Die Ell’s: Bloedbroers van Afrika
Lloyd Zandberg
Vier jaar terug het Emmanuel Ndifon en Artwell Neusu, beter bekend as Slickartie, besluit om saam musiek te begin maak en die duo The Ell’s is gebore.
Intussen het The Ell’s se klanke al oor Namibië se vlaktes gewaai en menigde musiekliefhebbers se hartsnare geroer.
Sedert hul eerste optrede, is die Afrika-duo op al wat ‘n fees, troue en verjaardagviering te sien.
Hoewel die twee nie volgens hul geboortesertifikate bloedfamilie is nie, het musiek gesorg vir ‘n broederskap wat skynbaar soos brood en botter is. “In die stadium is ons broers,” verduidelik die duo.
Hulle doen baie goed saam. Al het dit nie met hul musiek te make nie. “Toe Slickartie trou, was ek een van sy strooijonkers. Dit was ‘n voorreg en so lekker,” sê Emmanuel.
Die duo se naam kom met ‘n storie. Een wat eintlik baie sin maak. Dis hoe dit gebeur het: “So beide ons name eindig met ‘n ‘l’, en dis presies hoe dit gebeur het. So eenvoudig soos dit.”
Die twee musikante is soos ‘n goed geoliede masjien. Hul oefen net as hulle beplande optredes het.
“Om eerlik te wees, oefen ons nie so baie nie. Ons is geweldig bevoorreg om ‘n goeie verhouding as musikante te hê. Dit maak die musiek meer organies. Wat gebeur is wat gebeur,” sê Emmanuel.
Die publiek is volgens hulle reg vir ‘n album.
“Ons beplan om vanjaar ‘n album uit te reik,” sê Slickartie. “Ons kom agter daar is baie aanhangers wat aanklank by ‘n album sou vind.”
Wanneer The Ell’s op die verhoog is, gebeur magic, sê hulle.
“Free Falling van John Mayer is ons gunstelingliedjie om te speel. Die harmonie in die koor is so lekker en mooi. Dis een van daai maklike liedjies wat baie impak het,” voeg Slickartie by.
‘n Optrede wat vir beide uitstaan, was hul optrede by die Midgard Taste Festival. “Dit was ‘n groot eer om saam met die Suid-Afrikaanse groep Freshly Ground op te tree.”
Dit was vir die duo ‘n bitterpil om te sluk toe die immergewilde Warehouse-teater sy deure finaal gesluit het. “Dit was so hartseer toe ons van die hartseer nuus hoor.”
Die Warehouse-verhoog, verduidelik hulle “het ‘n groot rol in ons lewe gespeel.”
Dit was die platform vir verskeie jong en opkomende kunstenaars om hulle talente ten toon te stel. Dit was die hub vir die kunsliefhebbers in die land.
Vir 2020 voer hulle baie in die mou.
“Ons wil in die eerste kwartaal ‘n paar enkelsnitte, en hopelik dan later ‘n vollengte-album bekend stel.”
Hulle sê hulle het genoeg oorspronklike liedjies om ‘n vollengte-album te kan vervaardig.
Die duo vertrek ook binnekort op ‘n Europese toer. “Baie Europese toeriste ken ons musiek omdat ons gereeld by die Warehouse-teater opgetree het,” sê Emmanuel.
Die toeriste het uiteindelik vriende geraak, en die idee vir ‘n toer in die buiteland het uit die verhouding ontstaan.
Die toer sal onder meer in Duitsland, Finland en Swede draai. Sodra hulle terugkeer, wil die duo verskeie konserte hou om hul oorspronklike musiek te bemark.
“Ons wil meer by skole, in winkelsentrums en ander dorpe in die land optree.”
Wat The Ell’s van ander musikante en duo’s uitsonder, is hul liefde vir Afrikaklanke. “Ons kombineer Westerse-klanke met die van tradisionele Afrikamusiek. Die djembetrom is veral prominent in ons musiek. Wanneer die klanke meng is dit asof daar ‘n nuwe musiekgenre ontstaan.”
Plaaslik wil die duo graag met kunstenaars soos Nasim, Shishani, Big Ben, Mel Mwevi en Vaughn Ahrens optree. “Die idee van ‘n toer met enige van die bogenoemde kunstenaars klink wonderlik.”
KASSIE
Wie is Emmanuel Ndifon? Beskryf jouself kortliks.
Ek is in Nigerië gebore, en het al in vier lande gebly – Nigerië, Engeland, Suid-Amerika en Namibië. Ek het by die Sekondêre Skool Otjiwarongo skoolgegaan. Daar het ek Afrikaans geleer. Ek het matriek by die Windhoek Internasionale Skool voltooi. Ek is tans besig met my finale jaar by Nust waar ek elektriese ingenieurswese studeer. Ek is nogal hartseer hieroor, want dit mag dalk my laaste jaar in Namibië wees.
Wat was tot dusver jou grootste uitdaging?
Dit is nogal ’n uitdaging om ‘n balans te vind tussen my musiek en akademie, want ek wil graag genoeg aandag aan albei gee. Soms skeep ek egter my musiek af om genoeg tyd vir my werk te maak, aangesien die nagevolge soveel erger sal wees as ek in my akademie misluk.
Wat is die beste en slegste deel van die musiekbedryf?
Die beste deel is om saam met ander kunstenaars te werk. Ek wil altyd deel wees van ander mense se dinge. Ek is ook mal daaroor om op te tree. Om te sien hoe mense deur jou musiek geraak word en hulself geniet, is ‘n wonderlike gevoel.
Die deel waarvan ek nie hou nie, is die frustrasie wat gepaardgaan met die konstante druk om vokaal en instrumenteel te verbeter.
Wat is die een ding wat jy in die musiekbedryf sal verander?
Ek sal graag wil sien dat luisteraars plaaslike kunstenaars meer ondersteun en verskillende genres ‘n kans gee. Dit sal wonderlik wees om te sien hoe vertonings bygewoon word deur die diverse gemeenskap waarmee Namibië spog.
Hoekom is jy so dol oor musiek?
Musiek is ‘n manier om jouself uit te druk. Dit kan mense bymekaarbring wat nie eens dieselfde taal praat nie. Dít is wonderlik en opwindend.
Het jy enige ander versteekte talente of passies?
Ek is baie geïnteresseerd in wiskunde, maar ek het nie noodwendig tyd om aandag daaraan te gee nie. Soms het ek tot drieuur in die oggend wakker gebly terwyl ek ‘n probleem probeer uitwerk. Dit is nogal hartseer dat ek niemand het om in díe passie te deel nie.
Hoe sou jou familie en vriende jou beskryf?
Ek dink hulle sal die woorde “luidrugtig” en “vrolik” gebruik. Vra hulle dalk eerder self, voor ek halwe waarhede kwytraak.
Is daar iets wat jy haat?
Ek haat geweld, valse beskuldigings en skelmstreke (behalwe as ons 30 Seconds speel). Ek waardeer kalmte en vrede.
As jy ‘n geleentheid het om enige plek op aarde te besoek, waarheen sal jy gaan?
Ek sal graag Japan wil besoek. “Anime” was ‘n groot deel van my grootwordjare. Ek sal die Japannese kultuur wil beleef.
Watter kunstenaars inspireer jou?
My gunsteling- internasionale kunstenaar is John Mayer. Hy is ‘n fantastiese liedjieskrywer en kitaarspeler. Slickartie, Raymond Mupp (Sir Ray), Mel Mwevi (Melanie Aiff), Miss H en Nassim Takyi is my plaaslike inspirasies. Ek het baie by hulle almal geleer.
Sou jy jouself as ‘n introvert of ekstrovert beskryf?
Ek is beslis ‘n ekstrovert. Ek hou daarvan om tussen mense te wees. Ek vermoed my Nigeriese wortels is die oorsaak daarvan.
Hoe voel jy oor die idee van roem?
Tot ‘n sekere mate sal ek daarvan hou om beroemd te wees. Maar nie só dat persoonlike aspekte van my lewe daardeur beïnvloed word nie. Dit is dalk naïef van my om te dink, maar ek sal steeds ‘n normale lewe wou lei as ek roem sou verwerf.
Wat is jou gunsteling-instrument en hoekom?
My kitaar, want dit laat my awesome voel, soos ‘n rockster. Dit is die eerste instrument wat ek wou leer speel.
Het jy enige formele musiekopleiding?
Glad nie. Toe ek veertien jaar oud was, het my ma vir my ‘n musiekboek gekoop. Dít is waar alles begin het. Sedetdien is YouTube en ervare musikante my leerskool.
Is jy ‘n huishen of ‘n kuierleier?
Dit hang af. Ek hou daarvan om saam met my vriende uit te gaan, maar saam met my meisie verkies ek ‘n rustige aand by die huis.
Wat is die vreesaanjaendste ding wat jy ooit gedoen het?
Toe ek op vakansie in Duitsland was, het ek spontaan by ‘n “sitkamerkonsert” opgetree. Daar was meer as 100 mense in die vertrek en almal het stil gesit en kyk hoe ek alleen speel. Dit was baie intens! Toe ek klaar was, het almal opgestaan en hande geklap. Dit was ‘n wonderlike oomblik.
KASSIE
Wie is Slickartie? Beskryf jouself kortliks.
Ek is in 1989 as Artwell Neusu in Zimbabwe gebore. Ek is ‘n selfgeleerde sanger, liedjieskrywer en perkussiespeler. Musiek hou my siel al van ‘n baie jong ouderdom af lewendig. My musiek word deur my lewenservaringe en die mense rondom my geïnspireer. Ek is ‘n kunstenaar in murg en been.

Om ‘n deurbraak te maak in ‘n buitelandse musiekbedryf, terwyl ek skool klaargemaak het en met my beste vriendin getrou het.

Dit is wonderlik om te praat vir dié wat nie stemme het nie, en ek geniet die vryheid om met my musiek te toer. Ek waardeer nie die stereotipering van musikante nie.

Ek sou mense laat verstaan dat die bedryf nie ‘n kompetisie is nie, en dat ons mekaar nodig het om te groei in die bedryf.
Hoekom is jy so dol oor musiek?
Ek kan myself daardeur uitdruk. Dit is ook wonderlik om te sien hoe ons musiek die vreugde in mense wakker maak.

Ek bestuur ‘n klein besigheid, maar musiek bly my grootste passie.

Hardkoppig, passievol en luidrugtig.
Is daar iets wat jy haat?
Geweld, ek weet nie eens hoekom dit bestaan nie. My hart breek ook wanneer ek rassisme en xenofobie aanskou.

Ek sal Asië besoek. Ek is mal oor die Asiese kultuur en die respek wat hulle vir kuns het. Ek bewonder die manier hoe hulle jong kunstenaars kweek.
Watter kunstenaars inspireer jou?
Oliver Mtukudzi, Elemotho, Big Ben, Hugh Masekela en Salif Keita. Emmanuel natuurlik, en Sir Ray, Lize, Mel Mwevi, Daena Weeks Shishani. Die lys is baie lank.

Ek is beslis ‘n ekstrovert. Ek is mal oor die buitelug en hou daarvan om tussen mense te wees.
Hoe voel jy oor die idee van roem?
Ek hou nie daarvan nie. Ek wil steeds die vryheid hê om te doen wat ek wil, en wanneer jy roem verwerf, verloor jy jou privaatheid. Die media en mense wat jou reputasie wil swartsmeer, sal deel word van jou lewe.

Die Djembetrom. Tromme is as kommunikasievorm deur ons voorgeslagte gebruik. Dis asof hulle met my “praat”.
Het jy enige formele musiekopleiding?
Ek het ‘n uitvoerende kunste-kursus op universiteit gedoen.
Is jy ‘n huishen of ‘n kuierleier?
Ek is nou getroud, so ek is seker ‘n huishen.

Ek het ‘n spontane Oliver Mtukudzi-gedenkkonsert gereël. Ek het ‘n paar musikante aan boord gekry en die bemarking self behartig. Ek was nie seker of enigiemand sou opdaag nie, maar daar was op die ou einde meer as 400 mense en hulle het vir maande daarna nog daaroor gepraat.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie