Die hartverskeurende keuses wat ma’s moet maak
Tanja Bause – Ek het ’n tyd terug gedink ’n ma – sonder om haar omstandighede te ken en die nodige inligting tot my beskikking – is ’n slegte ma.
’n Twaalfjarige seun het in die oorloopwater van die Goreangabdam verdrink. ’n Duiker het sy liggaam die volgende dag uit die water gehaal. Lede van sy gemeenskap en sy tannie het op die oewer gewag terwyl die soektog aan die gang was.
Sy ma was nie daar nie. Nie omdat sy ’n slegte ma is nie; sy moes ’n keuse maak. Sy is ’n enkelouer en die broodwinner; sy sit kos op die tafel deur vetkoeke en lekkers langs die straat te verkoop. Sy het nog drie kinders by die huis en die keuse wat sy moes maak, is hartverskeurend. Sy moes óf langs die water staan en hoop haar seun se liggaam word uitgehaal, óf sy moes werk toe gaan om vir die oorblywende kinders dié aand kos op die tafel te sit.
Dìt was die keuse, gaan werk sodat jou oorblywende kinders met ’n vol maag kan gaan slaap. Dis iets wat jy kan beheer; jou seun is dood. So wreed soos wat dit klink, is daar niks wat jy vir hom kan doen as jy langs die water staan en wag nie.
Vanaand wanneer jou drie dogters in die kooi lê en slaap, dan kan jy oor jou seun rou en afskeid neem wetend dat die kleintjies se mae vol is.
Ek het onlangs ook met ’n vrou gepraat wat met gestremde kinders werk. Sy vertel hoe sy ingelig is oor ’n vrou in die informele nedersetting wat haar gestremde kind in ’n sinkhuis toesluit. Sy het ondersoek gaan instel.
Die vrou sit haar seun wat erg gestremd is sonder klere in ’n kartonboks en stoot die boks onder haar bed in. Sy sluit dan die deur en gaan werk toe.
Die eerste ding wat deur mense se koppe gaan, is dat dit beslis ’n slegte ma is en iemand wat vir kindermishandeling aangekla moet word. Sy moet gestraf word, maar dis baie maklik om van die kantlyn af te oordeel.
Die ma het verduidelik hoekom sy doen wat sy doen. Sy trek haar seun uit omdat hy geen beheer oor sy liggaamsfunksies het nie en dus seerplekke en ’n uitslag ontwikkel as sy klere byvoorbeeld nat is en hy daarin lê. Sonder klere gebeur dit nie, aangesien die papier in die boks meeste van die vloeistof absorbeer.
Sy stoot die boks onder haar bed in, want as iemand by haar sinkhuis inbreek, sal hulle hom nie sien nie. Hulle sal net haar aardse besittings steel en haar seun uitlos. Hulle sal hom nie verkrag of aanrand nie, want niemand weet dat hy onder die bed is nie.
Sy moet werk toe gaan, sodat sy vir hulle kan sorg. Wanneer sy saans by die huis kom, haal sy hom uit, was hom, smeer room, sit sy doek aan, gee hom kos en versorg hom. Sy sit hom by haar op die bed en gee vir hom al die aandag en liefde wat sy kan en wat hy verdien.
Alles wat sy doen, doen sy om haar seun te beskerm en veilig te hou.
Weer eens ’n keuse wat sy as ma moet maak. Sy kan by die huis bly en hoop iemand gee vir haar en haar kind kos, óf sy kan werk en in staat wees om vir hom kos, room en doeke te koop.
Ek sê nie daar is nie slegte ma’s daar buite nie – ek is wel bewus van ’n hele paar – maar soms, net soms moet ons eers agter die kap van die byl kom voor ons oordeel, die uwe inkluis.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie