Diaken ‘Armpie’ se geskiedkundige oomblik
Boet Matthews op Keetmanshoop
“Dis ’n besondere, onbeskryflike gevoel wanneer die gees van die Here van jou besit neem.
“Dit verrig wondere – soveel so dat jy sommer baie het om te gee.”
So sê mnr. Petrus Afrikaner, wat in Mei by Our Lady of Perpetual Help (OLPH) op Keetmanshoop deur biskop Philipp Pöllitzer as diaken gewy is.
Afrikaner is ’n besonderse man wat veral in sokker- en atletiekkringe bekend is. Hy het destyds vir Flying Eagles, Khomasdal Onderwyskollege, die alombekende Orlando Pirates van Windhoek en Eleven Arrows van Walvisbaai sokker gespeel. Hy was ook ’n kranige atleet wat in een van die land se top afrigters ontwikkel het.
Tog sal min mense die naam Petrus herken, aangesien hy landwyd as Armpie bekend is.
Op navraag het hy vertel: “Ek het op 13-jarige ouderdom, in 1970, helfte van my regterarm by ’n slaghuis op Mariental verloor. Ná die ongeluk het ek na die Katolieke kerk se skool op Keetmanshoop oorgeskuif, waar ek met graad 9 begin het. Daar het ek begin betrokke raak in voorlesing en as misdienaar. Ons was ’n groepie van die skool wat toe reeds elke Heilige Mis saam met die priesters beweeg het,” het hy gesê.
Ná hoërskool het Afrikaner as jong onderwyser by plaasskole betrokke geraak in die bediening van die Woord en nagmaaldienste wat hulle in die afwesigheid van priesters gelewer het.
“Met my nuwe amp as diaken glo ek die gees sal my lei en my laat dien soveel as wat ek kan. Ek is werklik bevoorreg om in die wingerd van die Here te werk en om sy mense te dien,” het hy gesê.
“Dit is ’n besondere voorreg om as diaken gewy te word. Boonop is ek bevoorreg dat daar ’n gemeenskap van Christene is wat my ondersteun en my sal help om weer op te staan as ek sou val.
“Ek is baie dankbaar teenoor my vrou, Anna, wat my altyd so mooi ondersteun in gebed, en wat my bystaan wanneer ek uitgaan om mense te dien. My kinders is ook vir my ’n riem onder die hart. Hulle is nie engeltjies nie, maar ek hoef ook nie beskaamd te staan vir wat hulle in die gemeente doen nie,” het hy gesê.
Diaken Afrikaner is ’n onderwyser aan die Hoërskool Suiderlig waar hy goed met ’n gemeenskap van onderwysers saamwerk en gerespekteer word. “Ek het ’n lieflike gemeenskap van leerlinge vir wie ek Engels en geskiedenis onderrig. Jy weet, ’n kind bly maar altyd ’n kind en daai liefde wat jy vir hom of haar gee – ook in die klaskamer – is dieselfde liefde wat jy as ouer, en nie net as onderwyser nie, by daardie kind terugkry.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie