Die geur van vars koffie en melktert
Mariana Viljoen - “My nooi is in ’n nartjie, my ouma in kaneel, daar’s iemand . . iemand in anys, daar’s ’n vrou in elke geur!” aldus D.J. Opperman.
My ouma aan my pa se kant is in die geur van koffie wat staan en trek en my ouma aan my ma se kant in varsgebakte melktert.
Ouma het selfs op die dorp nog ’n vuurtjie gemaak, die koffiepitte in ’n swartpot gebrand en daarna gemaal. Daardie koffie was onmenslik sterk, maar het baie lekker geruik.
Dit is dieselfde ouma wat doodseker gemaak het elke krieseltjie skil is afgeskil voordat vrugte of groente geëet is of in ’n slaai gebruik is. Ek en my niggie was in groot moeilikheid toe ons die destydse kosgier nagevolg het en ’n komkommer net met ’n vurk geskraap het en die vir ons mooi skyfies in ’n slaai gegooi het. Ouma se krom oumensvingertjie het elke stukkie uitgewys wat ons ewe gedweë uit die slaai moes haal en skyfie vir dun skyfie moes afskil – onder groot gegiggel van ons kant.
Ander ouma was ’n bobaasbakster van melktert. Op melktertdag is die koolstoof donker al aangesteek. Die skilferkorsdeeg is ook vroegoggend gemaak terwyl die kombuis nog koud was. Die melkterte het reeds in die spens gestaan om af te koel wanneer ons opgestaan het. Skilferkors wat in laag-op-laag blare oor die blikborde se rande tuimel met ’n goudgeel vulsel. Versoeking. Maar dit was eers vir baie later saam met koffie. En net ’n snytjie op ’n slag. As jy gelukkig was, was daar konfyttertjies van die oorskietdeeg gemaak waarvan jy darem mag geproe het.
Dis die ouma wat askoek gemaak het wat in die somer saam met ’n stukkie wors, waatlemoen of turksvye en ’n bekertjie melk aandete was. Saligheid. En wat plaasbrood gebak het wat ons dorpskinders aan die begin nie wou eet nie, want mens koop mos brood. Later was dit ’n lekkerny met ’n dik laag kaiings daarop gesmeer.
Ek het nog nie my oorlede skoonma se gelyke in lewer met suursous en vetkoek of haar pofadder stadig oor die kole gebraai, raakgeloop nie. Ander kan dalk naastenby dieselfde ruik, maar hulle sit die pot heel mis wanneer dit by smaak kom.
En die geur van die huis wanneer my ma kleinkoekies en beskuit gebak het. Koffiekoekies, gemmerkoekies, karringmelkbeskuit en later die heerlikste ontbytbeskuit. Dis ’n reuk wat lank in die huis hang, want dis die bak en dan die uitdroog van die beskuit. Die seuns assosieer ouma ook met bak en selfs die oudste twee kleinseuns vra “wat het oumagrootjie vir ons gebak” wanneer ons van haar praat.
Haar biefstuk-en-niertjiepastei was wat jy eerste geruik het wanneer jy vir ’n vakansie huis toe gegaan het. Dit was amper sonder uitsondering tradisioneel die eerste aandete van die vakansie. Die tertborde se groottes het so gewerk dat sy altyd drie op ’n slag gebak het. Gewoonlik vir aandete en ’n snytjie of wat vir ontbyt die volgende dag.
Wonder watter kombuisgeur my kleinkinders met my assosieer. Dalk kerriemaalvleis wat “nog kos” genoem word deur die oudste enetjie. Dis nou tot ouma se hand een aand met die kerrie geglip het en hy nie geweet het hoe om vir sy ouma te sê dis nie lekker nie. Na die eerste happie het hy sy armpies gevou en ouma verwytend aangekyk, maar wou nie sê hoekom hy nie verder wou eet nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie