Die Einstein van sy klas
Dirk Gallowitz
Mercedes-Benz het pas sy 10de geslag E-klas sedan in Durban bekend gestel. Die “E” in E-klas staan vir “Einspritzer” of te wel “inspuiting” en met meer as 13 miljoen E-klas modelle wêreldwyd verkoop, kan dit tereg as ’n suksesverhaal gereken word.
Die ongeoefende oog mag die nuwe model dalk net verwar met ’n effe groter C-klas van voor gesien, of dalk ’n kleiner S-klas as jy hom van agter betrag. Maar hoe ook al die voorkoms die nuwe “E” met sy stalmaats vereenselwig, is dit wat onder die elegante bakwerk skuil wat die nuwe model onderskei as die Einstein van sy geslag.
Mercedes beskryf die nuwe E-klas as die “intelligentste luukse sedanmotor ter wêreld” en nadat ons die bekendstelling bygewoon het en byna 400 km van Kwa-Zulu Natal se paaie met drie van die modelle gaan verken het, is ons geneig om daardie stelling te onderskryf.
Wat voorkoms betref, het die nuwe “E” nou sy hoekige, breë en plat voorkoms verruil vir onmiskenbare uiterlike ooreenkomste met die kleiner C-klas en luukse S-klas.
Met ’n lengte van 4,923 meter is die nuwe “E” nou 43 mm langer as die uitgaande model. Die wielbasis is ook met 65 mm gerek tot 2,939 meter. Die gevolg is dat die kantprofiel van die nuwe model nou meer elegant vertoon. Met die daklyn wat koepee-agtig laag na agter swiep, word die ontwerpfilosofie bekend as “Sensual Purity”, duidelik sigbaar. Dit het ook bygedra dat die agterste beenruimte met 6 mm verleng is, maar die bagasieruimte se 540 liter kapasiteit is soortgelyk aan die uitgaande model.
Die vooraansig word bepaal deur die keuse van afwerkingsvlak met die basiese model en “Exclusive Line” wat beide die klassieke Mercedes-Benz sierrooster vertoon waar die driepuntster voor op die neus geplaas is. Die luukser “Avantgarde”- en “AMG-Line”- afwerkingsvlak dra egter die sportiewe sierrooster met die 3-punt ster-logo in die middel, asook groter luginlate voor laag onder in die neus. Verskillende sierwielontwerpe is beskikbaar in 17”, 19” en 20” grootte.
BINNE EN BUITE
Van agter vertoon die breë skouers wat styf oor die wielboë trek na die groter S-klas. ’n Nuwe twee-streep agterligontwerp is ook nou beskikbaar met ’n splinternuwe opsionele ekstra bekend as “Milky Way”, met optiese kristalafwerking om die illusie van fyn sterremis of die gloei van ’n straalvliegtuig-enjin te skep.
Die twee uitlaatpype se ontwerp is soortgelyk aan dié van die C-klas.
Binne is die kajuit herkenbaar Mercedes, met die ontwerp, uitleg en instrumentasie wat visueel sterk na dit van die S-klas trek.
Die luukse binneruim is modern, elegant en sportief afgewerk met uitstekende gehalte en vakmanskap. Mercedes beskryf dit as ’n mengsel van emosie en intelligensie.
Voeg daarby gemak, veiligheid en doeltreffendheid en jy het ’n goeie idee van hoe een van die beste kajuite in ’n luukse sedanmotor behoort te wees. Genade – die agtergrond binneligte kan uit ’n keuse van 64 kleure gekies word!
Twee 12,3” hoë resolusie skerms is opsioneel beskikbaar waarop die virtuele instrumentasie en uitleg gekies kan word via twee “Touch Sensitive” aanraak-skakelaars op die stuurwiel wat presies geplaas is waar die duime links en regs op die stuurwiel sou rus. Hiermee kan die bestuurder kies tussen drie verskillende style waarin die ten volle digitale uitleg saamgestel word. Met “Classic”, “ Sport” of “Progressive” kan die samestelling van die inligting na gelang van die bestuurder se voorkeure vertoon word terwyl die bestuurder op die pad voor hom kan konsentreer.
Daar is hopeloos te veel stelsels en elektroniese stelsels beskikbaar in die nuwe E-klas om in hierdie beperkte ruimte te noem, maar laat ek volstaan deur te sê dat ’n kursus in die doeltreffende gebruik daarvan is aan te bevole. Met die “Linguatronic” stembeheerstelsel kan meeste van die klank-, kommunikasie- en ander stelsels deur middel van stemopdragte beheer word.
Dit is veral die innoverende wyse waarop die E-klas sekere funksies met slimfone integreer wat beïndruk. Dit is uiteraard gerig op ’n tegnologies gedrewe gebruiker en onderstreep Mercedes se aanspraak van die “mees intelligente luukse sedanmotor ter wêreld” en sou jy meer belangstel, sal dit loon om die amptelike Mercedes webblad vir die nuwe E-klas te besoek om die video’s daaroor te bestudeer.
Tans is net drie modelle plaaslik beskikbaar, naamlik die E200 petrol, E220d en E350d. Die E250, E400 4matic, E43 AMG en E63s (almal petrolenjins) sal in die verloop van 2016-2017 plaaslik debuteer.
Al die modelle word deur die agterwiele aangedryf met Mercedes se nuwe 9G outomatiese ratkas. Hierdie ratkas het tydens die bekendstellingsrit in al drie modelle beïndruk met soomlose skakeling selfs toe ons die “Sport” modus gekies en met die ratspane agter die stuur gespeel het.
RITGEHALTE
Tydens die bekenstellingsrit het die nuwe E-klas beïndruk met min pad- en windgeraas asook ’n sublieme ritgehalte. Laasgenoemde grootliks te danke aan die onderstel en veerstelsel met drie verskillende ritmodusse naamlik, “Agilty Control”, “Dynamic Control” en vir die eerste keer beskikbaar in ’n E-klas ook Mercedes se veelgeroemde “Magic Carpet Ride” -lugvering wat in die S-klas gedebuteer het.
Nog ’n slim stelsel in die nuwe E-klas is wat Mercedes “Drive Pilot” noem en is ’n verdere tree in die rigting waar motors uiteindelik sonder bestuurder-invloed self sal kan bestuur.
Een van die innoverende passasiersveiligheidstelsels in die nuwe E-klas is “PRE-SAFE Impulse Side”, ’n “ballon” in die skouerkant van die rugleuning wat sal “opblaas” (dit trek weer terug ) wanneer ’n kantimpak onafwendbaar is, om die skouer van die insittende na binne te dwing en dan die gordynlugsak te ontplooi om die insittende teen beserings te probeer beskerm.
’n Verdere veertjie in die E-klas se hoed is die hoë resolusie “Multibeam LED”-hoofligte.
Elke hooflig het 84 individueel beheerde hoë verrigting LED-liggies wat die pad vorentoe en soms ook sywaarts belig met ’n uitsonderlike skerp lig sonder om ander padgebruikers te verblind.
Elke liggie fokus en skakel afsonderlik aan en af en verander na mate die padtoestand en omstandighede wissel. Dit word elektronies beheer deur die E-klas se innoverende “Intelligent Light System”.
Mercedes se nuwe E-klas stel nuwe standaarde vir sy segment met stelsels wat die grense van tegnologiese en elektroniese toerusting in passasiersmotors verskuif. Dit gaan, myns insiens, ook menige eienaar se vermoëns om hierdie stelsels optimaal te gebruik, uitdaag.
Wat anders sou jy verwag van die Einstein van sy klas?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie