Die Fukuseki is dood, lank lewe die Fukuseki
Des Erasmus - Doer ver in die noorde naby die plek waar die Ugabrivier verkondig tot hier toe en nie verder nie, lê nou op een van die rotsriwwe van die see nou ook die wrak van ‘n Japanse vistreiler.
Dis so ‘n paar kilometer suid van die legendariese wrak van die Winston. Dis nou waar die Fukuseki Maru No. 7 verklaar het hy sal reddingswerkers nou nie langer met hom laat rond-fuku nie.
Ganoeg is ganoeg!
Maar lank lewe die Fukuseki. Die reddingswerkers en versekeraars van verre lande soos Japan en Brittanje, bygestaan deur knap Walvisbaaiers en lugdekking wat deur helikopters en ligte vliegtuie gegee is, het nog nie eens hul handdoeke in die see gegooi nie toe begin die eerste stories al.
Terwyl stropers nog besig was om alles af te takel wat van waarde kan wees, was die eerste fabel daar. Daarvolgens sou die Japanners geweier het om een van die luike oop te maak. Nou wat sou daarbinne wees? Dis vrae soos die wat die avonturiers, skattejagters en toeriste na die skeepswrakke bring. Dis amper of hierdie mites die hiernamaals van die duur vaartuie is wat die stryd teen die magtige oseane verloor het.
Nie verniet nie dat oorle Koos gedig en gesing het van die kelders van die see nie.
Nou word toerisme ‘n groot wenner. Wrakke is soos ou soldate, hulle gaan nooit dood nie.
Toe die Zeila in die hedendaagse geskiedenis net suid van Jakkalsputz en naby Die Walle in die Hentiesbaaise kontrei gestrand het, het almal gemeen dit is oor en uit met die ou staatmaker. Maar ry maar vandag daarlangs met die soutpad wat nou ‘n teerpad word. Mooi weer of onweer, ‘n swerm toeriste het die afdraai see toe geneem om daar naby die plek waar die seevoëls op die ou konstruksie bly verbeeldings op die seewind te laat wapper. Lastige klipsmouse staan nader om hul sake te probeer doen, maar die besoekers kyk net ver oor die see met duisende foto’s wat geneem word. Eers weer tuis in hul verre lande sal hulle self die onderskrifte fabriseer.
Net suid van Swakopmund het die Kolmanskop ook in die wordingsjare van die jaartal 2000 naby die kant in sy watergraf beland. Die wrak is feitlik tot op sy laaste skroefie afgetakel met net ‘n enkele hardnekkige mas wat met laagwaters bokant die golwe uitsteek. Baie mense ry bedags daarlangs, maar niemand hou vir oordenking stil nie.
Stories was daar wel met die Kolmanskop se dood. Die stropers het ná die stranding ‘n ding soos ‘n foefieslaaid van die strand na die boot gebou om alles van waarde af te haal. Toe sê die mense dit was ‘n kontrepsie om die seerotte op die boot na die veiligheid van die land te bring.
‘n Wrak suid van Torrabaai was lank gelede ‘n gewilde ingooiplek op soek na galjoen toe die ou rug nog buigsaam soos die visstok was. Terwyl op ‘n pikkie aan die aas gewag was, het verbeelding baie dae ‘n gulsige pluk aan die lyn gegee. Watter verborge skatte lê iewers op die bodem van die see? Trommels vol silwerlinge agter onverganklike grendels? Goudklonte so groot soos rolballe in ‘n kluis?
Of selfs die gees van ‘n seerower kan nog daar dwaal. ‘n Swart hoed wat aan die een kant opgeklap is met ‘n meeuveer wat wapper in die wind. Die een oog is spookflou en oor die ander dra hy ‘n klappie. ‘n Swaar swaard in sy hand met ’n lang wit kous wat tot teenaan sy kniebroek rank. Die ander been is van hout. Oor die dek wapper nog ‘n vlaggie met ‘n beeld van ‘n skedel en kruisbene.
En strand net een nag in ‘n bakkietjie in die diep sand suid van Walvisbaai. Namate dit nag word, kan jy sweer daar is weer skimme wat daar in die verlatenheid dwaal.
Miskien het die Fukuseki nie verniet gestrand nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie