Die Guptas se nuwe nes in die woestyn

Jo-Mare Duddy Booysen
Susan Comrie

Toe Villa L35 in Emirates Hills, Dubai se “duurste poskode”, in Maart 2015 te koop was, is dit só geadverteer: “Awaiting a VVIP . . . with deep pockets.”
Drie bronne het intussen bevestig dié luukse woning is die ­Guptas se nuwe huis, ver weg van Saxonwold, hul Johannesburgse rykmansbuurt.
Teen 110 miljoen dirham (R448 miljoen) was die huis die duurste eiendom in die mark in die hele Verenigde Arabiese Emirate (VAE) toe dit gekoop is.
Die huis is uitspattig, selfs aan Dubai se standaarde gemeet: Dit is versier met goud en marmer, daar is tien slaapkamers, 13 badkamers, nege onthaalvertrekke, ’n handgeverfde koepel, 11 parkeerplekke en ’n kandelaar in amper elke vertrek.
Op ’n goue wapenskild by die ingang pronk die woorde “Gupta” en “Saharanpur” saam met die webadres www.singhala.com. Dié webadres is nie aktief nie, maar rekords toon dis verlede jaar geregistreer deur Ajay Gupta se seun, Kamal Singhala Gupta.
Saharanpur is die dorp in Uttar Pradesh, Indië, waar die Gupta-broers Ajay, Atul en Rajesh grootgeword het.
Hulle het onlangs daar begin met die bouwerk aan ’n Hindoe-tempel wat meer as R200 miljoen gaan kos.
Toe die familie ’n maand gelede in hul straler uit Suid-Afrika na Dubai vertrek het, het bronne na aan hulle gesê hulle “boek uit” en gaan ’n nuwe lewe in Dubai begin.
Volgens bronne woon Rajesh Gupta al ’n geruime tyd in Emirates Hills. Verlede Oktober is ’n groot woonhuis in dié buurt, wat ook aan die Guptas behoort het, vir R380 miljoen verkoop.
Ondanks die hoë pryse word die luukse woonhuise in Emirates Hills glad nie agter lang opritte weggesteek nie. Dit is immers Dubai se antwoord op Beverly Hills en elke peperduur fasade word reg teen die pad uit­gestal. Eiendom in Dubai is ’n goeie belegging.

‘Vuil geld’
Eiendomsagente en joernaliste vertel stories van “vuil geld” wat in aktetasse uit plekke soos Rusland aankom om eiendomme kontant te koop en wolke­krabbers wat gebou word, maar nie uitverhuur word nie, vir die enkele motief om geld weg te steek.
Nicholas Shaxson, skrywer van Treasure­ Islands: Tax Havens and the Men who Stole the World, beskryf Dubai as een van die “vuilste plekke op die planeet” weens hul finansiële ondeursigtigheid.
In Dubai word inligting oor eiendomme nie openbaar gemaak nie.
Anders as in Suid-Afrika word bittermin maatskappye en hul direkteurs in die openbaar gelys, en eiendom­rekords kan nie bekom word sonder die hulp van ’n prokureur nie.
Vlugrekords wys hoe die Gupta-straler, ZS-OAK, die afgelope maand gevlieg het tussen Dubai, Antalya in Turkye (waar Ajay se seun Kamal Singhala Gupta onlangs getrou het) en Indië.
Die ZS-OAK het Maandag onverwags op O.R. Tambo-lughawe in Kempton Park geland voordat dit Dinsdag Kaapstad toe gevlieg het. Die straler het minder as 24 uur later weer opgestyg en van die vlugrekords af verdwyn.
City Press het navrae hieroor gerig aan Nazeem Howa, uitvoerende hoof van die Guptas se Oakbay Investments, Gary Naidoo, hul familiewoordvoerder en albei se persoonlike assistente.
Naidoo het geantwoord: “Ons vind dit verbasend dat in ’n tyd waar 7 500 Oakbay-posisies in gevaar is, die media aanhou om groot belangstelling te toon oor waar die Gupta-familie is.
“Laat ons so duidelik soos daglig wees hier. Ons wil nie lopende kommentaar oor die private lewe van die Gupta-familie verskaf nie. Hulle, soos enige ander familie, het die reg op privaatheid en ’n familielewe. Ons vra julle om dié regte te respekteer.”
Die adres vir Accurate Investments, die Guptas se belegger in Tegeta Exploration and Resources in die VAE, wat nou ’n 8%-aandeel in Eskom se steenkoolmyne bekom het, is ’n leë dop van ’n kantoor met geen personeellede nie.
Dié kantoor in Ras Al Khaimah is toe onder ’n laag stof met die meubels in plastiek toegedraai.
Dit is die enigste adres wat op die aandeleregister vir dié beleggingsmaatskappy aangedui word.
Oakbay Investments weier om op enige navrae oor dié “belegger” kommentaar te lewer. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!