Die kop en hart van die Afrikanervolk praat saam

’n Reiservaring deur ­Pedro Vorster
Dani Booysen
By die Nasionale Vroue­­monument in Bloemfontein­ is twee boodskappe in graniet gegraveer.
Een is van die leierskap, polities korrek. Een van die volksdigter, die hart van die volk.

By die monument
Julle was die tederes en ons kan biddend staan
Om wat te vind? Teerheid, berusting­, ootmoed? Nee,
Dit sou ’n bitter hou in jul gesigte slaan
As dit sou al wees wat jul dood ons nou kan gee. – NP van Wyk Louw, Januarie 1934.
Die oprigting van die monument, sowat 3 km suid van die sentrale­ sakegebied van Bloemfontein, was kontroversieël, maar uiteindelik is die komitee-uitslag ’n oorwinning­ vir pres. Steyn. Hy dryf die konsep deur vir ’n gedenkmonument­ vir dié wat tydens die Anglo-Boereoorlog­ van 1899 tot 1902 in konsentrasiekampe­ gesterf het. Dit was nie sonder teenstand­ nie. Sy opponente meen die monument­ sou Engeland asook Engelssprekende­ Suid-Afrikaners affronteer en die volk verdeel.
Hoe dan nou? Word daar nie gesê die waarheid sal jou vrymaak nie?
Tydens die onthulling van die monumen­t op 16 Desember 1913 is pres. Steyn optimisties diplomaties­ in sy openingsrede:
“Die monument staan dus hier, nie om haat aan te wakker nie, maar om die liefde te bevorder­; Want ek voorsien die dag wanneer elke deel van die Suid-Afrikaanse­ gemeenskap­ - van watter oorsprong­ ookal . . . deur die monument­ sal verenig en dit as hul gemeenskaplike erfdeel sal beskou.” (Vertaal uit Nederlands).
Hoe vergeet ’n volk die sterftes­ van 27 972 mense wat gedwing is om in uiters haglike omstandighede­ te oorleef? Enige Afrikaner wat op die swart granietpanele­ sy familie se name ingegraveer vind, word emosioneel tot bitter nadenke geskok. Vergifnis­ kom moeilik, maar ’n mens kan nie behoorlik vergewe wat dof en onsamehangend is nie.
Met stomme statistiek word daar strak gefokus op die Boeremense­ se lyding. Dit is nie net daardie geslag wat byna uitgewis is nie, maar ook die generasie wat hulle moes opvolg.
In ’n museumfliek wat gebalan­seer­d probeer berig in die Burgermuseum­ langs die Vrouemonument­, meen ’n geleerde­ dat die Britte nie bedoel het om die vroue, kinders en bejaardes­ in die skandalige kampe uit te roei nie, die kampe was bloot swak bestuur! Wat vir ’n lam verskoning­. Wat noem ’n mens dit as daar voorgeskryf­ word dat kleiner rantsoene aan die vroue, wie se mans nog veg, gegee moet word?
Nee. Kom, laat ons nie doekies omdraai nie.
Die traak-my-nie-agtige­ Britse militêre owerheid het aanvanklik ’n doelbewuste­ verhongeringsveldtog­ in die kampe toegepas, totdat die publieke­ opinie so teen hulle gedraai het dat hulle later moes bontstaan om kamptoestande te verbeter.
Emily Hobhouse besoek die kampe in Suid-Afrika en keer ontnugterd­ terug na Engeland­ waar sy ongewilde nuus rapportee­r. In Suid-Afrika is sy willens en wetens weerhou om Bethulie te besoek, een van die afgryslikste­ kampe waar daar 1 200 babas, kleuters, tieners, dogters, seuns, vrouens en bejaardes sterf binne ses maande.
Hoe sien ’n mens nie dat iemand verhonger nie? Hoe raak sterftes – van siektes wat kon verhoed gewees het deur basiese sanitasie­ en medikasie – jou nie aan nie?
By die monument aan die voet van die 37 m hoë sandsteen senotaaf­ is Hobhouse se as, op eie versoek, in 1926 begrawe. In die oop spasie wat die monument­ se twee boogarm-skutmure skep, is pres. Steyn, sy vrou, Tibie, eerw. Kestel en generaal De Wet ter ruste gelê.
Die oorspronklike monument is ontwerp deur die argitek Frans Soft. Die beeldhouer Anton van Wouw was verantwoordelik vir die vrouebeeld.
Daar is onlangs ’n gedenkmuur­ opgerig vir die gestorwe swart Suid-Afrikaners wat ook in konsentrasiekampe­ aangehou is, onder toestande erger as dié van die Boere. Uit die 140 514 wat in kampe­ hokgeslaan is, sterf ’n beraamde­ 24 000.
Die persentasie kindersterftes­ in die kampe vir beide bevolkingsgroepe­ is oor die 80%.
In die Burgermuseum is daar ’n foto van twee verslonste banneling­ Boerekinders wat albaster­ speel. Hulle­ kyk skaam vir die kameraman­, asof hulle in ’n stoutigheid betrap is.
God wat albasters speel met die planete, sou verstaan.
Die 22 074 kindersterftes­ in die Suid-Afrikaanse­ konsentrasiekampe­ is hartverskeurend­ en kon verhoed gewees het.
Die verbande, verwaarloosde seuns was die gelukkiges.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer