Die Boer - Wat is die waarde van my Simbra-stoet?
Die Boer - Wat is die waarde van my Simbra-stoet?

Die Boer - Wat is die waarde van my Simbra-stoet?

Ronelle Rademeyer
Tito Vorster - Waarde is ‘n relatiewe begrip, dit verskil as jy koop of verkoop, dit kan ‘n historiese of toekomstige waarde wees, ’n intrinsieke waarde, of (soos die rekenmeesters sê) die laagste van kosprys of netto realiseerbare waarde. Natuurlik is daar ook ‘n belastingwaarde, die sogenaamde standaardwaarde, wat vir seker slegs vir belastingdoeleindes kan geld. Wel, dit alles gesê, behoort dit nie vir jou ‘n slapelose nag te gee nie, want nie een van hierdie waardes sal vir jou ‘n redelike waarde van jou Simbra-stoet gee nie.
Die goeie nuus is dat die teler en die bestuursbesluite van die teler, die grootste waarde tot sy Simbra-stoet kan voeg, maar ongelukkig ook in die weg kan staan om die potensiële waarde van sy Simbra-stoet te ontsluit.
Die vraag is dan: " Wat moet ek as teler doen om die waarde van my Simbra-stoet te verhoog?"


Finansiële oorwegings by die keuse van ‘n vleisbeesras
Suider-Afrika is geseën met verskeie uitstaande vleisbeesrasse. Elke stoetteler moet ‘n beesras kies waarvoor hy ‘n passie het. Die teler se passie sal sy gesindheid jeens sy beesboerdery bepaal en dit sal wesenlik impakteer op die waarde wat hy uit sy kudde sal ontsluit.
Die Simbra-ras met sy hoë vlak van behoue heterose sal geen teler in die steek laat nie. Kies reg!
Hierdie getalryke ras se teelprogram is ontwerp om die winsgewendheid van die ras te bevoordeel. Die oop kuddeboekstelsel bewerkstellig ‘n lae koste toetreedrempel. Die F1-Cum-stelsel in terme waarvan ‘n teler sy Simbra-diere kan aanbied vir opname in sy stoet of om ‘n nuwe stoet te begin, sal buitegewone waarde tot Simbra-tipe diere toevoeg.
Aan die uitgawekant bied Simbra verskeie voordele wat ook waarde tot jou belegging toevoeg. Lae onderhoudskoste, aanpasbaar in enige deel van die land, melk en vleis, waarlik twee vir die prys van een. ’n Ras wat gedy in ekstensiewe omstandighede, ‘n waardige veldbees wat onderwerp is aan prestasietoetsing. ‘n Maklik bestuurbare bees met die temperament, vleis en melk afkomstig van ‘n Simmentaler, die haarkleed en gehardheid van die Brahman en met hoë vlak behoude basterkrag. Die voorkeur speenkalf van die voerkraalbedryf. Vir wins uit gras, is Simbra die ras!


Bestuursbesluite
Die bestuursbesluite van ‘n Simbra-teler sal die grootste impak op die waarde van sy kudde uitoefen. Daar is drie areas van besluitneming wat 80% van die waarde van jou Simbra-kudde sal bepaal. Dit is seleksie, voeding en dieregesondheid.
Wanneer jy bulle koop, jou vroulike kudde aanvul, paring doen, jou uitskotdiere bepaal en die diere wat jy wil terughou vir herverkoop of vir teling, is jy besig met ‘n proses van seleksie. Wanneer jy selekteer is dit belangrik dat jy ‘n fyn gedefinieërde teeldoelwit het waarvolgens jy selekteer. Die uitvoering van elk van hierdie seleksiebesluite moet voorafgegaan word deur sorgvuldige beplanning, sonder emosie en neem jou tyd. Die regte bul of die verkeerde bul kan baie waarde tot jou kudde toevoeg of waarde wegneem.
Voeding is een van die steunpilare van beesboerdery. Weidingsbestuur en aanvullende winter- en somerlekke is nie onderhandelbaar nie. Jou Simbra-beeskudde sal jou vir elke sent en nog meer vergoed vir die belegging wat jy in aanvullende voeding maak. Jy sal soortgelyk die vrugte pluk vir die sorg waarmee jy jou weiding bestuur. ‘n Koei wat nie dragtig word nie as gevolg van haar kondisie, of min of geen melk het nie, is nie die koei of die ras se skuld nie. Die eienaar moet die blaam hiervoor neem. Verwaarloos jou beeste en die waarde van jou kudde sal krimp, krimp, krimp. Versorg hulle goed en jou waarde van jou kudde sal groei, groei, groei.
Daar is geen groter skade in beesboerdery as nóg ‘n dooie bees of nóg ‘n siek bees nie. Teling is moeilik. Dieregesondheid is maklik. Gesondheidsorg vir diere is ongelooflik gesofistikeerd. Dieregesondheid word ondersteun deur veeartse en tegniese personeel van die diere medisynenywerheid. Die internet bevat ook ongelooflike ondersteunende inligting oor dieregesondheid. Die goue reël bly “voorkoming is beter as genesing”. Bepaal vervolgens jou inentingsprogram en bly daarby. Die geld wat jy per jaar aan dieregesondheid bestee, is veel minder as die verlies van ‘n dooie bees.


Verstaan die wetenskap van veeteelt
Die wetenskap van veeteelt het meetbare prestasiestandaarde bepaal wat 'n wesentlike impak aan die monetêre waarde van 'n dier maak. Trouens, dit het selfs meer spesifiek op Simbra-diere betrekking aangesien 80% van hierdie ras se telers hul diere aan prestasietoetse onderwerp.
Verskeie Simbra-stoettelers en toenemend meer kommersiële telers volg 'n seleksiebeleid wat op geraamde teelwaardes (EBV's) geskoei is. Alle Simbra-beeste word aan 'n streng visuele/strukturele evaluering onderwerp. Telers moet aanvaar dat kopers die diere waarop hulle besluit, eerstens op voorkoms kies, maar ook bereid is om meer te betaal vir diere met die ideale EBV's.
Die koper koop bulle op grond van hoe die dier lyk sowel as sy teelwaardes omdat hierdie bulle waarde tot sy kudde sal voeg.
'n Simbra-stoetteler moet die wetenskap verstaan, dit reg bestuur en gebruik as 'n seleksievereiste. Boere met wie hy sake doen, sal hom wel hiervoor vergoed.
Moenie moedeloos raak nie; dit is nie moeilik om gesonde EBV-bestuur toe te pas nie. Die Simmentaler-Simbra Telersgenootskap van Suid-Afrika het 'n internet-gebaseerde stelsel beskikbaar wat toeganklik is en maklik is om te gebruik. Die stelsel het 'n EBV-navraagdiens vir elke dier en kan telers ook help om diere vir paring vir spesifieke EBV-uitkomste te kies.
Die belangrikste is om te onthou dat dit nie daaroor gaan om syfers te bestuur nie - diere sal wel visueel en geneties hul verbeterde teelwaardes wys.
Bring jou kant. Die Simbra-ras sal meer as sy deel doen.
*Tito Vorster is die besturende direkteur van die Delft Simbra-stoet in Suid-Afrika.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!