Die groot Britse ‘koebaai’

Henriette Lamprecht
Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het oor die naweek druk van Frankryk, Brussel en haar eie regering ervaar om druk op Brittanje te plaas vir die begin van onmiddellike onderhandelinge ten einde Brittanje se egskeiding van die Europese Unie (EU) te bespoedig.
Diegene wat skepties oor die EU is in ander lidlande het Britte se besluit om die EU te verlaat, geloof. Wat wel duidelik is, is dat die Britse referendum skokgolwe deur die wêreld gestuur het.
Met die uitslae van die referendum, wat in die vroeë oggendue Vrydag bekend geword het, en die aankondiging dat die Britse premier, David Cameron, bedank het, het druk uit Europa opgelaai om so vinnig as moontlik ’n finale skeiding te verseker.
Merkel, die magtigste leier in Europa, was egter ’n spreekwoordelike stem roepende in die woestyn, met haar beredeneerde uitsprake dat sy geen druk op Brittanje sou uit­oefen nadat Cameron aangedui het formele onderhandelinge sal eers ná Oktober begin, wanneer die Konserwatiewe Party ’n nuwe leier aangewys het.
In Brittanje het die verdeeldheid vergroot ná die naelskraapse 52-48 persent stemming in die referendum.
Meer as 2,4 miljoen Britte het in ’n petisie, op die Britse parlement se webtuiste, vir ’n tweede referendum gevra indien die stempersentasie minder as 75 persent (drie persent meer as Donderdag se stempersentasie) was.
Die verdeeldheid het ook sy tol in die Arbeidersparty geëis toe die party se leier, Jeremy Corbyn, sy skadu-­minister van buitelandse sake, Hilary Benn, gister afgedank het. Corbyn het aangedui dat hy enige poging om van hom ontslae te raak, sou teenstaan.

Wat beteken Brexit vir die EU?
Dit het negatiewe sowel as positiewe implikasies.
Aan die een kant kan dit die druk in ander lidlande laat toeneem om ook die EU te verlaat. In Frankryk en Nederland het regs-populistiese leiers soos Ma­rine le Pen (Nasionale Front) en Geert Wilders (Partij voor de Vrijheid) reeds soortgelyke referendums geëis.
In die Skandinawiese lande, asook Italië en Oostenryk, bestaan soortgelyke sentimente.
As die kwessie nie verstandig bestuur word nie, kan Brexit ’n water­skeiding in die moderne Europese geskiedenis wees wat tot die verbrokkeling van die EU lei. Dan is dit op die duur nie ondenkbaar dat Europa weer tot die histeriese nasionalisme en ekstreme onstabiliteit van voor 1945 terugkeer nie.
Aan die positiewe kant het die boodskap van die Britte – dat Brussel (hoofkwartier van die EU) te veel mag ten koste van die nasionale regerings gekry het – wel deeglik inslag gevind. Op inisiatief van Merkel het die leiers van die ses oorspronklike stigterslande van die EU se voorganger, die Europese Ekonomiese Gemeenskap, gister in Berlyn vergader.
Daar het die ses (Duitsland, Frank­ryk, Italië, Nederland, België en Luxemburg) besin oor die moontlikheid om ’n “Europa van verskillende snelhede” te skep.
Met ander woorde, dat die Europese integrasie­proses nie aan alle lande opgedwing word nie, maar dat lande self kan kies in welke mate hulle daaraan wil deelneem.
Ook kan die afwesigheid van Brittanje aan die onderhandelingstafel die EU se besluitnemingsvermoë bevorder.
Reeds sedert die tyd van Margaret Thatcher in die 1980’s was Brittanje ’n voortdurende blok aan die been, en naas die teleurstelling merk ’n mens in verskeie Europese hoofstede­ amper ’n sug van verligting.

Wat beteken Brexit vir die VK?
Daar is ’n sterk moontlikheid dat die Verenigde Koninkryk van Groot-Brittanje­ en Noord-Ierland as sodanig ná dese kan verbrokkel.
Waar die Engelse oorweldigend vir ’n vertrek uit die EU gestem het, was die Skotte en Noord-Iere ten gunste van voortsetting van lidmaatskap.
Skotland se eerste minister, Nicola Sturgeon, het gesê sy wil met regstreekse onderhandelinge met Brussel begin en moontlik ’n tweede referendum in Skotland hou oor Skotse onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk. In 2014 het die Skotte met ’n klein meerderheid teen onafhanklikheid gestem, maar die kans op ’n oorwinning lyk nou veel groter.
’n Mens hoor deesdae dikwels Skotte wat sê Brussel is by wyse van spreke veel nader as Londen.
Oor die ekonomiese gevolge verskil kenners. Die tyd sal moet leer.
Die belangrikste is sekerlik dat die land binne ’n paar maande ’n nuwe premier sal kry. David Cameron het aangekondig dat hy teen Oktober gaan bedank sodat die Konserwatiewe Party se kongres ’n nuwe leier kan aanwys.
Veral drie name word as sy opvolger genoem: Die ambisieuse en flambojante Boris Johnson, sy mede-Brexitter­, die konserwatiewe Michael Gove, en die minister van binnelandse sake, Theresa May (wat haar bes probeer het om haar nie te sterk met een van die twee kampe in die party te identifiseer nie).
Wie ook al die mantel by Cameron oorneem, gaan ’n moeilike tyd hê. In die eerste plek sal hy of sy ’n diep verdeelde party moet probeer verenig terwyl hulle terselfdertyd die reusetaak gaan hê om die hele Brexit-­proses te bestuur. Gewis nie ’n maklike taak nie.
Ook die Arbeidersparty gaan waar­skynlik nie sonder skade uit die hele gedoente kom nie. Amptelik was die party ten gunste van EU-lidmaatskap, maar baie Arbeider-parlementslede hou hul leier, Jeremy Corbyn, verantwoordelik vir die party se futlose veldtog en die feit dat talle geswore Arbeiderkiesers gestem het om die EU te verlaat. Die senior partylid Margaret Hodge het reeds ’n mosie van wantroue in Corbyn ingestel. As dit aanvaar word vir debat, sal die Arbeiders se parlementêre koukus môre daaroor stem.

Wat gebeur nou?
“Niemand weet nie,” is al antwoord wat die assistent- politieke redakteur van die BBC, Norman Smith, gister­oggend aan luisteraars van Radio 4 se oggendnuusprogram kon gee.
“Ons het in werklikheid deur ’n deur gestap terwyl niemand regtig seker is wat aan die ander kant is nie.”
Boris Johnson, die man wat waar­skynlik vir David Cameron as eerste minister gaan opvolg, het Vrydag gesê daar is “geen haas” om uit die EU pad te gee nie.
Maar die president van die Europese parlement, Martin Schulz, sê die tydtafel is nie vir Brittanje om te bepaal nie.
Onsekerheid is die “teenoorgestelde van wat ons nou nodig het”, het hy aan The Guardian gesê.
“Dit is moeilik om te aanvaar dat ’n hele vasteland as gyselaar gehou word as gevolg van ’n interne geveg in die Tory-party.”
Formele onttrekking uit die EU word bepaal deur artikel 50 van die Lissabon-verdrag. Die artikel is slegs vyf paragrawe en 250 woorde lank en het eintlik twee bepalings: ’n Lidland wat uit die klub wil bedank, moet kennis gee van sy voorneme en het dan twee jaar tyd om sy verhouding met die res van die EU te heronderhandel. Loop hy die spertyd mis, val Brittanje weg uit die EU sonder enige waarborge – tensy elkeen van die lidlande individueel instem om die spertyd uit te stel.
Dit is ’n reusagtige taak.­ ­Ooreenkomste tussen die EU en Brittanje beloop 80 000 bladsye en die Britse parlement sal moet besluit watter van die EU-besluite deel gaan word van Britse wetgewing en wat nie. Dit kan die parlement jare lank besig hou.
- Nampa/Reuters/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer