Die u2018Dame van Parysu2019 is in puin
Die u2018Dame van Parysu2019 is in puin

Die ‘Dame van Parys’ is in puin

Rookwolke het uit die Middeleeuse katedraal die lug in geborrel en later roet en splinters op omstanders laat neerreën.
Die Notre Dame-katedraal in Parys is Maandagaand binne 90 minute in ’n verskriklike brand deels in puin gelê.

Terwyl die historiese katedraal in vlamme opgaan met brandweermanne wat dit heldhaftig probeer red, het omstanders op die oewer van die rivier saggies gesange gesing.

Die katedraal, een van Parys se gewildste toerismebestemmings, het groot restourasiewerk ondergaan. Die brand het vermoedelik ontstaan op die dak, wat ingeval het.

Teen laataand is water steeds na die hart van die katedraal, die middelskip of naaf, gespuit om die brand in bedwang te probeer bring.

Houtwerk in die kerk en die eeue oue handewerk van vakmanne is verwoes. Na berig word kon kunswerke en waardevolle geskiedkundige skatte soos die doringkroon gered word.

Rookwolke het uit die Middeleeuse katedraal die lug in geborrel en later roet en splinters op omstanders laat neerreën.

Die televisiekanaal France 2 het berig dat die polisie die brand as ’n ongeluk hanteer.

Die katedraal dateer van die 12de eeu en is bekend om die roman van Victor Hugo, Die boggelrug van Notre Dame, met miljoene toeriste wat dit jaarliks besoek.

Die steierwerk wat vir die restourasiewerk gebruik is, was ook laataand in vlamme gehul. Gelukkig is sommige bronsstandbeelde op verskillende vlakke van die katedraal verlede week verwyder voordat die groot restourasiewerk aan die dak kon begin.

Volgens omstanders het van die gargoyles, die draakagtige spuierbeelde op die dakke, die brand weerstaan.

Pres. Emmanuel Macron het die tragedie dalk die beste opgesom: “Ons dame van Parys brand. Dit is ’n emosionele tyd vir die nasie. Ons dink aan die Katolieke en aan al die Franse. Net soos ons burgers is ek vanaand hartseer om ’n deel van ons te sien brand.”

GELD STROOM IN

Geld stroom reeds in om die Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk, te herbou.

Anne Hidalgo, burgemeester in Parys, sê hulle sal 'n internasionale skenkerskonferensie hou sodat hulle geld vir die herbou van Notre Dame kan insamel, berig France24.

Die miljardêr François-Henri Pinault, voorsitter van die internasionale luukse groep Kering en eienaar van Gucci, Yves Saint Laurent, Balenciaga en Alexander McQueen het reeds €100 miljoen geskenk vir die heropbou van die katedraal, luidens ’n verklaring. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer