Die emansipasie van Afrikaner-heupe
Die emansipasie van Afrikaner-heupe

Die emansipasie van Afrikaner-heupe

Henriette Lamprecht
Meel op die sementvloer, Springbok-plate op die draaitafel. As die plate krap, is dit soek op die draadloos vir versoeke wat die voete laat jeuk. Kleintyd se eerste kennismaking met dans was gewoonlik ’n geskoffel óf deel van ’n oornooibraai óf een of ander funksie wat meer geword het soos die jaar einde se kant toe gestaan het. Daar was die kommando se afsluiting, die skietbaan se opening, die Schulerheim se lentefees, die Boerevereniging se verjaarsdag en die Vroue Landbou-unie se afsluiting. Dit was ’n gelangarm en ’n geskuifel, want “Afrikaners is plesierig, dit kan julle glo. Hulle hou van partytjies en dan maak hulle só”.

Die kinders immers orals saam en die slaapsak en kussing standaard deel van die inpak van die braaibroodjies of oranje drilslaai in ’n geel Tupperware-bak. Ma en pa opgetof, kinders by voorbaat klaar gebad en in slaapklere en stokies-pantoffels om hulle sommer laatnag van die kar af in te dra bed toe.

Terwyl die grootmense skoffel-skoffel en met arms wat windpomp die meel van die sementvloer af dans, lê die kinders op hul slaaphopies onder die gedekte tafels en kyk of hulle kan raai aan wie behoort wie se skoene en bene.

Op laerskool is dans beperk tot die serpie om die nek, die wye romprok en die knik van die knie voor jy die ou voor jou in sy elmboog se mik haak en tiekie.

“O, laat julle kwassies swaai-swaai en laat die wiele draai.”

Met hoërskool breek die tyd van garage parties aan. Ai, waar is die dae van afwagting wat begin met die ontvangs van die geskrewe uitnodiging en dan die eindelose beplanning van hoe jy jou bolla dié keer gaan klits en natuurlik die uitrusting wat perfek moet wees.

Die herinneringe hieraan is meestal soet soos die after shave van dié een wie se naam jy omring met harte in jou huiswerkboek wat nog aan jou hande klou. Die muurblomstatus en die groottoonnael of twee wat met ’n oorywerige dansmaat se two step in die slag gebly het, minder aangenaam. So ook die immerteenwoordige close-dans wat gewoonlik jou in die arms van iemand laat beland wat die close-faktor báie ernstig opneem. Laataand as die after shave en die deoderant lankal van die lyf af gestep het.

Twee keer. Twéé keer beland ek op Jennifer Rush se “I’m your lady” in dié netelige posisie. Twee keer wat sweerlik ook die ellelange weergawe van Jennifer se treffer was.

Teen matriek se koers kom die lekker van “los” dans, Club 2000 en Billy Idol se “White Wedding”.

G’n niks van teen ’n muur staan en wag vir iemand om jou oor die vloer te sleep nie.

“Sisters are doing it for themselves, standing on their own two feet . . . ”

Deur studentejare is sokkies in koshuise se eetsale met “Hungry Eyes” en jou immer probeer om a la Dirty Dancing daai oomblik van Johnny wat vir Baby so hoog bo sy kop lig, te vervolmaak. Die sukses van laasgenoemde het dikwels afgehang van (a) die krag van my Johnny se arms en (b) hoe styf in Bacchus se arms my Johnny voor die groot oomblik was.

Die grootste sprong van langarm was tot binne-in die boesem van belly dancing. Wat ’n ontwaking en bevryding vir Christelik-nasionale heupe was dit nie! Kyk, maklik was dié pad nie. Vir ’n Nederduitse Gereformeerde meisie om heuplangs te shimmy en te wriemel, was so goed jy praat hardop in die kerk en verbrand jou blou handboek vir geestesweerbaarheid. Maar toe die shimmy eers inskop en jy met skemer in die woestyn saam met jou belly sistas die volmaan al heupswaaiend groet, toe weet jy. Dié Afrikaner se heupe is geëmansipeer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!