Die brood op jou tafel

Lloyd Zandberg
Met die duiwe se eerste praat, terwyl die res van Namibië omdraai om op die ander sy te lê, die kussing weer oppof en die laaste bietjie rus inkry, staan ek voor ‘n gebou. Dit is nog donker, maar lig genoeg om nie bang te wees nie. Ek wonder vir ‘n wyle hoekom ek myself so wil straf. Dit is te vroeg vir ‘n Libra.

In die gebou is nywerheidsligte wat die nag op sy kop dop. Dit lyk of die son babelas het en in die gebou skyn. Stadig maar seker begin die dag ontdooi en die reuk van vuurwarm gebak waai deur die een van Eros se bekende strate. My mond begin water. ‘n Aangename knaap loop die gebou uit en pyl op my af. Ek groet.

Daar is verskeie dinge wat my aan die gang kry, maar ‘n brötchen wat nog stoom, vat my ver. Die knaap kan ek sien is gewoond aan min slaap. Hierdie vroeg opstaan-besigheid is nie vir hom ‘n probleem nie. Niks wat met passie gepaardgaan is ’n probleem nie, dink ek by myself . . .

Ek staan voor Le Pain Café se bakkery met die slaap nog in my oë en voor my is ‘n span bakkers wat vir meer as vyf ure al besig is om te meng, knie en verpak. Almal met tandartsglimlagte. Vir ‘n oomblik knyp die oggendbriesie my kaal arms, maar soos ek nader stap, voel ek die oonde se hitte teen my wange knetter.

Stephaan Coetzee het ‘n eerlike, nederige benadering tot die lewe. Een wat Windhoek se inwoners elke oggend tussen hul tande vasbyt. Hierdie jong gekwalifiseerde bakker sit letterlik die brood elke oggend op menigte huishouding se tafel. As jy môreoggend voor werk gou ‘n brötchen koop, onthou iemand met passie het dit douvoordag gebak. Le Pain Café se storie is inspirerend. Hier’s hoe dit gebeur het.

Wou jy nog altyd ‘n bakker wees?

Ja, my grootste droom was van kleins af al om ‘n klein café in Parys te besit, met vars gebak.

Hoe het dit gebeur dat jy begin bak het?

Gedurende my opleiding as sjef het ek besef dit is absoluut my passie. Daarna het ek myself daaraan toegewy om ‘n goeie bakker te wees deur onder bekende bakkers in Suid-Afrika en Engeland te werk.

Het jy enige formele kwalifikasies wat kosmaak betref?

Ek het my formele opleiding by die Institute of Culinary Arts (ICA) in Suid-Afrika ontvang, onder leiding van Letitia Prinsloo en haar span.

Het jy ook ‘n passie vir kook of verkies jy om te bak?

Gebak is nommer een op my lys, tog geniet ek dit ook om te kook vir klein en spesifieke geleenthede.

Waar het jy leer bak?

Dit het als in my ouers se kombuis begin, maar my tegniese vaardighede is by die ICA ontwikkel en dan het ek die fynere tegnieke by Markus Farbinger leer bemeester. Hy is van Ile de Pain in Knysna in Suid-Afrika. Ek sal hom altyd as ‘n meester op sy gebied en as my rolmodel beskou.

Hoeveel kilogram meel gebruik julle per dag? En hoeveel brood bak julle per dag?

Ons gebruik ongeveer 200 kg meel per dag en lewer min of meer 1 000 verskillende brode, brötchens, ciabattas, baguettes en ander produkte wat met die hand gemaak word.

Bak jy net vir Le Pain Café, of verskaf julle baksels aan ander plekke ook?

Ons bak hoofsaaklik vir Le Pain Café, maar verskaf ook aan vyf ander plekke in Windhoek en een in die Caprivi.

Vertel my bietje van Le Pain Café? Hoe lank is julle al aan die gang?

Le Pain Café het in Augustus 2015 oopgemaak, met die oorname van Puma Eros as ‘n familiebesigheid. Twee en ‘n half jaar later is ons trots op ons bakkery en produkte.

Het jy vermoed dit gaan so suksesvol wees?

Met die koop van Puma Eros-diensstasie het ons die potensiaal gesien en was ons vol vertroue dat die bakkery en diensstasie mekaar kan komplementeer. Kwaliteit is vir ons baie belangriker as kwantiteit.

Wat maak Le Pain Café anders as ander bakkerye?

Broodbak is ‘n kuns op sy eie, wat tyd, liefde en aandag vereis. Dít is die hoofbestanddele van elke produk.

Wat is volgende vir Stephaan en Le Pain Café?

Ons sal graag ‘n groter produkreeks op ‘n daaglikse basis in die bakkery beskikbaar wil hê, maar my leuse is “All in good time”.

Het jy enige stokperdjies of ander belangstellings?

Ek hou van oefen en het verlede jaar vir die eerste keer die Desert Dash gedoen as ‘n lid van ‘n viermanspan. Ek is mal oor watersport, fietsry en jag, asook om tyd saam met my familie en vriende te spandeer.

Het die banting revolution jou ‘n knou gegee?

Ek probeer om mense te akkommodeer in die opsig en het ook ‘n banting produk wat ek op aanvraag lewer.

Wat dink jy van hierdie stelling: Carbs is gif.

Carbs is volgens my nie gif nie, dis al die onnodige bymiddels om kwantiteit, in plaas van kwaliteit, te lewer, wat gif is. Ons fokus daarop om suiwer en organiese produkte te lewer.

Wat is volgens jou ‘n meester-brötchen?

‘n Meester-brötchen is ‘n skoon blad om te versier volgens elke persoon se smaak. My persoonlike gunsteling bly tog maar ‘n vroegoggend ontbyt-brötchen wat vir my die perfekte balans tussen die gebak en die vulsel skep.

Hoe lyk ‘n normale dag in jou lewe?

‘n Bakker het nie ‘n normale lewe nie. Douvoordag, as almal slaap, berei ek en die span die produkte vir kliënte voor sodat hulle dit al van vroeg soggens af kan geniet.

Wat is die een ding wat mense nie van jou sal verwag nie?

Ek sal sê as mense my die eerste keer ontmoet, sal hulle nie verwag dat ek ‘n kunstige kant het nie.

Is jy bietjie van ‘n snob wat kos betref?

Ek sal myself nie as ‘n kos-snob beskou nie, maar ek het waardering vir kos wat met passie en fyn besonderhede gemaak word, maar ‘n aandjie langs die braaivuur en rooster saam met vriende en familie is ook ‘n gunsteling.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!