerkende voorspeler bewys het.

Die beoordeling van Namibië se beste vertonings word uiteraard verder skeefgetrek deur die kansellering van sy wedstryd nommer vier, teen Kanada, as gevolg van die nadraai van supertifoon Hagibis.

Voor die toernooi sou die 25-jarige Kisting dalk as 'n potensiële slagoffer van sy eie veelsydigheid beskou kon word, met sy vermoë om heelagter, losskakel of skrum­skakel te speel. Sy insluiting in die toerspan het PW Steenkamp byvoorbeeld een van die ongelukkiges gemaak wat nie die 31-tal gehaal het nie.

Toe Namibië se enigste spesialis nommer 10 en stelskopper, Cliven Loubser, deur 'n besering uitgeskakel is voor die wedstryd teen Nieu-Seeland, is Kisting na die beginspan bevorder – slegs die derde keer in sy toetsloopbaan.

Op tipiese koelkop wyse het hy egter sy groot kans met beide hande aangegryp en het geensins teruggedeins om die All Black-verdedigers aan te vat en selfs 'n paar te klop nie. Sy balverspreiding was goed, terwyl sy moedige duikslag op die hoekvlag in die doodsnikke ook so byna TJ Perenara se onvergeetlike drie verhinder het.

Torsten van Jaarsveld, die 32-jarige haker van die Franse klub Bayonne, se beste vertoning was gewis ook teen Nieu-Seeland. Die voormalige Cheetah het benewens sy akkurate ingooie ook meermale die oog gevang met sy hoë werkverrigting op die verdediging en in mededinging vir die bal op die grond.

Rugbyworldcup.com se “Vertreksaal-droomspan” sluit briljante spelers in soos Fidji se linkervleuel Semi Radradra, wat boaan die lyste is van die spelers wat die verste met die bal gehardloop het (400 meter), die meeste verdedigers geklop het (29) en die meeste keer die bal gedra het (62). Met ses drieë en twee vertonings as speler van die wedstryd was die baardman eenvoudig asemrowend.

Voorlangs is daar spelers soos die Italiaanse flank Jake Polledri, wat 27 verdedigers geklop het – die meeste deur enige voorspeler in die toernooi, ondanks die feit dat hy net 196 minute gespeel het.

Georgië se agtsteman Beka Gorgadze was ook 'n monster soos sy beroemde voorganger Mamuka Gorgodze. Hy het sy span gereeld vorentoe gedra (altesame 149 meter), terwyl sy duikvatte (38) en gesteelde besit (vyf keer) die meeste van enigeen in sy posisie was.



Die beginspan:

1 Nahuel Tetaz Chaparro (Argentinië)

2 Joe Taufete'e (VSA)

3 Michael Alaalatoa (Samoa)

4 Guido Petti (Argentinië)

5 Jonny Gray (Skotland)

6 Juan Gaminara (Uruguay)

7 Jake ­Polledri (Italië)

8 Beka Gorgadze (Georgië)

9 Santiago Arata (Uruguay)

10 Finn Russell (Skotland)

11 Semi Radradra (Fidji)

12 Siale Piutau (Tonga)

13 Waisea Nayacalevu (Fidji)

14 Mattia Bellini (Italië)

15 Telusa Veainu (Tonga)



Reserwes:

16 Torsten van Jaarsveld (Namibië)

17 Guram Gogichashvili (Georgië)

18 Kirill Gotovtsev (Rusland)

19 Andrey Ostrikov (Rusland)

20 Lucas Rumball (Kanada)

21 Ruben de Haas (VSA)

22 Helarius Kisting (Namibië)

23 Alapati Leiua (Samoa)

- Verwerk van rugbyworldcup.com

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!