Die buurman se drankwet gaan vasvat kos
Des Erasmus - Lank gelede kom keer ’n Namakwalandaand my doer in Koekenaap se geweste op oom Kolie se plaas vas. Vra hom na my koers en die oubaas sê hy sal my die volgende oggend sê. Met ’n man op so ’n dwaalweg moet eers die aand gekuier en dan geslaap word.
Dis groente van sy eie akkers en die vleis van een van sy kruislammers wat net vir die pot gehou word. Sy eintlike bedryf is druif, sê hy. Waarmee hy bedoel wingerd soos die geil lap wat ’n hoogtetjie naby die opstal toetrek met sy loof.
Die aand word onthou, danksy ’n tyding van ’n babelaswet wat nou in die jaar 2016 in Suid-Afrika afgewag word. Die ganse drankhandel word raakgevat. Tussen 18 en 21 jaar mog jy net onder toesig van ’n ouer of ’n voog ’n knertsie waag. Dranklisensies gaan ingetrek word, gebiede moet druppelvry bly. Die wynbedryf is in sy maai en die verliese gaan miljarde beloop, meen die kritici.
Sê maar die drankhandel gaan uitpaas.
Ná oom Kolie en die tante se aandete en die kennismaking met die kroos was daar eers die Boekevat met ook die vreemdeling wat in die gesinsgebed onthou was. ’n Draaitjie loop en dan word twee pakke speelkaarte uit ’n laai getrek. Die reëls word verduidelik en dan deel die boerehande die baaisiekelkaarte. Dis in die bekende vier stelle, maar oom Kolie praat van toontjies (dis nou klawers), fielies (dis nou diamante), dikrooi vir harte, maar hou darem by skoppens vir skoppens.
Eintlik was dit die droesem van die lampolie in die Queen Mary wat halt geroep het. Nou nog net vir sy Voorsorg voor die nagrus. Voorsorg is ’n knertsie brandewyn met reënwater uit die dak se afloop en een van twee soorte wat hy stook. Die ander een is Na-troos. Onder die twee name bemark hy ook. Sou die Voorsorg in oortreffende trap getref word, is daar die volgende oggend se doppie Na-troos vir’n regmaker. Wyn is ook twee soorte - Oom Tas en die ander een Tant’ Anna.
Pure kultuur, sê ek met die wegry en vat die pad na die Oos-Kaap en die Grens se pynappelboere waar ’n Engelse oompie van my bly. Rou Engels, maar Dagbreek is sy plaas se naam. Omrede? Hy bemark sy pynappels in die Vrystaat onder die Dagbreeknaam. “Daar bly boeremense wat by boeremense koop.”
Cradle Rock, sê-vra hy toe die eerste aandskaduwees hul aanstaltes maak. Dan beduie hy dis sy blits. Die ”rock” is die harder pynappelstronk waarop vleis van die vrug saampak. Die ”cradle” is vir die wiegbeweging wat die sopie meebring. Dis wit soos water waar hy die bottel blits in sy hand vertoon met die kerswas wat die skroefprop verseël. Dan skaterlag hy vir sy eie grappie: “It is colourless, its odourless and it makes you motherless”.
Weer kultuur. Ek dink aan die halfbotteltjie wat die Engelsmannetjie aan my by die padstal naby Colchester wou afsmeer. Om die bottelnek is ’n vlegsel doringdraad. In geoefende Afrikaans sê hy: “Dis omdat jy so sterk is, wat hulle jou so vasmaak”. Sy versekering kom dat die werkers op die lande ’n amper eenderse brousel stook. Ma’gou, afgelei van “maak gou”, noem hulle die ding met die eselskop. Die sopie vat blykbaar ’n kortpad.
Pure blitskultuur.
Dan aan na die druiweboere van die Gariep waar ’n skoonseun diep in die wynbouery staan. Die man sweet al met die dagsê, want dis Maandag en die werkers het nie opgedaag nie.
“Weer te veel papsak oor die naweek,” soek hy na ’n rede.
Hoekom papsak dan? Dan beduie hy dis ’n tuisbrousel wat van die aftreksel van die druiwedoppe gemaak word. Selfs in die handel koop jy papsak.
Die drankwetskrywers kan maar doen wat hulle wil. Vir ’n kultuur van die eeue is doodkry min.
Die wingerdstok laat hom nie so maklik uit die grond pluk nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie