• Tuisblad
  • Gemeenskap
  • Die diktator se seun, ’n vliegtuigtransaksie en die wêreld se berugste tronk

Die diktator se seun, ’n vliegtuigtransaksie en die wêreld se berugste tronk

Twee jaar ná sy vrylating in 2015 uit die Black Beach-tronk in Ekwatoriaal-Guinee sukkel Daniel Janse van Rensburg steeds om dié traumatiese tydperk agter te laat. Sy storie van toe tot ’n suksesvolle skadevergoedingseis lees soos ’n Hollywood-draaiboek.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Dit begin by sy jare lange sakeverhouding met Gabriel Mba Bela, ook bekend as Angabe en ’n voormalige lid van Ekwatoriaal-Guinee (EG) se senaat.

Bela was as oom ook aan Teodorin Nguema Obiang, tweede visepresident van die EG vir veiligheid en sekuriteit, politieke hoof en in beheer van die land se gewapende magte, polisie, tronke en aanhoudingsgeriewe verbind. Ook het Bela en Obiang ’n vennootskap in verskeie besighede gedeel, waaronder mede-eienaarskap van die Hilton Hotel in Malabo.

Volgens die hofstukke wat Daniel Janse van Rensburg se skadevergoedingseis teen Obiang vergesel het, was Angabe een van ’n hand vol magtige mense wat EG tot hul eie voordeel beheer en uiters lojaal aan Obiang en sy pa, president Teodoro Obiang Nguema Mbasogo is.

Janse van Rensburg was oor ’n geruime tyd in onderhandelinge met Angabe gewikkel vir verskeie lugvaartprojekte. Laat 2012 vra Angabe hulp om ’n lugdiens, Coriscair, op die been te bring. Angabe sou die hoofaandeelhouer en finansier wees. ’n Geskrewe kontrak word in Spaans met Angabe aangegaan, met ’n sakeplan wat op instruksies van Angabe voorberei is. In Julie 2013 staan die lugvaartowerheid in EG ’n tydelike lisensie aan die lugredery toe. Janse van Rensburg het reeds twee vliegtuie by ’n Suid-Afrikaanse maatskappy, Cemair, gewerf wat bemanning, onderhoud en versekering insluit.

Probleme by die bank

Vroeg in Oktober 2013 vertrek Janse van Rensburg na EG om Angabe te ontmoet vir die nodige geld om die vliegtuie te betaal en ook verblyf vir die bemanning in Malabo uit te sorteer.

Ná sy ontmoeting en Angabe wat eienaarskap oor die vliegtuie neem, is die plan dat hy na Suid-Afrika terugkeer. Met sy aankoms word Janse van Rensburg se paspoort gekonfiskeer onder die voorwendsel van ’n werksvisum wat uitgereik moet word.

“Probleme by die bank” laat Janse van Rensburg vermoed Angabe is óf onwillig óf nie in staat om die vereiste bedrag vir die huur van die vliegtuie te betaal nie. Tydens ’n ontmoeting met Angabe by sy huis erken Angabe hy is nie meer van plan om met sy planne vir ’n lugredery voort te gaan nie. Die kontrak word eensydig opgesê en hy dring daarop aan Janse van Rensburg moet die voorskot terugbetaal wat hy reeds ontvang het. Janse van Rensburg se verweer is dit is reeds gebruik om die lugredery van die grond af te kry. Angabe is woedend en maak ’n oproep op sy selfoon in ’n taal wat Janse van Rensburg as plaaslike Fang identifiseer en wat hy glad nie verstaan het nie.

Dit wil voorkom asof een van verskeie oproepe na ’n baie belangrike persoon ’n gesprek met Obiang was.

Kort hierna neem lede van die staat se tussenkomsmag (Rapid Intervention Force) Janse van Rensburg by Angabe se huis in hegtenis en neem hom na die plaaslike tronk bekend as Guantanamo. Angabe dien ’n klag van diefstal teen Janse van Rensburg in.

Met etenstyd die volgende dag lê ’n werknemer van Angabe ’n brief aan Janse van Rensburg voor wat hy moet onderteken om te erken hy het geld van Angabe vir die lugvaartprojek ontvang. Teken hy, wat hy wél gedoen het, word hy vrygelaat.

Janse van Rensburg word vrygelaat, maar moet gaan bly in ’n woonstel wat aan Angabe behoort.

'Slaan hom goed en sluit hom toe'

Vroeg November word hy weer na Angabe se huis ontbied waar twee prokureurs ook teenwoordig is.

Weer word aangedring om die voorskot onmiddellik terug te betaal. Doen hy dit nie, gaan hy tronk toe. Janse van Rensburg weier om die dokumente te onderteken, Angabe laat kom lede van die ingrypingsmag en Janse van Rensburg beland weer in Guantanamo.

Vir die tronkhoof sê Angabe in Frans “hy is nie ’n wit man nie, hy is ’n Afrikaan, slaan hom goed en sluit hom toe”.

Hy word hardhandig by ’n trap afgestoot waar hy in ’n kamer aan sy een arm aan ’n reling vasgemaak word. In die kamer langsaan kan hy hoor hoe word mense aangerand. Die tronkhoof vra in Engels verskoning en sê hy kan nie die “chiefs” beheer nie.

Met sy hofverskyning die volgende dag sê die regter die klag teen hom is ongegrond. Weer volg nog ’n hofverskyning waar die regter weer bevestig daar is geen gronde vir ’n klagte teen hom nie en dat die aangeleentheid eerder in ’n siviele hof besleg moet word. Angaba dien ’n nuwe klag van bedrog in.

Janse van Rensburg word aangesê om ’n prokureur vir ’n verhoor te kry.

Op die dag van die verhoor roep Angabe Janse van Rensburg se prokureur eenkant, wissel met haar ’n paar woorde waarna sy verdwyn. Janse van Rensburg moet noodgedwonge homself verdedig. Weer probeer Angabe die regter van sy saak te oortuig, weer beklemtoon die regter daar is geen saak teen Janse van Rensburg nie – ’n patroon wat hom daarna met verskeie verskynings sou herhaal. Die regter bevestig in dokumentasie Janse van Rensburg is vry om EG te verlaat, met die klagte teen hom ongeldig en sonder enige basis.

Janse van Rensburg word na die huis van ’n vriend geneem wat sê Angabe het vroeër twee motors gestuur om te keer dat hy EG verlaat. Hy gebruik egter ’n agterpaadjie na die Suid-Afrikaanse ambassade en kan hulle ontglip. Vir die volgende twee weke bly Janse van Rensburg in die ambassade se woonstel.

Die regter in die kortbroek

Op 18 Desember 2013 bevestig die ministerie van buitelandse sake aan die ambassade Janse van Rensburg kan EG verlaat.

Diplomatieke personeel neem hom na die lughawe waar Angabe ook intussen opgedaag het. Janse van Rensburg meld vir sy vlug aan en beweeg deur lughawesekuriteit vergesel van diplomatieke personeel wat hom egter alleen moet los waar hy vir sy vlug wag.

Angaba gee die polisie opdrag om Janse van Rensburg in hegtenis te neem. Toe hy die ambassade wil bel, gryp Angabe sy selfoon. Angabe maak dit duidelik aan beide die polisie en personeel dat Janse van Rensburg nié EG sal verlaat nie.

Weer daag die gewapende magte op, neem hom Guantanamo toe en na die regter se hofkamer wat verlate was. ’n Regter met die naam Christian maak sy verskyning in ’n kortbroek en vul ’n stuk papier in sonder om ’n woord met Janse van Rensburg te praat.

Janse van Rensburg word in ’n baie nou sel opgesluit. ’n Man onder die invloed en in siviele klere kom haal hom en neem hom na die gevreesde Black Beach-tronk.

Geen kontak met buitewêreld

Black Beach is oorvol, vieslik vuil en sonder enige wasgeriewe.

Dit het oop toilette, met ontlasting wat orals teen mure en op vloere gesmeer is. Daar is geen beddens of slaapgeriewe nie, met insekte, kakkerlakke, vlieë, muskiete en rotte wat alles besmet, oor gevangenes kruip en hulle byt. Die wagte is meestal dronk en martel en rand gevangenes en ook mekaar aan. Die kos is dikwels vrot, sonder enige smaak en besmet met insekte, grond en ontlasting. Geen medikasie is beskikbaar nie en daar is geen kommunikasie met die buitewêreld nie.

Personeel van die ambassade besoek hom twee keer en einde Februarie word hy na die regter se kamers gebring waar hy die nuwe Suid-Afrikaanse ambassadeur ontmoet. Dié dring op sy vrylating aan. Hy word na ’n woonstel van die ambassade verskuif waar hy tot einde Maart 2014 bly, waarna hy na ’n goedkoop hotel verskuif word.

Op 3 Julie 2014 moet hy weer by die regter aanmeld, met die opdrag dat die Suid-Afrikaanse ambassadeur ook by die ontmoeting moet wees. Die ambassadeur is laat en Janse van Rensburg word weer in hegtenis geneem. Dié keer word vir hom gesê hy gaan in “veilige aanhouding” gehou word.

Die eerste naweek ná sy terugkeer na Black Beach, word personeel van die ambassade toegelaat om hom te besoek, iets wat nie weer sou gebeur nie. Die saakgelastigde bevestig Obiang sit agter sy inhegtenisneming en dat verskeie gevangenes wat in Black Beach hul dae vergete in haglike omstandighede deurbring, ook aan Obiang te danke het.

Ingewandskoors, malaria, sere

In Black Beach was Janse van Rensburg totaal van die buitewêreld afgesny, met geen kommunikasie na buite met sy geliefdes of enigiemand wat hom uit dié hool kon bevry nie.

Hy kry ingewandskoors, vier keer malaria. Geen medikasie word deur tronkowerhede verskaf nie. Van Janse van Rensburg se medegevangenes gee vir hom medikasie wat hulle by buitestanders in die hande kon kry. Was dit nie hiervoor nie, was hy dood. Siektes slaan toe op sy vel en tande. Sy niere en ander organe doen onherstelbare skade op en hy verloor twee tande.

Die emosionele en sielkundige tol wat Black Beach van hom eis, is egter soveel groter. Hy word met posttraumatiese stres-sindroom gediagnoseer en dit is vir hom uiters moeilik om die hel van sy aanhouding oor te vertel of in woorde te omsit. Selfs ná sy vrylating is daar dae wat die wêreld daarbuite hom oorweldig en hy sukkel om ‘normaal’ te funksioneer. Hy twyfel of hy ooit weer sy loopbaan as konsultant sal kan hervat.

In Black Beach ontmoet Janse van Rensburg ’n medegevangene wat Spaans magtig is. Volgens die gevangene is die enigste manier uit om ’n manier te vind om die hoof van Black Beach en die regter vir sy vrylating te betaal. In Julie 2015 kry die gevangene dit reg om sy vryheid te koop.

Later die maand word Janse van Rensburg besoek deur ’n prokureur wat sê hy ken sy Spaanse vriend. Weer bevestig hy daar is geen klagte teen Janse van Rensburg of enige rekord dat hy in Black Beach aangehou word nie. Betaal Janse van Rensburg nie omkoopgeld nie, sou hy in Black Beach sterf.

Die prokureur leen vir hom sy selfoon en Janse van Rensburg kontak sy vrou, Melanie, in Suid-Afrika om geld vir die losprys vir haar man se lewe bymekaar te probeer kry. N$200 000 word deur vriende en familie ingesamel en aan die prokureur vir sy vrylating oorbetaal. Eindig Augustus word hy uit Black Beach vrygelaat en keer hy terug na die Suid-Afrikaanse ambassade.

’n Week ná sy vrylating sê EG se hoofregter daar is geen dokumentasie van sy aanhouding nie en dat hy blykbaar reeds in Januarie 2015 vrygelaat is. ’n Brief word aan die Suid-Afrikaanse ambassade en EG se minister van buitelandse sake oorhandig wat bevestig hy mag op 24 September 2015 die land verlaat.

Toe is hy vry

Op die dag wat hy uiteindelik EG en sy Black Beach sou agterlaat, daag Angabe en sy manne in uniform by die lughawe op om te keer dat Janse van Rensburg op die vliegtuig klim.

Hy breek los uit die soldate se greep en hardloop na die Suid-Afrikaanse ambassade wat die ministerie van veiligheid kontak. Weer word bevestig Janse van Rensburg mag die land verlaat.

Op 26 September 2015 styg die vliegtuig op waarmee Janse van Rensburg eers na Addis Abeba en van daar na Suid-Afrika sou vlieg om ná 423 dae in Black Beach en 126 dae in ‘n huis in Malabo uiteindelik met sy gesin herenig te word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!