Die Boer - Heide Baas het groot planne vir Limousins
Die Boer - Heide Baas het groot planne vir Limousins

Die Boer - Heide Baas het groot planne vir Limousins

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - ’n Nuwe era het vanjaar vir die Limousin Telersgenootskap van Namibië aangebreek.
Dié betreklik klein genootskap met sy sestien lede het die afgelope maande op twee gebiede geskiedenis gemaak.
Dit het die eerste telersgenootskap in die land geword wat ’n vrou as president verkies het én die eerste beesras waarvan die beraamde teelwaardes (EBV’s) saam met dié van Limousins uit ander lande in die suidelike halfrond soos Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië aan internasionale evaluering deelneem.
Heide Baas (56) van Omitara is geen onbekende in landbougeledere nie. Dié nuwe president van die Limousin Telersgenootskap het al diep spore getrap as voormalige voorsitter van die Seeis Boerevereniging en is ook in skoukringe bekend en geliefd. Sy en haar man, Sigi (56), boer op die plaas Ombuerendende sowat een uur se ry vanaf Windhoek – sy met Brahmane en hy met Limousins.
“Sigi is my mentor. Hy is ’n beter beeskenner as ek. Of liewer, hy is die een met die beter oog. Sigi het die gawe om na ’n dier te kyk en die goeie genetiese eienskappe raak te sien.”


Groot verantwoordelikheid
Heide sê haar nuwe verantwoordelikheid is ’n groot uitdaging, maar sy is vasbeslote om saam met die ander lede aan ’n nuwe hoofstuk in die genootskap se geskiedenis te skryf.
“Ons sukses hang af van die insette en betrokkenheid van ons lede. Daarom is skakeling met die lede vir my baie belangrik.”
Ofskoon sy nie wil praat oor die moeilike jare wat hierdie genootskap agter die rug het nie, is sy deeglik bewus van die belangrikheid om lede weer gemotiveerd en geesdriftig te kry.
“Tweedens wil ek die lede oplei in alle aspekte van goeie en deeglike kuddebestuur en -administrasie. Ek is besig om veral die nuwe lede bewus te maak van die belangrikheid van noukeurige rekordhouding. Die administrasie van hul stoetdiere moet op datum wees.”
Vir Heide is dit gevolglik belangrik dat elke nuwe teler wat lid van die genootskap word, eers ‘n telerskursus bywoon om in stoetadministrasie opgelei te word.
Sy sê noukeurige rekordhouding is belangriker as ooit nou dat die EBV’s van geregistreerde Limousins in Namibië internasionaal geëvalueer word.
Weens die veel omvattender evaluering van teelwaardes danksy ‘n databasis wat aansienlik groter is as voorheen, word goeie genetiese vordering verwag.


Raakvatter op vele terreine
Heide is benewens die boerdery en haar landbouverpligtinge, ook betrokke by maatskaplike opheffingswerk in die gemeenskap.
Sy is baie lief vir naaldwerk en kunsvlyt soos Bauernmalerei en was vroeër die dryfveer agter ‘n skoolklereprojek op Omitara wat vroue van die gemeenskap opgelei het om naaldwerk te doen en deur skoolklere te maak en te verkoop, ‘n inkomste te verdien. " Ons het naaimasjiene en materiaal gekoop en dit vir hulle beskikbaar gestel."
Sy lees ook graag wanneer sy die tyd daarvoor kry, want boeke neem haar “op reise deur die wêreld”.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!