Die ietermago se stryd om oorlewing

Jacqueline Louw
Die ietermago is ’n ontwykende diertjie en daar is nie baie inligting oor dié soogdiere wat toenemend deur stropers en swartmark- troeteldierhandelaars bedreig word nie.
’n Honderdduisend ietermago’s word elke jaar wêreldwyd wreedaardig vrekgemaak. Na raming verteenwoordig hulle 20 persent van die swartmark-wildlewehandel. Dit beteken dat hulle tans die mees bedreigde dierspesie ter wêreld is. Daar is dus ’n groot gevaar dat hulle heeltemal sal uitsterf.

Skugter ­ontsnapkunstenaars
Ietermago’s, soms ook skubberige miervreters genoem, is baie ongewone diere.
Die tandlose soogdiere is bedek met harde, oorvleuelende skubbe, loop op hul agterpote, gebalanseer deur ’n groot stert, en voed uitsluitlik op miere. Prooi word met hul skerp kloue uitgegrawe en met hul lang, klewerige tonge gevang. Jong ietermago’s word op die wyfie se rug rondgedra. Hulle is nagdiere en slaap die grootste deel van die dag in gate in die grond, of in die blyplekke van ander diere soos erdvarke. Wanneer hulle bedreig word, krul ietermago’s in ’n gepantserde bal op en word sodoende beskerm deur hul skerp skubbe.
Agt verskillende spesies van die diere word in Asië en Afrika suid van die Sahara aangetref. Stroping vir onwettige handel in wildelewe of vir die Chinese medisyne- en kosmark asook die verlies van hul habitat het die diertjies ongelukkig een van die mees bedreigde groep soogdiere ter wêreld gemaak. In Junie 2010 het Chinese doeanebeamptes op bykans agt ton van meer as 2 000 gevriesde ietermago’s op ’n boot op pad na China beslag gelê.
Omdat ietermago’s nagdiere en ook uiters geheimsinnig is, is dit vir wetenskaplikes baie moeilik om hulle in hul natuurlike habitat te bestudeer. Pogings om hulle aan te hou, misluk meestal omdat hulle so ’n ontsaglike aptyt vir enorme getalle lewende miere het en oor uitstekende vermoëns het om te ontsnap.
Daar is dus vele raaisels oor hul gedrag en gewoontes en dié onkunde belemmer bewaringspogings. Daar is min bekend oor die huidige verspreiding en verskeidenheid van die ver­skillende ietermago-spesies.

REST
Die Rare and Endangered Species Trust (REST) is ’n bewaringsorganisasie waar drie ietermago’s op die oomblik onder die wakende oog van Maria Diekmann beskerm en versorg word.
Aan die begin van 2012 het REST ’n Kaapse ietermago-wyfie ontvang. Die span by REST het besluit om haar in die natuur vry te laat, maar voordat hulle dit kon doen, het sy ’n kleintjie gekry. Die wyfie het self na die wildernis teruggekeer, maar het die kleintjie agtergelaat. Katiti (die naam beteken “klein” in Herero), is deur Maria grootgemaak en is nou volwasse. Hy soek elke dag kos in die veld, maar saans keer hy terug na ’n be­skermde slaapplek by REST. Dit was ’n merkwaardige prestasie, want die meeste ietermago’s gaan dood in aanhouding. Katiti is een van net twee ietermago’s ter wêreld wat in aanhouding gebore is en oorleef het.
Alhoewel Maria hom graag ten volle van menslike kontak wil speen en in die natuur vrylaat, is hy ’n waardevolle bron van navorsing. Op die oomblik moet die span by REST hom elke dag volg wanneer hy kos soek omdat die radio-opsporingsapparaat wat aan sy skubbe geheg is nie voldoende is om al sy bewegings te monitor nie. Slegs wanneer hulle ’n sateliet-opsporingsapparaat kan bekom, sal hy vrygelaat word. Maria skryf hul sukses met Katiti daaraan toe dat hul die diere so min as moontlik stres laat ervaar en hulle so na aan hul natuurlike omgewing as moontlik hou.
Maria het onlangs ’n oproep gekry van iemand wat twee ietermago’s wou verkoop.
REST koop nooit diere van stropers nie, omdat dit ’n geldwaarde op hulle plaas. Ná drie dae se onderhandelinge het Maria uiteindelik die verkoper oorreed om die ma en kleintjie in haar sorg te plaas. Sy het aan die man verduidelik dat hulle sou doodgaan in aanhouding en dan in elk geval van geen waarde vir hom sou wees nie.
Op die oomblik veg sy vir die lewe van die wyfie wat baie verswak het ná ses dae in aanhouding deur die wildhandelaar. Sy weier steeds om te eet en daar word nou vir haar lewe gevrees. Die kleintjie word steeds deur sy ma gesoog. Maria het hom ook begin voed en die kans is goed dat hy sal oorleef. Omdat ietermago’s lewende miere eet (volgens Maria is dit nie waar dat hulle termiete eet nie) is dit onmoontlik om kos vir hulle bymekaar te maak. Hulle kan slegs oorleef as hulle self in die veld kan kos soek.

Mundulea Private Nature Reserve
Nóg ’n veilige hawe vir ietermago’s is die Mundulea private natuurreservaat van Otavi wat vyf jaar gelede gestig is om die groot verskeidenheid fauna en flora te bewaar wat in daardie gebied floreer.
Mundulea se hoofdoel is om die biodiversiteit van Namibië se skaars en bedreigde spesies te bewaar. Hulle het onder meer met ’n studie oor die ietermago se seisoenale gedrag, habitat, verhoudings met ander ietermago’s en roofdiere begin. Dit is ’n uiters waardevolle studie in die lig van die gebrek aan inligting oor hierdie vreemde en pragtige diere.
Plaaslike inwoners
REST glo dat doeltreffende bewaring nie sonder die plaaslike gemeenskap kan geskied nie.
Die Herero’s neem ietermago wat hulle in die veld kry na hul hoof of leier en dit word dan vir geluk in ’n vuur verbrand. REST poog om die plaaslike gemeenskap te leer om liewer ’n foto van hulself met die diere te neem en dan weer vry te laat.
Ongelukkig is daar ’n wanbegrip onder Namibiese gemeenskappe dat ’n ietermago ’n sleutel tot rykdom is. In werklikheid is die straf vir die verkoop van ietermago’s swaar en die verkoopwaarde baie min. REST benodig meer personeel en geldelike hulp om met hul bewaringswerk voort te gaan. Benewens die ietermago’s het REST ook ’n erdvark, drie vlakvarke, aasvoëls, arende, uile en ’n duiker.

Probleme
Die verhoogde aanvraag na ietermago’s in die Ooste en die verminderde ietermago-bevolking in Asië beteken dat swartmarkhandelaars nou op Afrika vir voorraad fokus.
Verder is die natuurlike habitat van die diere besig om te krimp. Die huidige droogte maak hulle ook meer kwesbaar omdat daar nie baie gras is om in te skuil nie en dit nou makliker is om hulle te vang.
Almal se hulp word derhalwe benodig om die diertjies van naderende uitwissing te red.
• Bronne: worldwatch.org; restafrica.org; pangolins-namibia.blogspot.com

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!