Die helende krag van plante en bome

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Medisinale plante is reeds sedert prehistoriese tye in gebruik, met meer as 12 000 aktiewe middels wat aan die wetenskap bekend is.

Dié middels werk in die menslike liggaam op presies dieselfde manier as farmaseutiese middels, wat voordelig kan wees, maar ook skadelike newe-effekte, net soos konvensionele medisyne, kan hê.

Die vroegste historiese­ rekords van kruie is in die Sumeriese beskawing gevind waar honderde medisinale plante, insluitend opium, op kleitablette gelys word.

Die Ebers Papirus uit antieke Egipte beskryf meer as 850 plantmedisyne, terwyl Dioscorides meer as 'n duisend resepte met die gebruik van 600 medisinale plante in De Materia Medica gedokumenteer het.

Medisinale plante word wyd gebruik om siektes in nie-geïndustrialiseerde gemeenskappe te behandel - dikwels omdat dit soveel goedkoper as moderne medisyne is. Die jaarlikse globale uitvoerwaarde van farmaseutiese plante was in 2012

reeds meer as US$2,2 miljard.

In Namibië is die bekendste medisinale plant sekerlik die inheemse duiwelsklou wat as 'n potensiële wonderkuur vir vetsug beskou word.

Duiwelsklou word reeds vir eeue deur inheemse volke vir sy medisinale eienskappe gebruik. Hoewel die naam ontstaan het weens die klouagte hakies van die doringvrugte, is dit die sekondêre knolle wat vir sy antiinflammatoriese en pynstillende eienskappe geoes word.

Ook genoem Kamangu deur baie etniese groepe is dit tradisioneel bekend as 'n tonikum wat help met kwale soos borspyn, moegheid, blaas- en verteringsprobleme, asook koors.

'n Aftreksel word ook as pynstiller geneem - veral tydens swangerskap en as 'n salf vir sere. In die Westerse wêreld het dit die afgelope 50 jaar ook bekendheid verwerf as behandeling vir rumatiek en artritis.

Die plant groei in die lente in veral sanderige grond. Verskillende bevolkings van Namibië gebruik 'n salf vir die behandeling van wonde. Swanger vroue smeer die salf aan hul lywe om geboorteprobleme te voorkom.

'n Poeier word ook geneem om geboortepyne­ te verminder, terwyl dit ook ná geboorte gebruik word om verdere pyn te beperk.

Die tee word gebruik vir nier-, ­pankreas-­­, maag-, derm- en galprobleme.

Dié rankplant kom in Grootfontein, Outjo, Otjiwarongo, Okahandja, Gobabis, Karibib, Windhoek, Rehoboth, Maltahöhe, Gibeon, Bethanie, Keetmanshoop en die Warmbad-omgewing voor.

Die eerste kommersiële uitvoer van duiwelsklou het in die 1960's begin en vandag is Namibië verantwoordelik vir 'n groot persentasie van die verskaffing van die plant. In 1977 is duiwelsklou as 'n be­skermde spesie in Namibië verklaar, met permitte wat vereis word om die plant te oes en uit te voer.

'n Groot persentasie van die plant word in die Nyae Nyae-bewaringsgebied in die ooste van Namibië geoes. Dié bewaringsgebied werk nou saam met die ministerie van die omgewing en toerisme om die volhoubaarheid

van duiwelsklou te verseker.

Duiwelsklou is egter net een van verskeie medisinale plante wat in Namibië gevind word. Edward Koenen se omvattende gids oor medisinale en ook giftige plante in die land, Heil- und Gift Pflanzen in Südwestafrika is 'n skatkis van inligting. Hier is enkele voorbeelde van medisinale gebruike van Namibiese plante en bome uit die boek:



Anaboom

Die anaboom groei veral in die riviere in die noordweste van Namibië. Die Damaras kook die bas van die boom en gebruik dit teen diarree. Die bas, blare en die hars word in ander Afrikalande vir oogontsteking, verkoue en ook teen diarree gebruik. Die anaboom kom in Kaokoland, Outjo, Otjiwarongo, Okahandja, Swakopmund, Karibib en Windhoek voor.



Kameeldoringboom

Die kameeldoring kom oor die hele land voor. Die Himbas maak 'n donker tee van die fyngekapte wortels, wat hulle soggens en saans teen hoes drink. Plaasboere gebruik 'n aftreksel van die bas teen diarree.



Mopanie

Die mopanie kom as 'n bos of 'n boom voor. Die Heikum San gebruik 'n basaftreksel teen diarree, terwyl die Damaras die blare vir maagpyn kou. Die Himbas beskou die mopanie as 'n heilige plant, met takke van die boom wat naby die heilige vuur neergesit word. Die Himbas kou die blare en plaas dit dan op oop wonde om bloeding te stop. Die mopanie kom in die noorde van die land voor.



Worsboom

Die worsboom kan tot agt meter hoog word. Die Kavango's kook die bas totdat die water swart word. Die tee word dan daagliks drie keer per dag in dosisse van drie teelepels vir volwassenes teen diarree gegee. Kinders se dosisse word verminder. 'n Poeier wat van die ryp vrug gemaak word, help met die genesing van sere. Die boom groei in die Grootfontein-omgewing en Zambezi­streek.



Vaalbos/Kamferbos

Die vaalbos het silwergrys blare wat warm gemaak, toegedraai en op die bors geplaas word om te help met maagaandoenings, heesheid, asma en brongitis. Die kou van die blare help teen tandpyn. Damaras kou die blare of maak 'n tee wat teen koors, hoes en borsprobleme help. Die bos kom in die Kaokoland, Grootfontein, Outjo, Otjiwarongo, Okahandja, Gobabis, Karibib, Windhoek, Rehoboth en die Bethanie-omgewing voor.



Sekelbos

Die sekelbos is 'n bos wat ook 'n klein boom met lang dorings word. Die Heikum San kou die groen blare teen diarree, terwyl die blare ook help vir absesse en velsiektes. Die kou van die blare help ook teen tandpyn. In ander Afrikalande word 'n aftreksel van die gekookte blare teen spysvertering, diarree en wurms gebruik.

Die aftreksel word voorts gebruik om die vagina mee uit te spoel as behandeling teen geslagsiektes en siektes van die ureter. Die wortel word gebruik om pyn ná geboorte te verminder. Die bas word op slangbyte en skerpioensteke gesit. Die bos groei hoofsaaklik in die noorde van die land.



Teebossie

Die bos groei hoofsaaklik aan die rand van die Namibwoestyn tussen klippe. Die plant word gekook met die tee wat help teen borssiektes. Mense asem ook die rook van die gebrande blare teen borssiektes in. Die tee verminder pyn en help veral teen nierpyn en aambeie. Die kou van die blare help teen tandpyn.Die teebossie groei in die Kaokoland, Outjo, Swakopmund, Karibib, Omaruru en die Maltahöhe-omgewing.



• http://www.namscience.com.na; [email protected]; www. Ncbi.nlm.nih.gov; ethnobiomed.biomedcentral.com; Heil- und Gift Pflanzen in Südwestafrika – Edward Koenen

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!