Die hele wêreld bestaan nou uit kapitaliste
’n Ekonoom meen ongelykheid spruit hoofsaaklik voort uit onvoldoende onderwys en opleiding, onvoldoende vaardigheidsontwikkelling en werkloosheid.
Christo Luüs – Almal weet ekonomiese probleme en vraagstukke is nie uniek aan ons land nie.
En as ’n mens ekonomiese knelpunte oor tyd ontleed, is daar heelwat van hulle wat maar deurgaans probleme skep, terwyl ander, nuwe probleme ook dikwels opduik wat die meeste ontleders nie kon voorsien nie.
Indien mense op straat gevra sou word wat Suid-Afrika se grootste ekonomiese vraagstuk is, sal daar waarskynlik uiteenlopende antwoorde wees. Maar ek is oortuig die kwessie van “ongelykheid” sal hoog op die lys wees.
Wat baie mense waarskynlik nie besef nie, is dat ongelykheid hoofsaaklik voortspruit uit onvoldoende onderwys en opleiding, onvoldoende vaardigheidsontwikkelling en gevolglik werkloosheid.
Myns insiens bestee baie politici te veel tyd aan die redes vir ongelykheid en te min tyd en energie aan maniere hoe om dit reg te stel.
Baie van ons politici glo natuurlik herverdeling sal die probleem kan oplos – vat van die rykes en gee aan die armes.
Die ekonomie moet groei
Een groot rede vir ongelykheid is onvoldoende (of selfs afwesige) ekonomiese groei. Baie planne is al beraam en strategieë ontwikkel om die ekonomie te laat groei.
Maar die planne faal meestal weens óf gebrekkige toepassing; óf ’n ideologiese verknogtheid aan kommunistiese leerstellings; óf ’n vrees dat “die revolusie” versaak sal word. Ons sien dit nou weer gebeur met Tito Mboweni se jongste groeiplanne.
’n Indeks van die Harvard-universiteit wat die maatskaplike welstand van lande meet, is onlangs uitgereik. Hiervolgens is Suid-Afrika se gebrek aan maatskaplike vordering nie soseer toe te skryf aan armoede nie, maar eerder aan onbevoegde staatsdepartemente en amptenare.
Vir lank het die onderwerp van inkomste- en rykdomverspreiding wêreldwyd maar min aandag geniet. Internasionaal het die meeste ekonome en Westerse politici dit as vanselfsprekend aanvaar dat almal uiteindelik sal baat vind by kapitalisme en globalisering.
Gaping word groter
Branko Milanovic wys in sy 2016-boek Global Inequality op bewyse dat die gaping tussen arm en ryk groter word.
Milanovic glo steeds dat kapitalisme die doeltreffendste manier is om lande en mense uit armoede te lig. Hy voer ook aan dat volgehoue ekonomiese groei ’n voorvereiste is vir die skep van rykdom. Maar hy waarsku nietemin dat groeiende ongelykheid ’n bedreiging inhou vir die demokrasie.
Hy stel dan ook ’n oplossing voor vir die probleem: Oop grense wat arbeidsmobiliteit aanhelp. Ten einde die vrese van ’n land se inheemse bevolking te besweer dat ’n golf van vreemdelinge hulle sal verswelg, stel hy voor dat immigrante wat werk kry in ’n ander land, mindere politieke regte verkry – met ander woorde hulle kry nie volle burgerskap nie.
Xenofobie en die politieke risiko’s van so ’n beleid bly egter groot struikelblokke. Die meeste lande sal waarskynlik nie gou ’n beleid van “oop grense” toepas nie.
Een ekonomiese stelsel
Milanovic het pas nog ’n boek geskryf oor kapitalisme – Capitalism, Alone – waarin hy bewyse voorlê vir sy siening dat – vir die eerste keer in die geskiedenis – die wêreld oorheers word deur ’n enkele ekonomiese stelsel: kapitalisme. Volgens die skrywer was daar ’n daadwerklike ommekeer in ekonomiese stelsels sedert die dae van feodalisme en later Kommunisme.
Daar bestaan wel verskeie vorme van kapitalisme en die stelsel maak steeds baie foute.
Kapitalisme waarborg byvoorbeeld nie stabiliteit nie. China se outoritêre kapitalisme is baie meer kwesbaar vir korrupsie en maatskaplike onrus. In die Weste skep kapitalisme groter ongelykheid en soms oordadigheid.
Maar baie dinge verbeter ook as gevolg van kapitalisme. Laasgenoemde het die voordeel dat dit welvaart skep en die menslike drang na outonomiteit bevredig.
Dit het egter ’n morele prys wat materiële sukses dikwels as die einddoel uitlig. Maar die kapitalistiese stelsel is hier om te bly en ons taak is om dit te verbeter – aldus Milanovic.
Indien ’n mens Milanovic se argumente aanvaar, is baie van Suid-Afrika se ekonomiese beleidsvormers maar redelik agter die golf met hul siening dat kapitalisme ’n uitgediende, ongewensde stelsel is.
Intussen beloop ons staatsbeheerde ondernemings se verliese die afgelope twee jaar (2016-2018), bykans R100 miljard. Die oplossing vir die bodemlose put wat ondernemings (soos Eskom, PetroSA, die Suid-Afrikaanse Lugdiens, die SAUK, Prasa, Transnet ensovoorts) geword het, lê egter en wink: privatiseer/ontknoop/verkoop dit.
Tans lyk dit egter steeds of politieke dogma en verknogtheid aan kommunistiese leerstellings die botoon voer. Ons moet dus aanvaar dat hoër belastings en gebruikersgelde vir nog ’n geruime tyd ons voorland gaan wees.
· Christo Luüs, ekonoom van Ecoquant, is ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie