Die gewone Namibiër is kosbaar
Tanja Bause
Dit voel asof die veldbrande vanjaar besonders erg en wydverspreid was. Ek weet nie of dit wél so is nie, aangesien die vorige jare droogtejare was.
Toe die reën uiteindelik gekom het, het die gras gegroei en dit was dus brandstof vir die kleinste vlammetjie.
Sterk winde het ook gewaai; miskien is dit nog ’n faktor? Ek is nie ’n kenner op die gebied nie, dus sal ek myself nie verder daaroor uitlaat nie. Wat ek wél weet, is dat die brande Namibiërs weer eens verenig het.
Ons het bewys wanneer daar nood is, dan vat ons mekaar se hande en probeer die las vir mekaar ligter maak. Dis wie en wat ons is.
Kom ons gesels oor die laaste brande waar talle plase vanaf Okahandja tot amper by Seeis gedeeltelik of heeltemal afgebrand het.
Baie van die brandbestryders het dae aaneen die vlamme probeer blus, sonder enige behoorlike slaap. Hulle was doodmoeg. Tog het hulle ná kort power naps weer in hul bakkies geklim en net aangehou.
Hulle het keer op keer die vlamme getrotseer in die hoop om die volgende plaas te red.
Boere het van heinde en verre gekom om te help en het hul eie voertuie, toerusting, mense en brandstof gebruik sonder om vrae te vra of om vergoeding te verwag.
Maar dit was ook nie net medeboere wat kom help het nie; mense van die straat het uitgery om hand by te sit.
Mense en besighede het water, kos en toerusting geskenk. Dis ’n Namibiese “trademark” om iets te gee wanneer ons nie die kennis het om dit self te doen nie.
Dié veldbrand is soos baie ander brande deur ander mense se roekeloosheid en nalatigheid veroorsaak.
Die weermag het na bewering een van die brande begin. Hulle het vir ’n paar uur op een plaas gehelp en daarna is hulle nie weer gesien nie.
Ná die negende dag wat die brand nie onder bedwang gebring kon word nie, was mense kwaad.
Duisende soldate is landswyd op verskillende basisse gestasioneer. Mens sou verwag hulle sou nie té besig wees om te help nie aangesien hulle glo die brand begin het.
Duisende hektaar gras is verwoes, drade vernietig en wild verbrand. Baie van die skade kon vermy gewees het as die soldate kom help het en die brand vroeër onder beheer gebring kon word en nie eers ná 10 dae nie.
Baie werkers en boere met wie ek gesels het, was ontsettend kwaad.
“Hoekom help die regering nie? Waar is hulle? Ons is moeg en bang hierdie lodge sal afbrand en dan sal die toeriste nie meer kom nie. Ons omgewing en diere is ons toeriste-aantreklikheid en hulle wat die vuur begin het, lê dronk onder bome rond,” het een van die werkers gesê.
“Ons het vir hulle gestem en my inkomstebelasting betaal hulle salarisse en tog wanneer ons in nood is, sit hulle terug en kyk net. Hulle is die skuldiges en nou maak hulle asof hulle blind is en van niks weet nie,” het ’n ander een gesê.
Deursettingsvermoë het gewone Namibiërs bymekaar laat staan. Almal het gedoen wat hulle kon. Daar was geen verskil tussen baas of Klaas nie. Al die brandbestryders was dieselfde – met een doel voor oë – om die brand te stuit.
Dis wat ons land so wonderlik maak; die gewone mense op straat wat die land aan die gang hou en sorg dat die wiele aan die rol bly. Nie die regering, die besluitnemers of mense in topposisies nie.
Baie dankie aan ’n ieder en ’n elk.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie