Die joernalis se klerekas
Die joernalis se klerekas

Die joernalis se klerekas

[email protected]
Sanet de Waal
Iréne-Mari van der Walt

Die alledaagse doen en late van ‘n joernalis kan soms eienaardig raak. As jy soggens in ‘n koffiewinkel sit en klets voor die kamera en ‘n paar uur later op ‘n ongelukstoneel moet verskyn voor jy na ‘n dinee moet gaan, kan jou kop soms sukkel om die polariteit van die saak te verwerk.

Soms moet jy ‘n atletiekbyeenkoms deur jou kameralens kyk en daar word van jou gevra, “jy moet asseblief net wit aantrek want jy moet soos ons organiseerders lyk. Ons wil nie jou skouers sien nie en jy moet asseblief volgende keer wit tekkies aantrek.” Het ek al ooit wit tekkies besit?

Maar wit drafskoene gaan nie heeltemal die mas opkom wanneer ek opvolg op die ongelukstoneel waar hyskrane tonne metaal rondskuif nie. Op die toneel moet ek veiligheidskoene met staalpunte aantrek. Ek weet verseker dat ek nog nooit so iets besit het nie.

In elk geval dink ek nie Erongo Talk se gehoor sal te veel van die mode hou van kop-tot-tone-wit met veiligheidskoene nie. Ek het al lawwe modes voor die kamera probeer, maar so laf is ek nie.

My gunstelingkleredrag is my rugsak wat permanent oor my skouers of by my voete is. Ek dink gereeld my rugsak is een van daardie towenaarsakke wat bodemloos is. Daar is kamera’s, sonroom, notaboeke, penne, tabelette, slimfone, sleutels, beursies, skootrekenaars, internettoestelle, handeroom, handreiniger, ekstra sokkies, deodorant, kougom, grimering en ekstra maskers op enige gegewe oomblik in my rugsak.

Ongelukkig vir my geliefde rugsak is ouer mans lief daarvoor om vir my te vertel ‘n rugsak is nie geskik vir ‘n dame nie. Ek moet ‘n handsak dra. Ek het nog nooit ‘n handsak groot genoeg vir ‘n kamera en ‘n skootrekenaar gesien nie, maar miskien soek ek nie hard genoeg nie.

“Toe ek nou die aand saam met die polisie op patrollie was, het een van hulle gespot en gesê ek moet ‘n uniform kry na hy my amper misgis het vir ‘n kwaaddoener,” sê ‘n kollega.

“Ek dink as ons ‘n uniform moes kry, sou ons soos Augetto (Graig) met ‘n pet, een van daardie baadjies met die klomp sakke, jeans en tekkies gaan werk het,” praat kollega verder. Diegene wat Augetto al in lewende lywe ontmoet het, sal weet dit lyk eintlik na ‘n gemaklike uniform.

Ek hou van die idee van ‘n baadjie met ‘n klomp sakke, almal het sy eie doel. Daar sal sakke spesifiek vir ‘n notaboek, ‘n pen, ‘n mediakaart, ‘n wegneemkoffie, ‘n slimfoon, en ‘n identiteitskaart moet wees.

Dan moet ons dringend handsakke kry. Groot handsakke. Man of vrou, dit maak nie saak nie, jy kry ‘n handsak. ‘n Baie groot handsak met kompartemente wat al jou noodsaaklike items kan akkommodeer. In ‘n post-covid-wêreld is ek seker ons kan ‘n nut vir die maskerplekkie kry nes ek seker is die kollegas wat nie grimering dra nie ‘n nut sal hê vir die grimering se plekkie. Miskien kan ons UNO-kaarte by ons hou sodat ons kan speel wanneer politici al weer laat is of wanneer die hof vir te lank verdaag vir jou om net daar te wag, maar te kort om gou ‘n koffie by ’n kafee te gaan drink..

Ek hou klaar speelkaarte in my rugsak, maar as daar plek is vir UNO-kaarte of ‘n miniskaakstel sal ons journaliste nooit weer verveeld hoef te wees nie.

Ons sal ’n middelweg moet kry tussen veiligheidskoene en wit tekkies. Dra ons ‘n tekkie aan die een voet en ‘n veiligheidskoen aan die ander? Sal die atletiekgemeenskap ons genade toon om wit veiligheidskoene aan te trek? Ek hoop so, anders is net een van my voete behoorlik beskerm wanneer ek by die hawe of op ‘n ongelukstoneel moet wees.

Nog ‘n belangrike vereiste van die ouer mans wat kla oor handsakke is rompies of rokke. ‘n Denimbroek is nie gepas vir ‘n dame in die professionele wêreld nie. Om ‘n bietjie been te wys, is blykbaar die enigste professionele drag. Hoor jy, Augetto?

Dit sal een van daardie netbalskirts moet wees. Soms wys daar ‘n bietjie te veel been voor die kamera en niemand wil dít sien nie. Ons opsies is netbalrompies of ‘n broekie onder ons rompe. ‘n Lang romp werk nie as jy moet draf nie.

Hierdie is dan die amptelike joernalisuniform. Het ons enige borge vir wit veiligheidskoene?

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!