Die babagesig met die moed van ’n leeu
Boks
Michael Green
Die bokser Moruti Mthalane, wat verlede week in Durban as die land se Sportman van die Jaar aangewys is, se bynaam is wel “Babyface”, maar hy het dit nie gekry omdat hy so baie soos ’n baba huil nie.
Mthalane beskik oor ’n goeie verdediging en sy gesig toon merkwaardig min tekens van die ongenaakbare sport wat hy beoefen. Dié 35-jarige vegter lyk ook soms jonger as van sy teenstanders, wat ’n paar jaar ná hom gebore is.
Hy is al deur ’n paar diep driwwe, maar het danksy ongelooflike toewyding en harde werk bo uitgekom. Mthalane is tans die Internasionale Boksfederasie (IBF) se vlieggewigkampioen.
Hy verdedig dié titel weer op 23 Desember in Jokohama, Japan, teen Akira Yaegashi en is tans besig om hom daarvoor saam met sy afrigter, Colin Nathan, in Johannesburg voor te berei.
Mthalane is in Gauteng gebore, maar het in KwaZulu-Natal grootgeword. Sy pa is oorlede toe hy net sewe jaar oud is en as seun moes Mthalane gou leer om op sy eie voete te staan.
Hy het saam met sy broers, Innocent en Sihle, by ’n boks-klub aangesluit en het as amateur gemengde welslae behaal.
Toe hy eers beroepsbokser word, het dinge egter dramaties verbeter. Hy het by wyle Nick Durandt se kamp aangesluit en dié legendariese takhaar het hom gedryf tot hy ’n vegter was om mee rekening te hou.
Mthalane se groot kans het in 2008 aangebreek toe hy met Nonito Donaire van die Filippyne, wat toe die IBF-vlieggewigkampioen was, kragte gemeet het.
Voordat hy saam met Durandt na Amerika gevlieg het vir dié geveg, het Mthalane eers by sy ma gaan kuier. Toe het hy hom in ’n tradisionele Zoeloehut afgesonder, waar hy lank en ernstig met die gees van sy oorlede pa gesels het.
Hy en Donaire het in die Mandalay Bay-hotel in Las Vegas teen mekaar geboks. Dit was baie gelykop, maar die Filippynse Flash het daarin geslaag om ’n sny bo die Suid-Afrikaner se linkeroog oop te slaan en die skeidsregter het besluit om die geveg in die sesde ronde te stop.
“Ek glo steeds die skeidsregter het die geveg te vroeg gestop. Ek was in trane, want dit was my eerste geleentheid om ’n wêreldtitel te wen en ek glo ek sou gewen het as die skeidsregter nie die geveg gestop het nie,” het Mthalane ’n tyd gelede aan The Ring-tydskrif gesê.
Donaire het hom in die kryt getroos en aan hom gesê dat daar by hom geen twyfel is dat hy nog eendag wel ’n wêreldkampioen sou word nie. Dit het Mthalane toe in 2009 reggekry. Hy en Julio Cesar Miranda van Mexiko het mekaar in Johannesburg om die vakante IBF-titel gepak en Mthalane het met punte gewen. Hy het die titel vier keer verdedig en moes onder andere in sy geveg teen Ricardo Nunez van Panama twee keer van die krytvloer opstaan voordat hy dié taai uitdager in die vyfde ronde kon uitslaan.
Dit was ná dié geveg wat Mthalane se boksloopbaan ontspoor het. Hy moes sy titel in ’n verpligte geveg teen Amnat Ruenroeng van Thailand verdedig. Daar was egter nie ’n plaaslike promotor wat die geveg kon of wou aanbied nie en buitelandse promotors het toe gebie oor wie dit sou doen.
Die uiteinde was dat Mthalane so min geld sou verdien dat dit skaars sy reiskoste Thailand toe en terug sou dek en hy het in ontnugtering afstand van sy titel gedoen. Dit was eers ’n jaar en ’n half later dat hy weer in die kryt geklim het. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie