Die Kavangostreek

Gerine Hoff
Dis hier!
(Voeg kaart in)


In ’n neutedop
Die Kavangostreek is in die land se noordooste geleë en ná die Kavangorivier vernoem. Dit is die tuiste van die vierde langste rivierstelsel – ’n volle 1 600 km – in Suider-Afrika. Dit begin in Angola as die Kubangorivier en verder suid vorm dit die grens tussen Angola en Namibië. Daarna vloei dit in Namibië en uiteindelik eindig dit in die wêreldbekende Okavango delta.
Die Kavango is bekend as die tuiste van ’n groot verskeidenheid wild, natuurlike skoonheid en ’n oorvloed vars water. ’n Besoek aan dié streek bied aan besoekers die geleentheid om die land se wonderlike natuurlike skoonheid in sy mees ongerepte vorm te geniet.
Sien dít!
In die Kavangostreek is daar drie gebiede van belangstelling vir besoekers, naamlik die Khaudum-wildpark in die suidooste, Divundu en Popavalle in die noordooste en die gebied rondom Rundu teen die Angolese grens.
• Die Khaudum is een van die laaste werklik ongerepte wildernisgebiede in Suider-Afrika. Vir diegene wat na avontuur soek, bied dié park diep sandspore wat selfs die ywerigste 4x4-entoesias sal laat les opsê. Die pad na die park vanaf Katara in die noorde, is veral moeilik en net diegene met baie ondervinding word aanbeveel om dié pad aan te durf.
Daar is geen formele kampplekke of ablusiegeriewe in die park nie en besoekers moet ten volle selfversorgend wees.
In terme van dierelewe, kan besoekers op die uitkyk wees vir die bedreigde bastergemsbok, kameelperde, elande, koedoes, volstruise, luiperds, wildebeeste, steenbokkies, leeus, olifante en ook wildehonde.
• Bwabwata Nasionale Park staan as die “people’s park” bekend, aangesien dit die tuiste is van beide grootwild en mense. Dié spesiale verhouding baat albei goed, met bewaring en gemeenskapsontwikkeling wat hand aan hand gaan. Besoekers wat van die hoofpad afdraai, moet oor ’n permit beskik en mag net op die aangeduide paaie bly. Daar is drie gemeenskapsbeheerde kampeerterreine binne die park, naamlik Ngoabaca, Nambwa en Bum Hill, met die plaaslike bevolking wat ’n inkomste daaruit verdien.
• As jy op soek is na ’n plek weg van die gewoel, is die Mahango-gebied binne Bwabwata ’n goeie keuse. Hierdie piepklein park is uitstekend vir wildbesigtiging en dit is geensins vreemd om meer as tien verskillende spesies binne ’n uur te sien nie. Die reusekremetart is ’n gewilde aanloklikheid. Maar onthou, dis onwettig om uit jou motor te klim. Alle aard van roofdier is op soek na iets sappig om te vreet, dus moenie eers daaraan dink om vir ’n foto voor die reuseboom te gaan poseer nie!
Moenie hierdie misloop nie!
• Die sendingstasie op Andara is sowat 200 km oos van Rundu geleë en is die tuiste van die Hambukushu-stam. Die eerste sendelinge het in 1909 hier aangekom, maar hulle was nie vreeslik suksesvol in hul sendingpogings nie. Die hospitaal en kerk is egter nog funksioneel, so ook die melkery. In die verlede was daar ook ’n mooi waterwiel wat water uit die rivier geskep het. Ongelukkig het dit vervalle geraak nadat elektriese turbines in gebruik geneem is.
• Popavalle – en nee, dit is nie eintlik watervalle nie, maar eerder ’n reeks versnellings. Wanneer die rivier laag is, is die hoogste sigbare val sowat 3 m. Die N//goabaca-gemeenskapskampterrein is ’n lafenis vir kampeerders. Daar is vier kampeerplekke om van te kies, almal binne ’n paar minute se loopafstand van die versnellings.
• Die Khemu-opemark wat op Rundu geleë is, is die perfekte plek om kunsvlyt aan te skaf, met ’n wye verskeidenheid houtsneewerk wat eie is aan die Kavangostreek. Daarenteen is die Rundu-mark ’n lekker plek om plaaslike kleinhandelaars te ondersteun wat alles, van vars vis en plaaslike vrugte tot tweedehandse klere, CDs en aandenkings, verkoop. Sowat 30 km suid van Rundu is die Ncumcara-kunsvlytwinkel, waar mooi houtitems te koop is wat van plaaslike volhoubare bome gemaak is.
• ’n Vaart in ’n tradisionele uitgeholde kanoe, of makoro.
• As jy hou van visvang, is die Kavangostreek veral bekend vir tiervisse, brasems en varswater snoeke. Meer as 150 spesies vis is tot dusver in die Kavangorivier opgeteken.
• Vir ywerige voëlkykers is dié streek ’n paradys, aangesien meer as 400 verskillende voëlspesies hier voorkom.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!