Die gawe van gesondheid
Om ’n siek kind ’n kans op ’n beter lewe te gee, is ’n voorreg.
Henriette Lamprecht – Haar reis met die seun aan wie sy later ’n nier sou skenk het in Februarie verlede jaar begin, kort nadat albei Julian Rittmann van Rehoboth se niere verwyder is.
Erica Dien was in Pretoria vir werk en Julian, haar neef se seun, was in die Morningside-kliniek in Johannesburg opgeneem. Tydens ’n besoek aan Julian het Erica in haar gees ervaar sy is die persoon wat ’n nier aan hom sou skenk.
“Die oortuiging was so sterk en ek glo dit het van die Here af gekom,” vertel Erica.
Terug by die huis het sy dit met haar kinders bespreek en vir Julian se ma laat weet sy wil haar as moontlike skenker vir haar seun laat toets.
Erica onthou hoe Julian tydens haar besoek in die hospitaal steeds ’n glimlag op sy gesig gehad het. Ten spyte daarvan dat hy bitter siek was.
“Ek het baie daaroor nagedink en besef ons as grootmense is soms so ondankbaar en kyk negatief na die lewe. Hier was ’n kind wat nog net siek was en hy is positief oor die lewe,” vertel Erica.
Dit was Julian se positiewe ingesteldheid en haar geloof wat haar “absoluut gemotiveer het” om as sy skenker op te tree, erken sy.
“Om ’n siek kind ’n kans op ’n beter lewe te gee – wat ’n voorreg! Alle eer aan die Here.”
Erica moes verskeie toetse ondergaan voordat sy as ’n positiewe skenker geïdentifiseer is.
Die eerste toetse was om te sien of Julian en Erica dieselfde bloedgroep is. Dit is gevolg deur bloedtoetse vir algemene gesondheid, wat van bloeddruk- tot bloedsuiker- en cholesteroltoetse ingesluit het.
“Hulle toets omtrent elke blokkie op die Pathcare-lys! Die cross match is natuurlik die senutergendste van die klomp toetse. Is julle nie ’n match nie, stop alles net hier.”
Die bloedtoetse is gevolg deur onder meer CT-skanderings, X-strale, ’n mammogram en die toets van Erica se lewerfunksies.
“Hulle maak dubbel seker jy is so gesond soos ’n vis in die water!”
Dit was ’n lang, uitgerekte proses vandat sy die betrokke toetse ondergaan het totdat Julian uiteindelik sy nuwe nier ontvang het, vertel sy.
“Ek het al begin wonder of die medici en die koördineerders nie die dringendheid van die geval besef nie. Ek het van Februarie tot Julie verlede jaar gewag voor die proses regtig begin het. Dan was dit weer stil tot Oktober.”
Die meeste toetse is teen Oktober 2017 afgehandel, maar in Januarie vanjaar is Erica eers laat weet haar lewerfunksie is “van balans af”.
Sy is weer getoets en in Februarie vanjaar is sy uiteindelik ’n geskikte skenker verklaar.
Erica het met haar toetsuitslae Johannesburg toe gevlieg om die betrokke chirurge te gaan sien. Toe begin die gewag vir goedkeuring van die Suid- Afrikaanse Departement van Gesondheid.
In Mei word die groenlig vir die skenking gedoen en op 28 Junie vanjaar het Julian uiteindelik sy nuwe nier ontvang.
Haar reis was een van geloof en vertroue in die Here, vertel Erica.
“By tye kon ek self nie die vrede wat ek beleef het gedurende my reis en selfs die dag van die operasie verstaan nie. Ek was so kalm, dít terwyl almal om my taamlik emosioneel was. Ek kon net die gesig van ’n gelukkige en gesonde Julian voor my sien.”
In haar hart het sy geglo sy het niks om te vrees nie, vertel Erica.
“The God that brought me to it, is the same God who will take me through it. Ek was, om die minste te sê, baie opgewonde!”
Haar herstel was eintlik “maklik”, erken sy. Op die derde dag is haar pynmedikasie gestaak en het sy ’n “bietjie seer en ongemak” gehad, maar baie min pyn. “Die fisioterapeut het my al op die derde dag trappe laat klim en op dag vyf is ek ontslaan.”
Sy het nie regtig iets “opgegee” nie, maar sy moet in die algemeen gesond probeer lewe, vertel Erica.
“Al wat die dokter gesê het, is dat ek versigtig met die gebruik van pille en medikasie moet wees. Gelukkig is ek nie ’n pillemens nie.”
Ook is gereelde oefening belangrik en Erica moet waak teen leefstylsiektes soos cholesterol, diabetes en hoë bloeddruk.
Die skenker se mediese onkoste kan mense wel afskrik, erken Erica.
“Soos ek verstaan, dek die mediese fonds net die skenker se hospitaalkoste. Hulle dek nie vervoer en verblyf nie. Daar is ook onsekerheid oor wat gebeur sou daar ’n comeback op die operasie wees.
“Ek dink egter dit gebeur seker net waar die ontvanger en skenker op verskillende mediese fondse is. Die een fonds is moontlik nie bereid om die risiko’s van ’n ander fonds te dra nie.”
Die feit dat ’n mediesefondslid, of die ontvanger, nou ’n beter en gesonder lewe danksy die skenker het, sal die uitgawes in die lang termyn drasties verminder, sê Erica.
“Onsekerheid rondom die volledige koste van so ’n oorplanting kan mense afskrik om as skenker op te tree.”
Volgens Erica behoort nasionale inisiatiewe van stapel gestuur te word om Namibië se eie skenkerbank te begin.
“Ek dink daar is soveel mense wat oorweeg om hul organe te skenk, maar daar is nie ’n skenkerbank of wetgewing daarvoor nie, ten minste nie waarvan ek bewus is nie.”
Skenkers wat suksesvolle operasies ondergaan het en wat normale, gesonde lewens lei, moet ook by bewusmakingsinisiatiewe betrokke raak.
“As mense weet jy kan ’n normale lewe ná ’n skenking lei, sal dit hulle motiveer om hulle as skenkers te laat toets.”
Met verwysing na mediese fondse moet die proses vir beide skenker en ontvanger in terme van finansiering en ondersteuning makliker gemaak word, sê Erica.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie