Die draak kry lêplek in die kasteel
Ljubljana se wederkoms
Elke reisiger het 'n beskermengel wat op 'n kritieke oomblik opdaag. Ons engel is 'n vrou van Slowenië wat pas terug uit Kanada is.
Ons paaie kruis by die bushalte net buite die Mestre-treinstasie in Venesië. Sy praat vlot Engels en Sloweens en kom tot ons redding toe ons ons bus verpas.
'n Ljubljana bus-inligtingsbord is van alle tale gestroop; net die brandstofvraat se eindbestemming verskyn en dus moet jy jou aardrykskunde goed genoeg ken om te weet Zagreb, hoofstad van Kroasië, se bus neuk ook deur Ljubljana.
Waar klim ons op? O, maklik, by bord nommer 4, maar ons sien nêrens so 'n nommer op 'n paal nie. Engel skarrel rond totdat ons alles weet en op die regte bus kan gaan sit.
Met hierdie misterieuse luukse bus seil ons oor groen mistige heuwels, al hoe hoër tot in Ljubljana. Daar gekom is ons teleurgesteld in die vuil en gehawende woonstel wat vir ons wag. Die argelose gasvrou staan nog dikbek en babaklere was toe ons opdaag. Die verblyf is beslis die laagtepunt van ons reis.
Die woonstel lyk asof 'n trop wilde studente met minagting daardeur getrek het. Die meubels is op die randjie van ashoop toe. Daar is krake en kolle wat jy nie wil weet hoe en wat dit veroorsaak het nie. Die borrelbad soos geadverteer op die webtuiste is nêrens te sien nie.
“Daar is dit. Nee hartjie, dit is 'n gewone bad.” Of jou Engels is swak, of jy maak jouself skuldig aan wanvoorstellings. Maar ons byt vas. Ons tyd is te kosbaar vir 'n klein bohaai en om alternatiewe blyplek te soek.
Ná byna 'n maand se afwesigheid waardeer ons die weersiens van Ljubljana, die Sloweense hoofstad, met 'n sug van verligting. Vanselfsprekend is die studentestad se geboue in vergelyking met dié van eilandstad Venesië lomp en kru en besit nie die praalgeskiedenis van die opgesmukte Venesië nie, maar Ljubljana het nog 'n hart. Venesië se hart is met goedkoop goud gekoop.
Ons besluit om nie te ver van die ou stad te dwaal nie. Ons is nie spyt nie. Ljubljana se gerestoureerde kasteel is 'n deurkyk werd. Die kasteel op die heuwel roep ons bult op met 'n goedversorgde wandelpaadjie wat geleidelik kronkel tot op die kruin. Ljubljanski grad, die kasteel, is basies 'n fort met gefortifiseerde torings wat deur sale saamgebind word.
Vir toegang tot die kasteel en uitkyktoring moet jy sowat N$200 opdok, maar jy voel nie ingeloop nie, want jy kry waarde vir jou geld.
Die kasteel is in 1905 van puinstatus gered deur die destydse burgemeester, Ivan Hribar, wat die bouvallige kasteel uit munisipale fondse gekoop het. Sy idee om 'n museum daar in te rig, is eers nie goed ontvang nie en die kasteel was die blyplek van arm gesinne tot 1963.
Hier, in sy eie museumsaal, blaas die ou legendariese Ljubljana-draak nog vuur. In 'n gat in die muur lê 'n stapeltjie draakeiers. As jy braaf genoeg is, steek jou kop daarin en uit die dieptes sal die ou gedierte brul. Hy moes vuur gespoeg het, maar dit kon te kwaai gewees het vir die gemiddelde toeris se hart. 'n Groot eier, op die punt om uit te broei, was deel van die interaktiewe uitstalling. Tegniese probleme het egter verhoed dat ons die klein drakie sien uitspring.
Tydens die Nazi-okkupasie tydens die Tweede Wêreldoorlog skeer die Ljubljaners gek met die oorheersers deur poppeteater-satires. Die pop van Hitler en sy lakeie is skerp, spottende kunswerkies. So het die Sloweniërs “die draak gesteek” met hul oorheersers. In die poppesaal-museum hang ook die tipiese sprokieskarakters en besoekers kan ook probeer om 'n pop te laat dans. Dit is glad nie so maklik nie.
'n Paar donker, beknopte selle het gedien as kerkers en gevangenes is volgens drie klasse ingedeel – lummels, skurke en vyfster (vir adellikes).
Die kasteel is 'n poging van Ljubljaners om 'n ryk geskiedenis in 'n kontemporêre gees nuwe lewe te gee. Hulle slaag nogal daarin, al meen sommiges 'n hot tub is niks meer as 'n bad met warm water nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie