Dié Vries koelkop in die groot oomblik
Ek vat die houe soos dit kom, sê die Namibiese nasionale doelwagter.
Tielman van Lill - Virgil Vries, die Tafel Lager Brave Warriors se doelwagter, het Sondag in die FNB-stadion opnuut sy merk in die uiters mededingende sokkerwêreld van Suid-Afrika gemaak toe hy sy span met twee briljante stukkies keerwerk tot die kwarteindronde van die 2018 Telkom Uitklopreeks laat vorder het.
Dié 29-jarige Keetmanshooper wat sedert 2011 in die buurland se Premiersokkerliga (PSL) sy man staan, het aan die begin van die 2018-seisoen ’n driejaarkontrak met Kaizer Chiefs in Soweto onderteken.
Vries se paaie het met die Amakhosi gekruis nadat Brilliant Khuzwayo, Chiefs se nommer twee doelwagter, hom by Orlando Pirates aangesluit het.
Ná Vries se heldhaftige keerwerk Sondag in ’n verbete strafskopstryd teen Black Leopards, is hy vandeesweek amptelik deur die Amakhosi-ondersteuners as speler van die week aangewys.
Vries ding mee teen Itumeleng Khune, kaptein van Bafana Bafana en Chiefs se eerste keuse balstopper, vir ’n plek in die klub se beginspan.
Chiefs was Sondag in die laaste botsing in uitklopronde van 16 klubs teen Black Leopards in ’n knyptang-situasie toe die telling op 1-1 ná bykomende tyd gestaan het.
Danksy die Namibiër se briljante reflekse het hy die pogings van Jean Munganga en Eden Nene in die strafskopstryd gekeer om sy span met 4-2 te laat seëvier om na die kwarteindstryd te vorder, waar hulle op 3 November teen SuperSport United in aksie sal wees.
Volgens Giovanni Solinas, hoofafrigter van Chiefs, het Vries se spel vroeër vanjaar sy oog gevang. Solinas het die lenige Namibiër onlangs teen Mosambiek in aksie gesien toe hy net een doel afgestaan het tydens die twee kwalifiserende wedstryde vir die 2019 Afrika Nasiesbeker en Solinas het besluit om Vries ’n kans te gee.
Met ’n minder gunstige periode by Baroka agter die rug waar hy ’n ongehoorde aantal doele (29) afgestaan het, is Vries vasberade om sake by die Glamour Boys (Amakhosi) reg te stel wat sy vertroue in die Namibiër se vermoëns getoon het.
Vries vertel hy wou weer deel daarvan wees om die goue tye terug te bring toe Kaizer Chiefs onkeerbaar op die sokkerveld was.
“Ek is bly en geweldig trots om deel van ’n groot en beroemde klub soos Chiefs te wees. Ek verteenwoordig nie net Amakhosi hier nie, maar ook my land, familie en vriende, want dit is ’n eer en voorreg om hier te kan speel.
“Dit was vir my ’n groot oomblik om die talent te kon vertoon wat die Here vir my gegee het en aan die span en afrigter te wys ek verdien ’n plek, want hulle het vertroue in my gestel om my ’n driejaarkontrak aan te bied.
“Dit is nie maklik, want Chiefs se nommer een doelwagter (Khune) is my held en ek moet met hom kompeteer.
“Ek wil by die klub ’n verskil maak met positiewe bydraes, al is dit in ’n negatiewe situasie. Vir my die belangrikste is om die kans met beide hande aan te gryp wat die afrigters my gee – veral wanneer dit liga- en bekerwedstryde ter sprake is.
“Ek sal laas Sondag se sukses in die geheue bêre, want dit is hierdie soort oomblikke wat ’n speler slyp en verbeter. Sukses kweek sukses en selfvertroue. Deur die genade van God sal dinge vir my uitwerk en ontwikkel soos Hy dit wil hê, want ek glo in God en Sy oordeel en Hy sal reg laat geskied soos my lewe moet verloop.
“Dit is nog steeds vir my ongelooflik om by Chiefs te kan wees. Ek is wel as speler van die week aangewys, maar dit beïnvloed my nie. Ek kyk eerder na aspekte van my spel waar ek kan verbeter.
“Ek is bly dat ons deur na die kwarteindstryd is en Saterdag speel ons teen Pirates (PSL) en daarna is dit weer SuperSport United in die kwarteindstryd van die Telkom Uitklopreeks.
“Ek wil bitter graag suksesvol by Amakhosi wees, want ek wil graag hê ons moet bekers wen om die geskiedenis van hierdie fantasiese klub te herskryf wat die mees geesdriftigte ondersteuners denkbaar het,” het Vries beskeie afgesluit.
Die ander drie kwarteindstryde in die 2018 Telkom Uitklopreeks op 3 November is AmaZulu teen Orlando Pirates, Baroka teen Mamelodi Sundowns en Maritzburg United teen Bidvest Wits.
Kaizer Chiefs speel komende Saterdag in die PSL teen Orlando Pirates, sy aartsvyand, in die tradisionele Soweto-derby wat reeds uitverkoop is. Dalk kry Vries weer ’n kans om hom teen die Seerowers te bewys.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie