Die jaar 2016 was maar horing
Francoise Steynberg - Vanjaar is altesaam 47 renosters en 69 olifante in Namibië gestroop. Dié syfer is wel minder as 2015 s'n, maar 2016 was 'n bisarre jaar, ook vir olifante en renosters.
Dit was die jaar toe die streekhoof van die ministerie van inligting- en kommunikasietegnologie in die Kavango-Oosstreek, mnr. Johannes Joachim (59) asook die gerespekteerde skoolhoof van die Senior Sekondêre Skool Simataa in die Zambezistreek, mnr. John Lutibezi (52) van olifantstropery aangekla is. Albei is op borgtog vrygelaat.
Toe die voormalige spandokter van die Brave Warriors, dr. Gerson Kandjii, weer in die hof op Okahao vir renosterstropery verskyn, het hy nie vir sy hofsaak opgedaag nie. Dan is hy boonop op borgtog vrygelaat al is hy vir renosterstropery én moord aangekla.
Lyk my in dié land is dit makliker om borgtog te kry as om jou begroting vir kos te laat klop. As jy vir ''n dak oor jou kop betaal het, is jy gelukkig as jy broodgeld vir die maand oor het.
My hoogtepunt vir 2016 was toe landdros Alexis Diergaardt vier Chinese, te wete mans Li Xiaoliang (32), Li Zhibing (55), Pu Xeuxin (51) en Wang Hui (41) vir 14 jaar tronk toe gestuur het nadat hulle 14 renosterhorings meer as twee jaar gelede by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako probeer uitsmokkel het.
Die nag voor die vier Chinese se vonnisoplegging het ek nie geslaap nie, want ek was so bang die landdros luister na die staatsaanklaer wat aanbeveel het dat die Chinese net ses jaar tronkstraf kry.
Ná die landdros hulle vir 14 jaar tronkstraf gevonnis het, het ons joernaliste van blydskap opgespring en mekaar omhels. Ek het sommer "Alexis vir president!" geskree.
Die nuus van nóg sewe renosterkarkasse wat in November in die Etosha Nasionale Park gevind is, het my woedend gemaak. Ek was nog nie oor die skok nie, toe hoor ek die jong Chinees Ye Zhiwei (28) is op die Internasionale Lughawe O.R. Tambo in Johannesburg met 18 renosterhorings vasgetrek nadat hy van Windhoek gevlieg het.
Hoe is hy deur ons lughawe se skandeerders, is die eerste vraag wat by my opgekom het.
Die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC) het bevestig dat Ye in transit by Hosea Kutako was en “ondersoeke het ook aan die lig gebring dat die onwettige horings by die skandeerders van die passasiertransit-area waargeneem is”.
Die NAC het bevestig dat opvolgondersoeke gedoen word om “te bepaal waarom en hoe die passasier toegelaat is om deur te gaan”.
Ek was nie juis geskok nie. Ons meerderheid Namibiërs is arm, maar wat het van ons trots geword? Dit is maklik vir internasionale sindikate om duisende dollar voor ''n Namibiese voornemende renosterstroper of lugvaartsekuriteitsbeampte rond te swaai.
Ons land se trots en trekpleister vir toeriste is ons vrylopende swartrenosters. As hulle nie meer daar is nie, gaan toeriste nie meer ons land besoek nie.
My raad aan ouers: Vat jou kamera en kinders veld toe en gaan wys vir hulle hoe ''n swartrenoster lyk, want ons trots en erfenis gaan binnekort deur gieriges uitgemoor wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie