Die Boer - Wêreld se grootste beesboerdery te koop
Die wêreld se grootste beesplaas-onderneming is te koop.
’n Totale grondgebied so groot soos KwaZulu-Natal gaan van eienaar verwissel, en ’n ikoniese stukkie geskiedenis van ’n onderneming wat langer as ’n eeu in dieselfde familie was, gaan nou vir altyd verander.
S. Kidman & Co is Australië se grootste grondeienaar, met 11 beesplase wat oor meer as 100 000 km² strek. Dit sluit die wêreld se grootste enkele beesplaas, Anna Creek Station, in Suid-Australië in, wat 23 000 km² groot is – groter as die hele Israel.
Die aankondiging dat die miljoenêrsfamilie Kidman, wat sowat A$364 miljoen sterk is, hul stamvader Sidney Kidman se nalatenskap verkoop met 200 000 beeste en al die toerusting ingesluit, het die Australiese landbougemeenskap aan die gons.
Buitelandse koper vir plaas
Die rede hiervoor is volgens plaaslike mediaberigte sterk aanduidings dat ’n buitelandse koper, eerder as ’n Australiese koper, die onderneming sal aanskaf.
Die landboupublikasie Agrimoney.com berig dat kopers uit China en Indonesië die afgelope paar jaar Australiese plase opraap, met ’n Chinese kopermagnaat, Feng Hailiang, wat al A$40 miljoen se beesplase gekoop het.
Nou het die Australiese regering sulke buitelandse transaksies onder die vergrootglas begin plaas.
Vanaf 1 Maart moet enige buitelandse transaksie wat landbougrond ter waarde van meer as A$15 miljoen behels, deur die regering se toesigkomitee op buitelandse beleggings goedgekeur word.
Keerpunt vir Australiese landbousektor
’n Australiese beesboer van Nieu-Suid-Wallis, Robert McBride, het aan Agrimoney. com gesê die besluit om die geskiedkundige eiendom te verkoop, ’n keerpunt vir die plaaslike landbousektor is.
“Ek kan die Kidman-familie nie kwalik neem nie, maar dit beklemtoon die stryd wat ons almal beleef weens minimale opbrengs op ons beesbedrywighede en swak steun van die regering ná twee dekades van droogte.”
Die tydsberekening vir die aanbod is volgens Australiese ontleders baie goed. Die mark is aan die herstel nadat dit ’n skerp afswaai ná die finansiële krisis van 2008 beleef het. Verder beteken die huidige verswakking van die Australiese dollar ook afslag vir buitelandse kopers van Australiese eiendom.
Die koper moet minstens A$300 miljoen beskikbaar hê, want dit is volgens Bloomberg die laagste aanbod wat die familie sal oorweeg.
Familieonderneming se waarde al hoe meer verwater
Dit blyk dat faksies in die Kidman-familie gekant is teen die transaksie, maar ’n verklaring deur Greg Campbell, die uitvoerende hoof van S. Kidman & Co, stel dit duidelik dat die transaksie familielede in staat stel om die kapitaalwins wat oor ’n lang tyd opgebou is, in kontant te omskep wat hul ander beleggings en ondernemings in Australië sal help.
Ontleders wys ook daarop dat die familieonderneming se waarde al hoe meer verwater word soos wat die volgende geslag erfgename deel van die onderneming word.
Die Kidman-erfgename (nie familie van die Australiese aktrise Nicole Kidman nie) is afstammelinge van sir Sidney Kidman, wat Adelaide in 1871 as 14-jarige verlaat het. Hy het toe net ’n perd besit wat blind in die een oog was. Toe hy in 1935 op 78-jarige ouderdom te sterwe kom, het hy 68 beesplase versprei oor 260 000 km² nagelaat.
Hoewel die maatskappy ook ernstig geknou is deur die langdurige droogte in die Australiese Outback, is die onderneming in ’n gesonde finansiële posisie, en volgens Campbell sonder enige verbande op enige van die eiendomme.
Op sosiale media het gewone Australiërs hul verontwaardiging oor die verkoop van een van hul land se pragplase uitgespreek. “Ons is baie goed daarmee om ‘die plaas te verkoop’ in Australië – maar wat sal ons doen wanneer daar niks meer oor is om te verkoop nie en ons huurders in ons eie land word?” wou een kommentator weet.
-Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie