Die kalf is in die put
Die kalf is in die put

Die kalf is in die put

Helene Bam
Helené Bam – Selfs al volhou inwoners en sakeondernemings in Windhoek om hul waterverbruik met 30% te verminder, gaan al drie damme wat Windhoek en Sentraal-Namibië van water voorsien vóór die volgende reënseisoen leeg wees.
Dít beteken die hoofstad se ewigdurende dors gaan nie gou geles word nie.
Die stad se jaarlikse wateraanvraag is tans 23,6 miljoen kubieke meter, gelykstaande aan 9 440 Olimpiese standaard swembaddens. Met die Omatako-, Von Bach- en Swakoppoortdam leeg, sal NamWater nét 3,4 miljoen kubieke meter, slegs 14,4% van die stad se wateraanvraag, kan voorsien. Dit is naastenby 1 360 Olimpiese standaard swembaddens se water, ? spreekwoordelike druppel in die emmer van wat nodig is.
Dié water sal van Berg Aukas- en die Kombat-myn met ? kanaal tot by die Omatakodam gebring word, waarna dit met ? pyplyn na die Von Bachdam gepomp sal word. Eers dan sal dié water, wat meer as 450 km gereis het, die krane van Windhoek se huishoudings en besighede bereik.
Tydens NamWater se jaarlikse slypskool om die watertoevoer en -bestuur vir Sentraal-Namibië te bespreek, het dit aan die lig gekom dat die verligting wat die Windhoek-munisipaliteit se akwiferprojek inhou ook van korte duur gaan wees en is die projek nie ? langtermynoplossing vir die stad se watertekort nie.
Die akwiferprojek sluit in die boor van dieper gate vir die hervulling van en onttrekking uit die akwifer, asook die installering van pypleidings van die boorgate na die stad se waterreservoirs. As al die beplande boorgate in gebruik is, sal die munisipaliteit jaarliks sowat 8 Mm³ water daaruit kan pomp. Dít is sowat 3 200 Olimpiese standaard swembaddens.
Met die 3,4 Mm³ van NamWater en 8 Mm³ van die akwiferprojek is daar steeds 12 Mm³ water waarsonder inwoners van die hoofstad moet klaarkom.
By die slypskool, wat verskeie belanghebbendes insluitende verteenwoordigers van die ministerie van landbou, water en bosbou, die Windhoekse munisipaliteit, Meatco en Namibia Poultry Indistries (NPI) bygewoon het, is ook bekend gemaak dat die regering gevra sal word om ’n hidrologiese droogte te verklaar.
Volgens ’n verklaring wat ná die slypskool uitgereik is, is ooreengekom dat ’n waterbesparing van 30% voorts van Windhoek-inwoners vereis sal word en die ontsouting van water dringend as alternatiewe waterbron vir Sentraal-Namibië oorweeg moet word.
NamWater het ook gesê Sentraal-Namibië kan ’n afname in die gehalte van water verwag soos die damme se volumes krimp.
Die Von Bachdam sal na verwagting teen die einde van die jaar en Swakoppoortdam teen Mei volgende jaar leeg wees. Tans is daar gesamentlik net 11,9% of 18 524 Mm³ water oor in die drie damme wat Windhoek van water voorsien. Volgens NamWater se jongste damverslag is die Swakoppoortdam tans 10,4% vol, met die Omatakodam op 3,2% en die Von Bachdam op 21,6%.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!